EK HOOP
vir ’n seuntjie. Maar ’n dogtertjie is ook perfek . . . as ons net so gelukkig is om ’n gesonde kind te kry. Ons is mal oor die buitelewe, ek sien nou al hoe lekker gaan kamp ek en Regi met daai twee!
ek inspireer ander vroue wat sukkel om swanger te raak. Ek het soveel oproepe gekry van vroue wat raad soek nadat Roxy gebore is. Ek sal in vitro beslis aanbeveel, al is dit emosioneel uitmergelend. Die onsekerheid was vir my geweldig stresvol. Dis nie maklik nie, en dis nie gewaarborg nie, maar moenie hoop opgee nie! ek sal hierdie keer beter vir my man sorg! ’n Mens vergeet net omdat hy nie self daardeur gaan nie, beteken dit nie dis nie vir hom ook moeilik nie. Die spanning het druk op ons verhouding gesit. Regi was fantasties, altyd daar vir my, maar ek weet hy was ook bang en het soms soos ’n hulpelose buitestander gevoel. Soms het ek tien emosies in een minuut beleef, en hy moes meestal daaronder ly. om eendag vir Roxy te leer: Glo in jouself, jy het die krag om te doen wát jy ook al wil. EK IS BANG
die prosedure misluk. Dis my grootste vrees op die oomblik. Ons bid maar om hierdeur te kom. Ek kry nou hormonale inspuitings. Ná twee weke, as my eierstokke voldoende gegroei het, word die eiersakkies geoes. ’n Paar eiers word bevrug met Regi se sperm. As dit goed groei, word dit teruggeplaas in my baarmoeder. Die vorige keer was die eerste groeislag ’n mislukking. Ek was heeltemal platgeslaan. Ons was eers met die tweede probeerslag suksesvol. vir die inspuitings. Ja, ek is ’n regte ou scaredy cat, ek’s bang vir pyn. Maar Jo (da Silva) en Vuyelwa (Booi) help my – ek knyp net my oë toe. In die eerste week kry ek elke dag een inspuiting, en die tweede week twee per dag – in die maag. Voor Roxy gebore is, het ek gewonder: Is ek regtig reg hiervoor? Selfs daarna was ek angstig: Wat het ek aangevang? Ek was onseker. Sy het koliek gehad en ek het nie dadelik met haar ’n band gevorm nie. Niemand het my vertel dis eintlik normaal om so te voel nie, en dat dit nie hierdie lieflike wit lig is wat jou kind omring nie! WAT EK GELEER HET
Ná twee buisswangerskappe (albei my fallopiese buise is verwyder) was ek ’n emosionele wrak, ek het gedink ek sal nooit swanger raak nie. Ek het gevoel ek is nie ’n vrou as ek dit nie kan regkry nie. Vandag besef ek dis laf, maar dán glo jy dit. Die twee babas wat ek verloor het, is vir my baie werklik. Die verlies sal altyd daar wees. Ek moes myself meer tyd gegun het om te rou, maar ek was desperaat vir ’n kind – ek het binne twee maande met in vitro begin. Sonder my man en familie sou ek nooit daardeur kon kom nie. Regi het my ondersteun, my ruimte en begrip gegee. In die eerste drie maande van my swangerskap was ek heeltyd naar, bleek en anti-man. Hy mag nie naby my gekom het nie! En arme Vince (vertolk deur Jacques Blignaut) wat so ’n lieflike ou is . . . ek kon dit nie verduur as hy my soen vir ’n toneel nie. Dis die hormone! Ek is gebore om ’n ma te wees. Roxy is wonderlik. Dis ’n oorweldigende drang by my om nog ’n kind te hê – ek voel al ’n jaar lank so. Maar Regi wou nie hê ek moes weer daardeur gaan nie. Mettertyd het hy besef ek is werklik gereed, ek wíl dit hê. Roxy ook, sy kan nie wag nie. Sy vra altyd: “Mamma, is daar ’n baba in jou maag?” Ons het dit nog nie deurgesels nie, maar ons sal ook aanneming oorweeg om ons gesin te voltooi. Ons besef die prosedure kan dalk misluk, maar ons is positief. Ek is hierdie keer anders ingestel: My liggaam is gesonder, ek is nie pas deur twee operasies nie, ek is baie minder desperaat en onkundig. Wat gebeur, sal gebeur. Ek het gedink ek is iemand wat gou tou opgooi. Ek het nie baie geloof in myself gehad nie. Nou weet ek dat ek tóg my ma, Cathy, se innerlike krag geërf het. Ek het deurgedruk. Ma-wees het my verander. Ek is baie wyser – ek het grootgeword.