Sy is mooi, stylvol en slim – Thulisa Keyi, gebore in Oos-Londen, vanjaar se Mej. Wêreld Suid-Afrika, is druk besig om onder die wakende oog van die fiksheidsafrigter Letshego Zulu gereed te maak vir die Mej. Wêreld-wedstryd op 8 Desember op China se Hainan-eiland.

“Mej. Suid-Afrika was die eerste skoonheidswedstryd waaraan ek deelgeneem het. Ek het dit gedoen om ’n platform te kry vir my boodskap dat onderrig vroue en die jeug bemagtig – en dít bring verandering mee.”

Sy is besig met haar internskap as rekenmeester ná haar studies aan die Universiteit van Kaapstad. “Ek wil tydens my jaar as skoonheidskoningin vroue aanmoedig om hul drome na te jaag. Ek wil hulle inspireer om hulself te aanvaar en om deur gemaksones te breek. Dit is moontlik om drome waar te maak.”

FOTO Instagram/ Thulisa Keyi

Haar definisie van skoonheid is om onselfsugtig te wees en vir ander om te gee – om ’n verskil te maak. “Jy moet ’n lewensdoel vervul.” Sy glo daar is baie Suid-Afrikaners wat dít regkry en glo in ubuntu  dat mense ’n behoefte het om mekaar te ondersteun en help. “Ek is trots daarop om Suid-Afrikaans te wees. Ons het ’n ryk kultuur. Dit is belangrik dat ons reënboognasie ons magdom geleenthede benut en saamstaan.”

Thulisa was nog nooit in China nie en sien baie uit na dié geleentheid. “Ek werk saam met die choreograaf Ryan Hignett wat my afrig vir ’n dansitem. Ek werk ook aan ’n Beauty with a Purpose-liefdadigheidsprojek en my Mej. Wêreld-skoonheidsfoto’s is afgehandel. Werner Wessels is my kreatiewe direkteur. Hy skep ’n gemaklike, stylvolle voorkoms vir my. Die rok wat ek by die kroningsaand sal dra, is eenvoudig, maar elegant.”

FOTO Instagram/ Thulisa Keyi

Werner sê dit is maklik om vir Thulisa te stileer. “Sy is oop vir voorstelle, haar styl is klassiek en sy lyk so goed in kleur. Sanya, die stad waar die Mej. Wêreld-geleentheid aangebied word, staan as die Hawai van China bekend. Ons gaan baie blompatrone in tropiese somerkleure – geel, blou, groen en oranje – vir haar uitrustings inspan. Sy is elegant, vroulik en gesofistikeerd. En sy is ernstig oor haar beroep. Haar toegewydheid wys in haar modestyl. Sy gaan nie te sexy lyk nie. Thulisa wys dat iemand wat jonk is en ’n pragtige lyf het, nie alles ten toon hoef te stel om aandag te trek nie.”

Thulisa sê haar ma is een van haar grootste rolmodelle. “Sy is sterk, ’n vasbyter, sorgsaam en empaties.” As jong meisie het Thulisa ook suksesvolle sakevroue bewonder. Sy glo haar lewenspad is beplan en hoewel sy eendag graag sal wil trou en ma wees, fokus sy nou eers op haar loopbaan.

En haar skoonheidswenke? 

“Nadat jy lipstiffie aangewend het, sit jou wysvinger in jou mond en trek dit uit. Dit verseker dat daar nie oortollige lipstiffie agterbly en op jou tande sit nie.” 

Sy eet baie proteïene en groente om sterk en gesond te bly en te help dat sy haar fiksheidsprogram kan volg.

Sy versorg haar naelvliese met Africology ... en sy glo ware skoonheid straal uit jou hart uit.