Of so het almal gedink.

“Noudat hy dood is, kan ons uiteindelik die waarheid praat,” sê Monique aan sarie.com.

“Na ons vrylating het al die eer aan Ghaddafi gegaan, maar eintlik het hy die hele situasie gebruik vir sy eie politieke gewin. Dis die Suid-Afrikaanse taakspan wat die regte helde is.”

Die SA taakspan het alles in hul vermoë gedoen om Kallie en Monique se vrylating te bewerk, maar hulle het gou agtergekom dat hul enigste hoop die Libiese leier is. “Hy het al die kontakte gehad, en sonder sy invloed sou dit byna onmoontlik wees om ons daar uit te kry,” vertel Monique.

Ghaddafi het ingestem om te help, maar hy het amper ondenkbare voorwaardes gehad. Hy het besef dis ’n kans om sy politieke beeld te poets, en het soveel moontlik daaruit probeer put.

“Dit is hoekom die onderhandelings so lank geneem het. Sy grootste voorwaarde was dat hy, as diktator in Afrika wat deur die wêreld as ’n terroris bestempel is, wou deel raak van internasionale politiek.”

Na vele onderhandelings het hy gekry wat hy wou hê.

Na hul vrylating is Callie en Monique in Tripoli, Libië, aan SA ‘oorhandig’. “Ons het nie vir Ghaddafi self ontmoet nie, maar was die gaste van sy seun, Shaif Al Islam Ghaddafi,” onthou Monique. (Dit is die seun wat nou gejag word deur die Libiese rebelle.)

“Dit was ’n ongelooflike ervaring. Ons is van die lughawe af vervoer in duur swart karre, en ons kon agterkom dat die Libiese inwoners padgee as hulle dié motors sien aankom.” As gaste van Ghaddafi is hulle in sy private gastehuis gehuisves.

“Selfs die kopstuk van die bed en die krane in die badkamer, alles, was met goud oorgetrek. Dit was ongelooflik luuks...”

Monique vertel dat Shaif Al Islam baie charismaties en dinamies was. Hy het selfs die media, wat wou weet of Libië ’n losprys betaal het, om sy pinkie gedraai sodat almal glo wat hy wil hê hulle moet glo. Aanvanklik het hulle gesê daar is nie geld betaal nie, maar dat hulle belowe het om ontwikkeling in die gebied te doen as deel van die Ghaddafi Charitable Foundation. Maar later is gehoor dat daar inderdaad ’n losprys van $1 miljoen per persoon betaal is deur die Libiese regering.

“Ons het hom nie as ’n bose man ervaar nie. Hy was vriendelik en baie behulpsaam, maar ons het geweet hulle is nie goeie mense nie. Ons voel nie jammer vir hulle oor wat nou met hulle gebeur nie. You live by the sword, you die by the sword.”