Die Suid-Afrikaanse model Katryn Kruger, wat as 16-jarige haar deurbraak op die internasionale loopplanke gemaak het, onthou die oomblik toe sy vir Karl Lagerfeld ontmoet het, nog glashelder. Dit was Modeweek, en die Afrikaanse meisie met die groot oë was een van die hoopvolles toe die modehuis Chanel modelle vir hul vertoning gesoek het.

“Hy was stil en uiters gefokus,” vertel sy aan SARIE.com. “Ek was op my senuwees om hierdie ikoon, baanbreker, beroemde en effens eksentrieke man te ontmoet.” Die mode-reus, sedert 1983 die kreatiewe direkteur van Chanel, is op 20 Februarie 2019 in die ouderdom van 85 oorlede.

Katryn Kruger vir SARIE se mode-insetsel in SARIE se Maart 2018-uitgawe. FOTO Katinka Bester van Hero Creative Management


Katryn sal nooit vergeet hoe kalm en selfversekerd hy op daardie dag was nie.

“Hy het presies geweet wat hy soek en het met daardie doelgerigte kalmte sy werk gedoen.

“Dit was elke model se droom om saam met hom te werk. Nie net oor hy ’n ongelooflike ontwerper was nie, maar ook omdat sy vertonings amper ’n magiese ervaring was.”

FRANCE - CIRCA 1960: Karl Lagerfeld Vers 1960 (P
’n Jong Karl Lagerfeld. FOTO Getty Images / Gallo Images

Dit was die stel, die hare, die grimering en die klere - elke detail is haarfyn beplan. Tot en met sy dood het hy jaarliks steeds agt modevertonings gelewer. 

“Sy ontwerpe was elke seisoen ’n mengsel van vars, nuwe idees binne die riglyne van die bekende silhoeëtte van Chanel. Die uitrustings was modern met ’n tikkie klassieke skoonheid, wat elke meisie op die loopplank soos ’n moderne prinses laat voel het.”

Oor Coco Chanel se invloed het Lagerfeld self eens gesê: “My werk is nie om te doen wat sy gedoen het nie, maar eerder wat sy sou doen.”

Katryn meen sy afsterwe gaan ’n leemte in die industrie laat. “Wie ook al sy werk gaan probeer oorneem, gaan gemeet word aan die ongelooflike hoë standaarde wat Karl self gestel het.”

Een van Chanel se vertonings. FOTO Instagram / Chanel