Die artikel het oorspronklik in Oktober 2019 verskyn:

In 2007 het haar lewe byna tot ’n einde gekom – 11 879 km weg van haar familie, haar vriende en haar geliefde, die sanger en TV-persoonlikheid Emo Adams. Stoksielalleen in Hongkong, lost in translation.

Dit was ’n gewone weeksdag. Michelle Gildenhuys-Adams het saam met duisende ander op die platform vir ’n trein gewag. Skielik het alles om haar wasig geword en ’n koue gevoel het haar beetgepak.

Ure later word sy in ’n hospitaalkamer wakker – klinies, wit en steriel. In gebroke Engels verduidelik ’n verpleegster Michelle het flou geword, vorentoe geval en op die treinspoor beland. ’n Dokter het haar gered voor die aankomende trein haar kon tref.

Michelle het haar ma dadelik gebel, al was dit vroegoggend in Kraaifontein buite Kaapstad.

“Jammer, Mammie ... ek het ’n terugval gehad.”

Die mooie Michelle, toe 21, het vir ’n maand lank net een appel ’n dag geëet en haar hongerpyne met water probeer verdrink. ’n Modelagentskap in Hongkong het haar voorkoms gekritiseer ... haar kop is te groot, haar liggaamsbou buite verhouding ... sy sal ’n plan moet maak. Net daar en dan voed sy die monster anorexia nervosa met maaltye van selfverwyt, angs en depressie. ’n Monster teen wie sy reeds tussen die ouderdom van 13 en 17 probeer veg het.

Dieselfde aand het Michelle op ’n vliegtuig geklim en na Suid-Afrika teruggekeer. “Op die lughawe het my ma, Olivia, en suster, Sheree, net verby my geloop. Hulle het my nie eens herken nie.” 

Vir ’n oomblik raak sy stil, haar grysblou oë peinsend.

“My lewe kon so anders uitgedraai het.”

FOTO Nelis Engelbrecht Photography

Michelle verwyt nie daai onsekere kind van Kraaifontein nie, inteendeel, dis haar foute wat haar geslyp het. Maande ná die voorval by die stasie het sy haarself reggeruk. “Ek wou, ek moes.”

Haar grootste motivering? Sheree, haar jonger suster. 

“Ek wou nie hê dat sy naderhand ook moet dink sy is nie goed genoeg of perfek nie, net oor ek ’n verwronge liggaamsbeeld het.”

Twaalf jaar later is die ekwilibrium tussen kos en kop ten volle herstel. Michelle is ’n suksesvolle sakevrou, stilis, model en entrepreneur. Ywerig, ambisieus en honger om te leer.

“Ek het nou ’n goeie en gesonde verhouding met kos, ek hou van die idee dat wat ek in my liggaam sit, my eintlik help. Ek hou van kosmaak en om my familie vir ete oor te nooi. Kos bring ons nou bymekaar nadat dit my jare lank uitmekaar laat val het.”

 Emo Adams en sy vrou, Michelle.
Emo Adams en sy vrou, Michelle. FOTO Nelis Engelbrecht

Selfs in die donkerste tye was haar man, Emo, ’n konstante – hy was sedert sy 20 jaar oud was in haar lewe. “Hy is ’n ongelooflike mens, hy is opreg, hy is ’n dromer, hardwerkend en ondersteun my in alles wat ek doen. Hy is my persoon, my alles.” 

Hy was daar toe dokters gesê het sy sou nooit kon kinders kry nie. “Anoreksie het sy tol op my liggaam geëis.” Hy was daar toe klein James (8), hul oudste seun, as peuter in haar lewe gekom het. En toe sy uitvind sy is swanger. “Ek het nie geweet of ek eers moet huil of feesvier of albei gelyk moet doen nie. Dis steeds een van die onwerklikste gevoelens wat ek nog ervaar het.” 

Eers Kader Zayn (4), toe Ziah Malik (2) en vroeër vanjaar klein Khai – haar en Emo se drie wonderwerk-babas.

Michelle saam met haar en Emo se vier seuns, James, Kadar Zayn, Ziah Malik en Khai. FOTO Instagram / Michelle Gildenhuys-Adams

Elke dag leer Emo en hul vier seuns haar belangrike lewenslesse. “Om myself te aanvaar, om in die kleinste goed vreugde te vind en om sonder verskoning myself te wees. Hulle glo meer in my as wat ek ooit kan.”

Sy wil haar seuns as gentlemen grootmaak, wat vroue met respek behandel. “En in voeling is met hul eie emosies, soos hul pa. Jy kan sag én sterk wees.”

As ouers leer hulle reeds vir die vier Adams-seuns van onvoorwaardelike aanvaarding. Michelle is ’n Christen, Emo ’n Moslem. “En ons respekteer en ondersteun mekaar se geloofsoortuigings. Wanneer dit Ramadaan is, vas ek saam met Emo, en as dit Kersfees is, vier die hele gesin dit saam. Ons kinders sal eendag hul eie keuses maak.”

Vra jy vir Michelle hoe sy haarself sal beskryf, is die antwoord eenvoudig: ’n Werkende ma ... sy maak kinders én besighede groot. “Albei definieer my, hoewel ek nog dikwels met skuldgevoelens, mom guilt, gekonfronteer word.” 

Iets waaroor sy gereeld oopmaak op haar Instagram-blad – ’n sonder filter, eerlike blik op moederskap.

“Om te skryf is deel van my genesing. Dis ’n manier om my daaglikse emosies en gedagtes te verwerk. Ek is bly dat vroue dit kan lees, en nie alleen hoef te voel nie.” 

FOTO Instagram / Michelle Gildenhuys-Adams

As stilis wil sy juis ook vroue bemagtig, hulle leer hoe om hulself te aanvaar en om uniek te wees. “Om die liggaam wat jy gegee is te aanvaar is belangrik en noodsaaklik. Sodra jy dit doen en weet wat vir jou werk, raak dit makliker om jouself aan te trek en te waag.” 

Haar wenke vir vroue? “Moenie bang wees om iets nuuts te probeer nie. Onthou dit gaan nie oor die grootte van die item nie, maar eerder hoe dit op jou lyf sit. Kyk verby die nommer en fokus eerder op hoe dit jou laat voel.”

Vroeër vanjaar het sy op die stel van Emo se gewilde talentsoekprogram Maak my Famous op kykNET as stilis gewerk – ’n tweede seisoen is pas aangekondig. “Dit was ongelooflik, ’n voorreg. Emo het hierdie droom gehad en dit het toe gerealiseer. Al die deelnemers, die crew en die mentors het soos familie gevoel. Ongelooflike mense en stories het ons pad gekruis.”

Sy en Emo is ’n gedugte span. Sy verstaan hoe hy dink, hoe sy kop werk. “En ons kan die werk by die werk los, ons vat dit nooit saam huis toe nie.”

En as sy tyd kon terugdraai, sou sy daardie onseker tienermeisie wou reghelp? Sy skud haar kop en antwoord: “Ek sou nie hier wees as ek nie eers dáár was nie. 

Michelle se raad aan jong meisies

– Moenie dat die samelewing vir jou voorskryf wat vir jou aanvaarbaar is nie.

– Vind vertroosting in die geskenk van ’n gesonde liggaam en strewe om die beste weergawe van unieke self te wees.

– Om jouself met ander te vergelyk gaan jou op donker paaie dwing, paaie wat jy nie wil stap nie.

– Vind jou innerlike skoonheid en dit sal na die uiterlike toe uitstraal.

– Pas jou liggaam op, vind balans en omring jouself met positiewe mense.