SHERI BRYNARD is ’n internasionale ambassadeur vir mense met Downsindroom.

Ná die groot sukses van die produksie Extra chromosome is nie cool nie – haar eie verhaal – by die Vrystaatse kunstefees in 2016 het Sheri se droom waar geword toe sy dit vanjaar weer saam met Ané van den Berg by die Drostdyteater op Stellenbosch kon opvoer.

Maar Sheri se hart lê by baie plekke ... om mense te help, en om die boodskap oor te dra dat jy kan kies om die beste van jou omstandighede te maak. In September gaan sy vir die eerste keer as motiveringspreker in Nieu-Seeland en in Australië optree.

Sy het ook al vele toekennings ontvang, soos toe sy die wenner was in die kategorie Young Mover by Shoprite Checkers se Women of the Year-toekennings.

“My ma, Susette [’n lektor in opvoedkunde aan die Universiteit van die Vrystaat], het my geleer ek is perfek en ek moet my met niemand vergelyk nie.”

Met haar aanneming in die kerk het haar ouers ’n Bybel met ’n gedeelte uit Psalm 37:5 voorin as geskenk aan haar gegee: “Laat jou lewe aan die Here oor en Hy sal sorg.”