Mooimaak met Natasha

Sy's lank, slank en in proporsie. Vir stileerders is dit 'n droom, want enigiets lyk goed aan dié soort lyf!

My inspirasie was Natasha se donkerder hare wat haar groen oë beklemtoon en haar byna eksoties laat lyk.

My keuse vir haar top was iets sensueels in 'n modieuse pienk en rooi om by haar warm velkleur te pas. Met 'n ewe rooi viltblom om haar nek word sy byna deel van die partytjiepienk agtergrond.

Wen-hare

Natasha se nuwe haarstyl en donkerder haarkleur is 'n wenner. Vir tekstuur en volheid is dit in verskillende lengtes gesny en dit vou sag om haar gesig. Sy lyk soos 'n nuwe mens! Hierdie styl is ideaal vir reghoekige en vierkantige gesigvorms.

 
Onthou

Elke haarstyl móét gestileer word.Daar bestaan nie iets soos hare wat sonder aandag en versorging goed lyk nie!

Moet-hê

'n Maas-top is stylvol én sexy. Dit maak toe, maar wys genoeg vel en is reg vir warm dae en soel aande. Omdat dit rekbare stof is, gee dit boonop jou lyf 'n mooi vorm. Maar: 'nMaas-top wat deurskyn, is stylloos. As dit nie 'n eie voering het nie, dra 'n kamisool of tenktoppie daaronder.

Dis oë


Kies jou mooiste bate wanneer jy grimeer en beklemtoon dit.

Ons het op Natasha se oë besluit en bruine en perse gebruik vir 'n rokerige voorkoms:

1. Wend bruin-oranje skadu egalig tot net bo die oogvou aan.

2.Wend 'n dramatiese dieppers (eiervrugkleur) bo-oor aan en skakeer goed, veral uitwaarts.

3. Omlyn oë bo (ín die wimpers) met 'n swart oogpotlood en skakeer die streep (gebruik sommer 'n wattestokkie) om 'n smeulende voorkoms te kry.

4.Eindig met 'n laag of twee swart maskara.