Toe Emma, uitgevat in haar pers-en-geel trourok, nou die dag by die kerk uitvlug en Jan-Hendrik verstom voor die kansel laat staan, het 7de Laan-kykers na hul asem gesnak. Niemand het ooit iets so opspraakwekkends van die bedeesde rooikop verwag nie.

Emma was vreeslik dapper om Jan-Hendrik voor die kansel te los, sê Bertha le Roux, wat al sewe jaar dié rol in die land se gewildste sepie speel. "Sy het reg opgetree. Sy's die heldin in die verhaal!"

Hier waar Bertha (33) in 'n koffiewinkel in Fourways, noord van Johannesburg, sit, lyk sy heelwat jonger en ook glad nie so sedig soos Emma met haar gladde hare en preutse uitrustings nie. Bertha dra 'n knalrooi toppie, daar's 'n wip in haar hare en 'n strooisel sproete oor haar neus. Sy's ook rietskraal, nadat sy sowat 15 kg in 2 maande verloor het (haar dieet).

Dis 'n splinternuwe Bertha dié, stralend van selfvertroue. Vriende en kollegas komplimenteer haar deesdae gereeld oor hoe goed sy lyk. Selfs haar skoonheidsterapeut sê sy moet aanhou doen wat sy doen, want haar vel gloei!

"Dis erg om druk van alle kante te kry om gewig te verloor. Ek kry druk van die werk én van die publiek. Maar ek glo ek het nou die regte kennis om my gewig stabiel te hou," sê Bertha.

Maar terug by Emma en Jan-Hendrik . . . toe Bertha ses jaar gelede met Karel Wahl getrou het, het sy glad nie oor die groot stap getwyfel nie. "Ek het net vreugdevlinders op my maag gehad," vertel sy.

"Daar's talle meisies wat trou net om te trou, al is hulle nie seker dis reg nie. Emma is vir hulle 'n rolmodel. Al was sy lief vir hom, het sy geweet Jan-Hendrik is nie vir háár lief nie. En as die liefde nie wedersyds is nie, kan dit net uitloop op egskeiding of lewenslange ongelukkigheid. Wag eerder tot jy later jou régte ridder op die wit perd ontmoet."

Kyk maar hoe doen hulle dit in die flieks. In Runaway Bride het die onwillige Maggie Carpenter (Julia Roberts) vier keer uit die kerk laat spaander voordat sy met Ike Graham (Richard Gere) afgehaak het. In Sex and the City het Mr Big (Chris Noth) vir Carrie (Sarah Jessica Parker) voor die kansel gelos. In Mamma Mia! het Sophie (Amanda Seyfried) op die laaste nippertjie besluit om eerder te gaan reis as om te trou.

Jan-Hendrik was heimlik verlig oor Emma se koue voete, en het later vir haar gesê hy was te papbroekig om te doen wat sy gedoen het.

"Emma het geweet Jan-Hendrik het sy troubeloftes geskryf vir sy vorige nooi, Helena, en nie vir haar nie," sê Bertha. "Dit het vir haar gevoel Helena staan saam met hulle voor die kansel."

Bertha het haar in Emma se skoene geplaas. "Ek het probeer om empatie met haar te hê en om soos sy te dink.'n Warboel gedagtes sou deur haar kop gemaal het, soos: 'Dis nou te laat om kop uit te trek; hy sal lief word vir my; ek het genoeg liefde vir ons albei.'

"Dan weer sou sy gedink het aan die trou-uitgawes, dat die gaste reeds in die kerk sit. Sou hulle begrip hê vir haar besluit?"

Want so 'n besluit móét bitter moeilik wees, sê Bertha.

"My niggie Cornelia van Aardt het twee maande voor die troue haar verlowing verbreek. Al was sy aan 'n wonderlike man verloof, het sy net een oggend wakker geword en geweet hy's nie reg vir haar nie. Baie mense was vir haar kwaad en sy het baie vriende verloor. Maar dit was die eerbare ding om te doen."

Bertha glo sulke voorbeelde kan meisies in 'n soortgelyke situasie bemagtig. "Dikwels verander mense of groei uitmekaar, maar die familie plaas druk op hulle om te trou. As dit met jou gebeur, praat daaroor met iemand wat jy vertrou en wat jou beste belange op die hart dra," stel sy voor.

Om iemand kort voor die troue te los, maak dikwels net so seer soos om gelos te word. Maar wanneer hulle terugkyk, besef die meeste mense tog dit was die beste.

