Daar’s Jakobus, Petrus, Thomas, Ferdie en ook Raphael, Amigo, Poncho, T-Rex, Sloopy ... Aktrise Mila Guy se “kinders” lê haar na aan die hart – al 35 van hulle.

Hulle vra nie veel nie – net die regte hoeveelheid son en water.

By Mila kry hulle soveel meer: Sy stof af, vryf blink en gesels.Sy sê gereeld vir Lucille, haar eersteling (’n strelitzia) hoe oulik sy lyk!

Haar “bamboes-plantkamer” in haar woonstel in Linden, Johannesburg, met van varings tot vetplante, is soos ’n klein oase waar jy net kan ontspan, vertel Mila, wat bekend is vir flieks soos Wonderlus en Liewe Kersfeesvader, asook die kykNET-komediereeks Hotel. “Ons bedryf is baie wisselvallig, soms het jy werk, soms nie. Dit kan maar stresvol raak, so dis regtig lekker om tussen die plante op die mat te lê en lees, of te skryf ... of om net te kan wees. Ek wou ’n plek skep waar jy kan ontvlug, al is jy in die stad. Mense voel altyd tuis hier.”

Haar kêrel, akteur Beer Adriaanse, gaan gereeld saam kwekery toe, hoewel hy nie altyd al hul plante se name kan onthou nie. “Dan sê ek: Hoe kan jy, dis dan ons kinders!” skerts Mila.

Haar plantliefde het ook haar vriend die skrywer en akteur Bennie Fourie geïnspireer en sy “help hom nou ’n bietjie” nadat van sy eerste aankope doodgegaan het. “Dit neem ’n rukkie om te leer, ek het self nog nie al my eie plante se ideale son- en waterbehoeftes uitgewerk nie. Maar die lekkerte is eintlik om iets te versorg en te sien hoe dit groei, dit neem jou so ’n bietjie uit jou wêreld uit. Ek ly nie self aan depressie nie, maar dis waarskynlik hoekom soveel millenniërs graag tuinmaak – jongmense wat met depressie sukkel, vind dit terapeuties.”

Haar beste vriendin, Ansu Visser, sorg vir haar plante wanneer sy weggaan, en stuur selfs foto’s en video’s van hoe hulle vorder.

Verlede Desember het Mila juis by haar ouers en suster in Nieu-Seeland gaan kuier. Sy het op Rotorua skoolgegaan nadat die gesin in 2006 daarheen geëmigreer het. Mila het ’n jaar in Auckland geswot, maar ná ’n oudisie by Tuks in 2012 besluit om daar haar dramastudies te voltooi. Reeds as student het sy ’n rol in die kykNET-sepie Binnelanders gekry en haar toe in SA gevestig.

“Natuurlik is daar tye wanneer dit moeilik is en ek verlang, maar ek het regtig goeie pêlle hier. Hulle is soos my familie, ons ondersteun mekaar. Baie van ons woon in dieselfde blok of naby aan mekaar en ons werk dikwels saam. Dis lekker om vriende in die bedryf te hê,” vertel sy.

Mila is einde September in die skets-komedie Die Intermissie by Aardklop te sien, met onder andere Beer, Bouwer Bosch, Bennie en Schalk Bezuidenhout. En sy skiet op die oomblik aan die vierde seisoen van Hotel, wat vroeg volgende jaar te sien sal wees.

Sy wou van kleins af net toneelspeel, sê sy. “Ek hou van mense en vind hulle interessant, so om in iemand anders se skoene te wees is ’n ongelooflike ervaring. Ek is bevoorreg om te kan toneelspeel in ons land, om uit my passie ’n bestaan te kan maak. Ek sou wel graag meer verhoogwerk wou doen en regisseur wees.

“My ander liefde is sing, maar ek het nog nie werklik tyd gevind daarvoor nie. Ek en Bouwer het ’n ooreenkoms: Wanneer ek weer sy garderobe of kuns vir sy musiekvideo’s doen, betaal hy my deur my te help met ’n liedjie. So hopelik gebeur dit iewers vorentoe.”

Sy en Beer werk ook aan ’n paar projekte vir die toekoms.