Sy is so ’n klein, fyn enetjie. Kop skaars tot by ’n mens se skouer. Grote bos hare wat lekker wild om haar gesig hang - ’n bos hare waarop sy baie trots is. Melanie Du Bois - Felicity in 7de Laan - sien uit na haar volgende groot rol. Dié van ma. Sy vryf heeltyd oor haar magie. Met ons onderhoud is sy al ses maande swanger, maar dit lyk soos net drie. In die volgende uur drink sy twee liter-bottels water en loop verskeie draaie. Onteenseglik verwagtend.

Elsa Krüger, wat die skakelwerk vir 7de Laan doen, som haar op: “Sy is skugter, maar baie sterk, dis duidelik. Stillerig. Sy is ’n slimkop. En vreeslik sjarmant.” Danie Odendaal, vervaardiger van 7de Laan en bekend daarvoor dat hy sy akteurs met groot respek en menswaardigheid behandel, praat net met groot lof van haar. “Melanie is altyd ’n vreugde om mee te werk omdat sy so vreugdevol en positief en dapper is. Afrikaans is nie haar eerste taal nie, maar sy het nog nooit toegelaat dat dit tussen haar en ’n goeie vertolking kom nie. Met haar ondeunde sin vir humor lig sy enige toneel waarin sy werk. “Verder help dit natuurlik dat sy beeldskoon is ... Watter man kan nou daardie groot, blink, swart oë of haar onnutsige glimlag weerstaan?”

Wel, die twee Meintjies-broers in 7de Laan kan beslis nie. Teen die tyd dat jy dié artikel lees, is die liefdesdriehoek tussen Vince, Xander en Felicity goed aan die kook. Jacques Blignaut (Vince) het die volgende te sê: “Ek dink nie Vince weet so mooi hoe om ’n verhouding met haar te hanteer nie. Hy weet sy broer sal dalk ’n beter boyfriend wees, maar hy weet ook dat hy nie ’n wonderlike meisie wil verloor nie. Melanie is een van my gunsteling-mense op stel. Sy is pragtig en baie snaaks.” Theodore Jantjies (Xander) voel min of meer dieselfde: “Mel is baie professioneel en werklik ’n goeie aktrise. Ek leer baie hy haar en sy het ’n innerlike skoonheid wat haar ’n baie mooi mens maak. Ons lag baie - sy is eintlik ’n baie snaakse mens. Hoe sal ek dit nou stel? Sy is as mens ’n engel uit die hemel, pragtig van buite en binne.”

Wat het Melanie self te sê oor die liefdesdriehoek? Wag maar en sien ... Die reeks het mos sy manier om dinge op ’n anderste manier te laat gebeur. Phyllis Green, wat die foto’s van Melanie en haar man, Regi, geneem het, meen sy’t lanklaas ’n paartjie teëgekom wat so ooglopend tuis voel bymekaar. “Dis asof daar amper ’n ‘gloed’ om hulle hang. Benewens ’n klaarblyklike liefde is daar ook die gemak van ou vriende, mense wat mekaar vertrou.”

Die swangerskap is nou duidelik die belangrikste in jou lewe?
Sjoe, ja. Ons het regtig lank probeer. Verskeie vrugbaarheidsbehandelings wat nie gewerk het nie. Dié enetjie is die resultaat van in vitro-bevrugting en ons is baie opgewonde. ’n Klein wonderwerk in ons lewe. Maar dis ook maar goed moeilik, hoor! Al die ekstra hormone . . . Ek huil sommer oor niks. Of raak in die middel van die nag lus vir toast.

Wat van aanpassings in jou lewe met die baba?
Natuurlik sal ’n mens bietjie aanpas, ek weet darem nou al dat die begin nogal moeilik kan wees. Jou slaappatroon verander, en daar is groot verantwoordelikhede wat bykom. Ek dink egter ook dat die baba by jóú lewe moet aanpas, dat ’n mens nie nou skielik alles omver kan werp en jou hele lewe net om die kind laat sentreer nie. Ek gaan dus probeer om hom of haar so natuurlik as moontlik in ons lewe in te wy.

Het julle al aan name gedink?
Ja, ’n hele paar. As dit ’n dogtertjie is, sal ek haar graag Angelique wil noem. Of Kim, na een van my beste vriendinne. En as dit ’n seuntjie is,  Joshua. ’n Sterk, maar sagte naam. Ek het nou al geleer dat sterk mense nie harde mense is nie, soos ’n wilgerlat. Probeer maar ’n wilgerstingel breek, dis baie moeilik. Terwyl ’n stuk harde hout nét so kraak. Maar wat, ek wil eintlik eers wag om die baba te sien voor ek besluit. Dalk bestel hy of sy ’n ander naam!

