Die aktrise Michelle Botes is terug in Binnelanders en vertolk weer die rol van die prokureur Ingrid Jordaan – ’n karakter wat nes Michelle deur baie seer gaan.

In die sepie is Ingrid se jong seun, Ethan, ernstig siek ... ’n storielyn wat Michelle se eie lewe weerspiëel. 

’n Toneel uit Binnelanders: Ingrid (Michelle Botes) moet oop kaarte speel.

In SARIE se Februarie 2020-uitgawe (nou te koop) maak ons voorbladster vir die eerste keer oop daaroor in ’n onderhoud met Delia du Toit. Hier volg ’n kort uittreksel:

Maar net toe sy beter begin voel, het die lewe haar nog ’n harde hou toegedien. Haar seun, Daniel (26), het kanker gekry. “Skielik was ek gedwing om oor te gee, om te leer die lewe is nie in my hande nie. Jy kan niks doen om dit beter te maak nie, jy kan maar net daar wees vir jou kind. Daniel, toe 22, het by my kom woon en dit was lewensveranderend vir ons almal, daardie jaar se chemo. ’n Rite of passage om te sien dat die lewe so hard kan klap. Daniel het ophou drama studeer en toe hy beter was, besluit om die lewe te gaan ontdek, te reis, eerder as om sy studies voort te sit. Dit was die moeilikste ding wat ook ek al beleef het. En daarna was ek vodde. Jy besef nie hoe erg dit is tot ná die tyd nie.”

Die storielyn in Binnelanders voel ook asof dit vir haar gestuur is, sê sy.

“Ek wou voorheen nooit in die media oor Daniel se stryd praat nie, maar nou dink ek dis belangrik ...”

Lees die volledige onderhoud in die nuwe SARIE.