Kos was lank haar vyand, erken die musikant Esté Rabé. By tye was dit iets wat sy verpes en teen baklei het. Maar dan was dit weer die enigste ding wat vertroosting kon bied. “Dis moeilik om te genees van ’n slegte verhouding met kos, want ’n mens eet elke dag, vir die res van jou lewe,” sê sy.

Van kleintyd af het sy van ’n lewe op die verhoog gedroom. “Ek is letterlik met daardie droom gebore!” Nóg voor sy begin skoolgaan het, het sy soos ’n wafferse Shirley Temple by geleenthede gesing.

“Ek wou graag hê almal moet weet hoe mooi ek kan sing,” onthou sy.

As gevolg van haar pa se werk het die gesin gereeld van dorp en stad verhuis. Sodra sy in ’n nuwe skool ingestap het, wou sy met alle mag aanvaar word. “Ek wou so gou as moontlik goeie punte kry en wys ek kan sing ... dit was my identiteit.”

View this post on Instagram

A post shared by Esté Rabé (@este.rabe) on

Kinders het haar begin boelie – en gou het sy die outcast geword met goeie punte en ’n droom om op die verhoog te wees.

“As ek nou terugkyk, kan ek insien dat my identiteit toe al gelê het in wat ek kan doen en nie wie ek is nie. Dit, tesame met die geboelie, het ’n diep gat binne my laat ontstaan.”

Op hoërskool, toe op Graaff-Reinet, het die groot probleem begin. Die “gat” het soos lood aan haar siel kom hang.

“Ek sou ná ete die borde wegvat en vinnig nog ’n klomp happe van die kos skep. Deur die dag sou ek as peuselhappie ’n halwe brood met kaas verslind, een vir een snytjie, tot ek later so skuldig gevoel het, ek wou huil. Ek kon maklik ’n hele pakkie skyfies en ’n sjokolade opeet sonder om eens te voel daar is iets in my maag.”

Die binge-etery sou soms, soos ’n wipplank, oorgaan in ontneming. “Dan sou ek so min as moontlik eet en eerder my eie hoenderborsie gaarstoom as om my ma se heerlike kos eet. My skoolboeke was vol lysies van wat ek die dag geëet het en hoe lank ek die middag sou moes oefen om dit af te werk.”

Sy het ure omgeoefen en haar vietse lyf het haar psigologiese seer versteek. Niemand kon haar hulpkrete hoor nie.

Die wiele het finaal afgeval toe Esté besluit om haar skoolloopbaan aan die Hoër Meisieskool Oranje in Bloemfontein te voltooi om beter opleiding in sang en drama te kry. Die lang ure het gemaak dat sy nie meer so baie kon oefen nie, maar die “gat” moes steeds gevul word.

Sy was in die koshuis en kon baie naweke nie huis toe gaan nie. “In die eerste ses maande het ek 15 kg aangesit.”

Voor haar matriekjaar verby was, was sy tot 30 kg swaarder. “Teen hierdie tyd was dit ’n monster binne my. My droom om op ’n verhoog te wees en my passie uit te leef het baie, baie ver en onmoontlik gevoel.”

Een skoolvakansie, het sy gebreek, terwyl sy ’n hele brood voor haar ma sit en opeet. Haar ma het net gesit, gekyk en geluister. “Ons het besluit om vir my sielkundige hulp te kry. Ek is toe gediagnoseer met obsessief-kompulsiewe ooreet- en oefengerigte bulimie. Die sielkundige het gesê dat ’n mens nooit werklik hiervan genees nie, maar dat jy dit suksesvol kan bestuur. Hy het antidepressante voorgeskryf en dit was dit. Ek kon dit net nie glo nie. Ek wou nie.”

Ondanks die diagnose het Esté haarself oortuig om aansoek te doen om drama aan die Universiteit Stellenbosch te studeer. Deur die loop van haar eerste jaar het sy ’n keerpunt bereik. “Ek was so ongelukkig en depressief dat ek duidelik kon sien dat my toekoms in gedrang is.”

