“Ek en my man, Regi, moes onlangs besluit of ons ’n kind gaan aanneem. Ons wil graag nog ’n kind hê, maar die in vitro-bevrugting wat ons vir ’n tweede kind probeer het, was twee keer onsuksesvol. [Sy het vier jaar gelede ’n dogtertjie, Roxy, gehad, ook ná in vitro-bevrugting.]

Ek gesels gewoonlik met ’n klomp mense voordat ek ’n groot besluit neem. Baie van die mense met wie ek gesels het wat al kinders aangeneem het, het positiewe ervarings gehad.

Regi was ook reg om ’n kind aan te neem. Maar toe ek daaroor moes besluit, het my gut vir my gesê ‘nee’. Ek het gevoel as ons ’n kind aanneem, maak ek die deur toe om my eie kind te hê. Ek vat gewoonlik my tyd voor ek ’n besluit neem. Dis hoekom ek en Regi sewe jaar gewag het om te trou!

Ek wil soveel moontlik inligting hê voordat ek groot veranderinge aan my lewe maak – ek wil al die voordele en nadele teen mekaar opweeg.

Ek voel wanneer ek dan ’n besluit neem, is die kans kleiner dat ek ná die tyd spyt gaan wees. As ek eers ’n besluit geneem het, hou ek daarby. Met die aanneming was dit een van die min kere dat ek my instink vertrou het.

Ek dink dit is omdat dit so ’n emosionele saak was. Uiteindelik het ons teen aanneming besluit, en ek is tevrede dat dit reg was. Dalk verander ek van plan in die toekoms. Vir nou gee ek al my aandag aan Roxy.”