Dit was die ontmoeting van twee van Suid-Afrika se mooiste vroue: Prinses Charlene en Lynne de Jager, Mev. Suid-Afrika. Die Emperors Palace Charity Mile, 'n liefdadigheids-perdewedren by Turffontein, het Prinses Charlene weer na ons land gelok. Dis hier waar Mev. Suid-Afrika, Lynne de Jager, haar ontmoet het. Ons het haar 'n paar vrae hieroor gevra:

Vertel bietjie oor die omstandighede rondom jou ontmoeting met Prinses Charlene.

Ek is genooi deur Emperors Palace as een van die sestien celebs by hul Charity Mile. Elkeen van ons het met ‘n trekking ‘n liefdadigheidsorganisasie asook ‘n perd gekry wat ons op 3 November by Turffontein verteenwoordig het.

In ‘n spesiale resies het ons perde teen mekaar gehardloop en Emperors Palace het Prinses Charlene as eregas gekry om die R550 000 aan die verskeie organisasies te oorhandig.

Ons was gelukkig genoeg om die hele naweek saam met haar te spandeer en verskeie funksies saam met haar by te woon.

Wat was jou indruk van haar?

Sy is beeldskoon! So plat op die aarde en natuurlik!

Wie was saam met haar?

Haar sekuriteitswagte van Monaco was oral om haar en dit was redelik moeilik om by haar uit te kom. Haar ouers en persoonlike assistant was ook saam.

Waaroor het julle gesels?

Ek het haar gevra of sy Suid Afrika mis. Sy't dadelik geantwoord dat sy braaivleis mis! Sy het ons ook vertel van die Grand Prix wat in Monaco plaasvind.

Het sy jou spesifiek oor iets uitgevra?

Sy het gevra hoe my ampsjaar was en of ek al kinders het. Sy het my ook sterkte toegewens met Mev. Wêreld waaraan ek gaan deelneem

Vertel meer van jou ampsjaar. Wat is die hoogtepunte en laagtepunte. Is die ontmoeting met Prinses Charlene een van jou hoogtepunte?

Een van my hoogtepunte is definitief die ontmoeting met Prinses Charlene. ‘n Ander hoogtepunt vir my is dat ek hierdie jaar vir die liefdadigheidsorganisasie wat ek ondersteun  – “The Hunger & Thirst Foundation” – meer as R400 000 ingesamel het.

‘n Laagtepunt is dat ek my liewe man en my besigheid baie afgeskeep het met al my verpligtinge wat ek hierdie jaar gehad het. Maar gelukkig het Wilhelm en ek die geleentheid as ‘n belegging vir my loopbaan vorentoe gesien en het hy my die kans gegee om te ontwikkel! Ek het ‘n wonderlike man!

Wat lê nog vir jou voor as Mev. Suid-Afrika?

Ek het reeds my kroon oorhandig aan die nuwe Mev. Suid Afrika, maar ek is vreeslik opgewonde om Suid-Afrika by die Mev. Wêreld-wedstryd te gaan verteenwoordig.

Wat het jy sover uit jou ervaring as Mev. Suid-Afrika geleer?

Dit was ‘n ongelooflike jaar! Ek het soveel kontakte opgebou en geleenthede gehad wat ek nie onder normale omstandighede sou gehad het nie. Die grootste les wat ek geleer het, is dat mens nooit ander mense moet oordeel nie en dat daar altyd ‘n rede is vir alles!

Watter boeke lê op dié stadium op jou bedkassie?

Ek het hierdie jaar nie regtig baie tyd gehad om te lees nie – so geen storieboeke nie. My Bybel en dagboek lê op my bedkassie. Ek skryf so nou en dan my ervarings van hierdie jaar daarin.

Wie is vir jou 'n inspirerende vrou – plaaslik of internasionaal? En hoekom?

My eerste keuse sal altyd Prinses Diana wees. Gesofistikeerd, elegant, ‘n goeie ma met ‘n hart van goud wat net altyd gegee het – dit sal vir my lekker wees as ek eendag so ‘n “legacy” kan agterlaat.

As ek iemand huidiglik moet kies, dan het ek ‘n paar...
1.      Kim Kardashian is ‘n groot inspirasie as dit kom by klerekasbeplanning.
2.      Heidi Klum natuurlik vir daardie ongelooflike lyf.
3.      En definitief my skoonma as dit kom by familie, die uitkyk op die lewe en liefde uitdeel.