 GUNSTELINGE

KOS: Garnale (voor die swangerskap) en nou: roosterbrood en groente
DRANKIE: Voor: Jack Daniels en sjampanje. Nou: Water, baie, baie water!
PLEK: Langebaan in die Kaap
MUSIEK: R&B, soul, indie
BOEK: Angela’s Ashes deur Frank McCourt
FLIEK: Enigiets met Julia Roberts of Halle Barry
AKTEURS: Sien bo. Ook Denzel Washington
PLAASLIK: Michelle Botes
GEUR: Die reuk van die lug net voor die reën, en dié van grond net ná die reën.

Ek lees iewers dat jy twee kinders wil hê, maar jou man ’n hele sokkerspan?
Dis heeltemal reg! Ek kan Regi nie verstaan nie, hy is ’n onderwyser en werk heeldag met kinders, maar hy kry nie genoeg nie. Ek sien nie kans vir so baie nie . . .

Vertel ons van Regi?
Hy is my anker. My sielsmaat. Ons is al vyf jaar getroud. Ek weet eerlikwaar nie wat ek sonder hom sal doen nie. Hy is die toonbeeld van wat ’n werklike mens moet wees. Hy gee onderwys vir graad 7’s. Maar ook rekenaaropleiding vir almal vanaf graad 1. Hy het ’n totale passie vir kinders. Regi is een van daardie mense wat geroepe is om onderwys te gee. Hy help ook by ’n gemeenskapsprojek wat met eerste oortreders werk.

Wat gaan aan in die gemeenskap?
Dit lyk vir my of onse mense, ons kinders, bietjie sukkel om die regte rolmodelle te kry. Hulle is jonk, tieners, hoogs beïndrukbaar - en dis die gangsters wat hulle bewonder, wat hul rolmodelle is. Die ouens met die groot, blink karre en die baie juwele. Dis groot werk om hulle ’n ander lig te laat sien. Mense soos Regi-hulle is dus nie net onderwysers nie, hulle is sielkundiges, beraders, verpleegsters. Ek wens só die regering wil beter omsien na die onderwysers, hulle meer erkenning gee. Hulle werk tog met die jong goud van die land - die jeug. Ek het wel moed as ek na Naledi Pandor (nasionale minister van onderwys) kyk. Sy was self ’n onderwyser, sy weet wat die probleme en die uitdagings is.

Sien jy jouself as ’n rolmodel vir jou gemeenskap?

Ek probeer. Ek hoop dit wys dat ’n mens verder kan gaan in die lewe deur net jouself te wees, deur hard te werk, dat die “vinnige” roete nie altyd die suksesvolle een is nie.

Dink jy vandag se tieners kry swaarder as in die verlede?
O, beslis. Beslis. Aan die een kant is daar soveel meer moontlikhede, kieskanse. As ’n mens so jonk is, kan jy maklik oorweldig voel. Maar aan die ander kant is daar ook soveel meer gevare. Nie net dwelms en misdaad nie, hoewel dit deesdae - veral in ons land - ’n geweldige rol speel. Deesdae kry kinders baie swaar. Ek sien dit om ons. En dis asof die grootmenswêreld hom al hoe minder aan hulle steur. Hulle is dan ons môre. Hulle is wat ná ons kom. Hulle moet net leer om hul eie identiteit te leer vertrou. Maar dis soms moeilik om daardie identiteit te vind.

Jou hare, hoekom het die style so verander?
Ek hou van my wilde hare! Groot en natuurlik. Ek het op stel eers vlegsels gehad, en toe ’n weave, en later ’n pruik. Maar al die spesiale behandelings kan jou hare vreeslik laat breek, veral as hulle dit eers begin stryk. So, eendag toe gaan ek na Danie en vra hom mooi: Ek wil met my eie hare speel. Ek hét mos hare! Dis deel van mý identiteit, van wie ek regtig is. Hy het dadelik ingestem. My mense kan so maklik skaam voel omdat hul hare growwer of groter is. Mense met dun, fyn hare wil altyd woeste bosse hê, en andersom.

Vertel van jou grootwordjare en jou gesin?
Ek het in Riverlea, Johannesburg, grootgeword. Ek het die grootste deel van my skooljare aan die St. Catherine’s-kloosterskool in Florida deurgebring. Ek dank God elke dag dat ek geseën is met die ouers wat ek het. My ma, Catherine, en my pa, Bennett. Hulle het werklik baie opofferings gemaak - vir my - sodat ek met reg kan sê hulle het ’n reuse-rol gespeel ommy te kry waar ek vandag is. Ek het twee ouer susters, wat my ook daagliks inspireer. En ek het die drie oulikste, mooiste nefies en die lieflikste klein niggietjie, wat nogal op my verjaardag gebore is. Ek is uit en uit ’n familiemens. En dat ek nou my eie gesin gaan begin, ai, dis soos ’n groot droom wat waar word. En ek het twee honde.

