EK HOOP
om dinge beter te maak vir ander mense. Dít gee my die grootste bevrediging. Ek sou dit graag op groter skaal wou doen.

om meer tyd te hê vir persoonlike ontwikkeling.

om CMT (Cut, Make and Trim)-fabrieke oop te maak waar al die vroue 'n aandeel in die onderneming het, asook sentrums vir die Fashion Fusion Programme (vir handwerkers) in al die provinsies - ook op 'n basis van winsdeling. En mentorskap-programme vir ontwerpers en handwerkers.

ontwerpers sien raak hoe bevoorreg hulle is in Suid-Afrika. In geen ander land word hulle so ondersteun deur 'n modeweek soos die Suid-Afrikaanse Modeweek nie.

dat ons hele familie bymekaar kan wees oor die Kerstyd en bewus sal wees van al ons voorregte en seëninge.

EK IS BANG
om deur mans aangeval te word. Dis my grootste vrees om fisiek seergemaak en geskaad te word. Andersins is ek in die algemeen nie 'n bang mens nie.

vir die toekoms van ons land, so baie, ek wil eintlik nie daaroor praat nie. Ek voel geweldig hartseer as ek dink dat niks wat ek doen goed genoeg is om my die reg te gee om hier in SA te
wees nie.

vir pienk lippe op 'n vrou wat ouer as 25 is!

Wat ek geleer het

  • Mode was altyd in my. Ek het op 'n plaas grootgeword, deel van 'n modebewuste familie. Albei my ouers en grootouers (veral my ma se suster en ma) was ongelooflik stylvol. Daar was baie, baie modereëls . . . byna meer as tafelreëls.
  • My pa het my daarvan bewus gemaak dat ons op die aarde bly en van al die wonderlike dinge wat elke oomblik in die natuur reg by ons plaasvind - ek kyk elke dag daarna en voel geseënd.
  • Die mooiste woorde staan in Psalm 23: "Al gaan ek ook in 'n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie, want U is met my: u stok en u staf die vertroos my."
  • Kersfees beteken verskillende dinge vir verskillende mense. Vir my is dit 'n tyd van nadenke en sielstilte.
  • Gebruik jou talente om dinge te doen wat ons tyd op aarde makliker kan maak vir almal. Gun ander die son wat op hulle skyn en wees dankbaar vir alles.
  • Ons is almal dieselfde, wêreldwyd, ons verwagtinge, drome en hoop - verskillende grade, maar dieselfde. Die beste raad wat ek ooit gekry het: Moenie jou dinge
    persoonlik aantrek nie.
  • Die modeweek wat ek in 1997 begin het, is die grootste risiko wat ek tot dusver aangepak het. Ek is daagliks buite my gemaksone - en mal daaroor.
  • Ek is baie vroeg in die oggend die kreatiefste. Ek het nog nooit te min idees gehad nie; my probleem is dat ek hulle gedurig moet redigeer, want ek kan nie alles doen nie. Ná jare in die modewêreld weet ek: Mense dink nie dieselfde as jy nie en mense doen nie dinge sodat almal daarby kan baat vind nie.
  • Alles wat ek het en is, het ek van my ouers geleer - my inbors, my uithouvermoë, my eerlikheid, die feit dat ek omgee vir ander mense - ek kan alles teruglei na hulle en my familie.
  • Jy kan enigiets kry wat jy wil hê. Die lewe bestaan nie uit swaarkry nie. Jy is die een wat jou lewensboek skryf. Ek leer my dogters, Marcelle
    en Mathapelo, om bewus te wees van elke oomblik, elke dag.
  • Ek het onderwys gestudeer en dit het my voorberei op alles wat na my kant gekom het. Ek was gretig om te leer en het nog nooit opgehou nie.
  • Ek is mal oor mense en om hul idees te hoor. Bowenal hou ek van probleme oplos - dis ongelooflik stimulerend. Toe ek nie kon geld kry vir die Suid-Afrikaanse Modeweek nie, het ek die engele gevra om vir my mense te gee. Nou het ek dit. Jy kry wat jy wil hê.
  • Wat mode betref, is niks ooit dieselfde nie. Elke dag het inspirasie. Ek is mal oor ontwerpers - ek sien hul potensiaal lank voor hulle dit self sien. Ek het baie respek vir talent.
  • Styl is 'n instink, 'n gevoel. Dis die vermoë om die regte ding vir die regte oomblik te kies. Dis om bewus te wees, te sien, te kan onderskei en dan 'n besluit te neem waarvan ander mense bewus word en wil nastreef. Ek dink tog jy kan dit in 'n mate aanleer deur jouself aan die regte dinge en mense bloot te stel.
  • Ontwikkel jou eie styl. Hoe meer getrou jy aan jouself is, hoe beter. Praat sagter met die kleure wat jy kies, nie harder nie.
  • My slegste eienskap is my ongeduld. Alles moet nóú gebeur. My beste een is dat ek die goeie in alles sien.