"Die Melanie agter haar lessenaar lyk heeltemal anders," sê Melanie.

Rocker Arno Carstens se sexy swartkopvrou is wat ’n mens ’n hardwerkende WAG noem. Dié voormalige bemarker met ’n ellelange lys akademiese kwalifikasies bestuur haar man se loopbaan.

“Ek beplan sy jaar strategies, hou sy dagboek by, bespreek sy optredes, onderhandel met musikante, beplan reise en hanteer die media en ook sy aanlyn-handelsmerk op Facebook, Myspace, YouTube, sy blog, webtuiste en soundcloud. Ek onderhandel met sy internasionale bestuur en doen die skakelwerk met sy platemaatskappy en reklamebeampte.”

In Arno se Londense kantoor deel sy werkruimte met die mense wat Lady Gaga, Madonna,The Rolling Stones en U2 se toere reël. Hoe cool is dit? vra sy.

Maar die lekkerste is om Arno se beste maat te wees. En nee, sy neem geen vrou kwalik wat haar by ’n show aan Arno se voete wil vlei nie.

“Hy is immers hot!” Sy vertel hulle het vir ’n paar jaar soms vir nie langer as twee weke op een plek gebly nie. “Toe my tas se wiele een keer op die lughawe afval, het ek vir Arno gesê, Baby, dis ’n teken . . . die wiele kom af. Nou is ons huis in Kalkbaai in die Kaap ons basis.”

Melanie voel nie soos ’n kolligmens nie: “Hierdie is die eerste onderhoud wat ek tot dusver gedoen het!” Sy is bewus van die kameras op haar as sy op die rooi tapyt langs Arno verskyn . . .

Sy dra graag jeans van Sevens for all Mankind en Mojo van TopShop. Onlangs moes sy 18 paar skoene uit Amsterdam huis toe pos.

“Natuurlik is dit lekker om oorsee te shop! Ek is lief vir Londen se High Street, New York se punk scene en retro-winkels en in Parys is alles begeerlik. My gunsteling is die knusheid van Luxemburg met sy klein ontwerperswinkels.”

Vir meer oor SA se WAG's soos Louis Fish, Gina Ahtans en Dunay Darren, koop die September-uitgawe van SARIE.