Santie* (36, skuilnaam),'n projekbestuurder van Johannesburg, het haar verlowing twee maande voor die troue verbreek. "Ons het mekaar byna drie jaar geken voordat ons verloof geraak het," vertel sy."Ons het baie baklei, maar ek het gedink dinge sal beter gaan. Ek het baie daaroor gedink en gebid en dit met my ma bespreek. Sy het my aangeraai om uit die verhouding te stap.

"My verloofde was geskok en hartseer, maar ek het ons albei oneindige hartseer gespaar. Ek moes nooit toegelaat het dat ons verhouding so ver vorder nie.'n Slegte verhouding verbeter tog nie ná 'n verlowing nie.'n Mens moet op jou sesde sintuig vertrou.

"Ek is nou al twee jaar gelukkig getroud. Op my troudag het ek sonder twyfel geweet dis reg."

Ook Susan* van Centurion se raad is om betyds na daardie waarskuwende stemmetjie te luister. Sy het in 2002 teen haar beterwete getrou. "Drie dae ná ons troue het ek vir hom gesê ek het 'n fout gemaak,'n week daarna het ek in my eie plek ingetrek," vertel sy. "Hy kon dit nie verstaan nie, want ons het mekaar drie jaar geken en saam gewoon. My ma was so kwaad dat sy ses maande lank nie met my gepraat het nie."

Sy het voor die troue gewonder of sy nie 'n fout maak nie, vertel Susan. "'n Vriendin het gesê ek moet die troue uitstel en daaroor dink, maar ek het gedink alle bruide voel maar so. Op my troudag was ek baie hartseer. Ek wens nou ek het voor die kansel gesê ons moenie trou nie, maar net lekker partytjie hou.

"Ons het albei agterna berading gekry. Later het ons weer probeer, maar dit het nie gewerk nie. Ek is nou in 'n ander verhouding, en ek weet hy is die regte man vir my."

Joanne* van Kaapstad se verloofde het haar in 2005, vyf dae voor hul troue, vertel daar is 'n ander vrou in sy lewe. "Die verwerping tref jou soos 'n vuishou," sê sy. Hulle het agt jaar uitgegaan en was nege maande verloof. "Hy het gesê ons verlowing was die grootste fout van sy lewe. Ek was so geskok dat ek daarteen wou veg, daaroor wou redeneer, praat, bid. Maar 'n mens kan nie iemand dwing om met jou te trou nie."

Sy het 15 kg verloor en gerou soos oor 'n sterfte. "Ek het 'n berader gaan sien. Verder het ek net op my bed gelê en huil. Dit was maar net die begin van jare se seerkry.'n Mens worstel lank met die wete dat jy nie goed genoeg was nie.

"Op 'n dag het ek besef my selfwaarde hang nie af van iemand anders se goedkeuring nie.Toe, op my knieë, het ek hom vergewe. Vergifnis maak jou vry. Ek het ook verder studeer en aan myself bewys ek is nie 'n mislukking nie."

Sy is spyt hulle het nie 'n afsluitingsgesprek gehad nie.

"Dit sou vir my menswees soveel beteken het as hy gesê het: 'Ek is jammer vir die seer, ek het nie besef dit sal so erg wees nie.' "Ek het hom steeds op 'n manier lief. Hy is getroud met die ander vrou, en ek wens hom die beste toe. Dat ek dit kan doen, laat my besef ek dra, ná alles, 'n kroon en nie 'n kruis nie."

Dis normaal om voor jou troue angstig te voel - daarom moet jy tussen trousenuwees en ernstige waarskuwingseine onderskei, sê dr. Marlene Arndt, 'n kliniese sielkundige aan die Universiteit van Johannesburg.

"Mense hou van nature nie van verandering nie, en om te trou is een van die grootste veranderinge wat jy kan maak. Net jy kan bepaal waarom jy angstig is. Is dit omdat jy jou huweliksdag perfek wil hê, of omdat jy bang is vir 'n onbekende nuwe lewe, of gaan dit oor die persoon en jul verhouding?

"As jy oor die persoon twyfel, sal jy gedurig baie angstig wees. Jy sal aan niks anders kan dink nie en nie normaal funksioneer nie. Jy sal vasgekeer voel en wil ontsnap. Bespreek sulke gevoelens met 'n objektiewe persoon soos 'n goeie vriend of berader."

Jy moet ook die huwelik uitstel of kanselleer as daar iets in jou maat se gedrag is wat pla, soos drankmisbruik.

"Mense verander nie ná 'n troue nie. "Dis 'n moeilike besluit om kort voor die troue kop uit te trek, want jy kan voel jy laat mense in die steek. Bespreek dit met jou verloofde, wat baie vrae sal hê en die reg het om te verstaan wat gebeur het. Vir toekomstige gesonde verhoudings moet albei berading kry," sê Marlene.