Gee jy mense-name of dinge-name vir jou troeteldiere?
Mense-name. Hulle is mos soos jou vriende. En hulle is ook deel van my gesin. Ek gaan stap elke middag met Zandi en Zeta - dis omtrent die enigste stokperdjie waarby ek uitkom.

Het jy drama studeer of iets anders?
Ek het soos alle goeie kinders na my ma geluister en iets “ordentliks” gaan studeer. Personeelbestuur. Maar die drama-gogga was maar altyd daar. So, ná my studies het ek ingeskryf vir drama aan die Trinity Kollege in Johannesburg, hul eksaminators kom elke jaar uit Engeland.  En so, op 25, kry ek toe my eerste rol as ’n soul buddy in Soul City! Ek het soos ’n kind gelyk en gevoel. Ek onthou as mense my sien, dan sê hulle: “Haai, maar jy’s dan ’n grootmens!” En toe kom 7de Laan, wat vir my baie goed is.

Maar jy lyk steeds soos ’n jong soul buddy!
Ek is al 34.

Hoe sien jy jou veertigs, of dink jy nog nie daaraan nie?
Ek dink eerlik nog nie eintlik daaraan nie. Ek takel elke dag soos hy kom.

Wat gebeur met jou rol in 7de Laan?
Ek gaan vir vyf maande met verlof, dan sal die kykers my nie sien nie. Maar Danie het net eenvoudig geweier om nog ’n baba in die reeks in te skryf, wat ek heeltemal verstaan. Dis ook moeilik met ’n baba op stel, dit het ons nou al gesien. So, nee, Felicity gaan nie verdwyn nie! Sy gaan net bietjie “weg”. Ek gaan dan ook bietjie meer tyd kry om aan my man en my kind te wy.

Wie is jou rolmodelle - in 7de Laan, maar ook daarbuite?
My gunsteling-karakter in 7de Laan is Sandra Stutterheim. Sy is ’n sterk vrou met ’n hart van goud. Sy is ook nie bang om te kry wat sy wil hê nie. Andersins is my ma my rolmodel. Sy was dwarsdeur my lewe my steunpilaar.

Hoe het jy in 7de Laan beland?
Ek het maar soos die meeste ander ’n oudisie gaan doen, en tot my groot verbasing die rol gekry.

Wat doen jy in jou vrye tyd?
My familie is baie belangrik vir my. En ek is nie eintlik iemand wat stokperdjies het nie, so, ek probeer soveel tyd as moontlik saam met hulle deurbring.

Droom jy van ’n groot rol?
Op die oomblik kan ek regtig aan niks anders as moederskap dink nie. Ek dink in elk geval dit gaan die grootste rol wees wat ek nóg sal kry om te speel!

Het die mense op stel jou ondersteun?
Ja, baie. Veral Ingrid Paulus (Vanessa) en Aubrey (Vanessa se oorlede kind, gespeel deur Caleb Abrahams). Ingrid is soos my mentor. Ek bel haar oor die kleinste goedjies. “Ingrid, my maag jeuk dan nou so, is dit natuurlik?” Waarop sy net sal antwoord: “Ja, man, jy is mos besig om te groei!”

Jy het netnou van Dan Brown se The Da Vinci Code gepraat. Wat het jy daarvan gedink?
Ek is Rooms-Katoliek, en was erg skepties en selfs skrikkerig om die boek te lees. Maar toe kom Regi een aand en plonk die boek in my skoot en sê: “Lees dié. Jy sal dit geniet.” En ja, ek het. Dis goed om so nou en dan die dinge te toets wat aan jou bekend is.

Wat beteken jou geloof vir jou?
Ek dink geloof is ’n uiters persoonlike, en belangrike, ding. Dit gaan oor jou verhouding met God. Maar veel meer as dit, dit gaan ook oor jou verhouding met jou gemeenskap. En oor die verhouding met jou omgewing, fisiek en natuurlik. Ja, ek is gelowig.

Het jy jou eie lewensidioom? ’n Sogenaamde motto?
If you don’t stand for anything, you fall for everything. As ’n mens bang is om standpunt in te neem, of om dít waarin jy glo te verdedig, verkoop jy jouself maklik uit.

En in ’n parallelle heelal, wat sou jy doen?

O, ek sou beslis ’n belly dancer in Indië wou wees! Veral noudat ek hierdie magie het.