Sy het besluit om teen die monster te baklei. “Ek weet nie wat my gelei het nie, ek glo steeds ek is gered deur Jesus Christus, maar ek het verwoed begin lysies maak van almal wat my seergemaak het. Ek het baie van daardie mense gebel en ons het vrede gemaak. Baie van hulle was die boelies wat meegedoen het om die gate binne my te kweek, maar ek was reg om hulle te vergewe.”

Jare later het Esté besef dat sy eintlik verslaafdes se 12 stappe van genesing gevolg het. “Ek het my gawes en talente probeer definieer, my geestelike lewe in orde gekry, ek het dansklasse begin neem ... ek het alles gedoen wat ek kon om te probeer gesond word. Ek het begin gewig verloor, ek het begin goed voel en ek het uiteindelik kos begin sien as energie en voeding.Dit was dus 100% ’n emosionele reis met geen diëte en quick fixes nie! Ek het agt jaar laas gebinge-eet. My liggaam het letterlik getransformeer – ek is ’n nuwe mens.”

Sy is gelukkig getroud met haar musikant-man, Lourens. Saam is hulle die suksesvolle en talentvolle duo Bottomless Coffee Band.

Sy volg geen dieet en werk net met drie vrae:

* Is hierdie kos deur die natuur of deur ’n fabriek gemaak? Die antwoord moet “natuur” wees.

* Kan ek al die bestanddele in die kos uitspreek en verstaan ek wat dit is? Met ander woorde, is dit so ongeprosseer as moontlik? Die antwoord moet JA wees.

* Hoe kan ek hierdie kos berei sodat dit nog so naby as moontlik is aan die mees natuurlike vorm, met soveel as moontlik van die voedingswaarde, maar steeds heerlik en smaakvol?

Haar pad na genesing het gelei tot ’n passie vir gesondheid. “Kos het verander in my medisyne, ’n kreatiewe uitlaatklep, my bron van fisiese energie wat ek nodig het om elke dag te kan doen wat ek doen. Vandaar die passie vir gesond eet en eksperimenteer met al die wonderlike bestanddele wat die natuur vir ons optower.”

Esté wil ook ander vroue inspireer en help. Sy is tans besig om haar as ’n gesondheidsafrigter (health coach) te kwalifiseer en het die sosialemedia-blad Gesond met Esté geskep. ’n Platform waar vroue as ’n gemeenskap bymekaar kan kom en oor onderwerpe gesels waaroor dikwels stilgebly word.

“Ek is nie seker of ek one-on-one gaan coach nie, maar ek is baie opgewonde om byeenkomste te hou waar ek uit die kennis van my kursus kan put!”

En as sy in tyd kon teruggaan en vir die 16-jarige Esté kon raad gee? “ ‘O, liewe Esté, die passie wat knaag in jou hart is jou roeping. Hou op om jou lewe te bou en jou identiteit te vind in wat jy kan doen – dis verganklik. Vergeet van die punte, doen net jou bes, en werk eerder hard aan wie jy as mens is – dit gaan baie meer tel. Hou op om so ernstig te wees, mense gaan jou vreugde en glimlag waardeer en geniet. En LEWE. Jy het klaar alles binne jou, hardloop net voluit en met waagmoed in die rigting van jou drome.’ Ag, en dan sou ek haar ’n stywe druk gegee het en haar gevat het vir ’n koppie koffie, want sy hou van ’n stukkie gesels en ontleed.”

Esté het voor die inperking haar lang lokke in ’n pragtige bobstyl gesny. Nie net was dit ’n splinternuwe voorkoms nie, maar ook bevrydend.

“Vir lank het mense vir my komplimente gegee oor my hare en ek het gevoel dit raak alweer ’n identiteitsding – my hare is deel van wie ek is, jy weet. So toe sny ek dit af! En ek is so bly ek het dit gedoen. En toevallig was dit toe ook 100% in lyn met die trends wat gevolg het. Sien, volg net jou hart ...”

Esté deel twee resepte uit haar kombuis:

Sjokoladebom-smoothie vir ontbyt

BESTANDDELE

2 piesangs

2 hande vol babaspinasie

1 hand vol bloubessies of aarbeie

1 avokadopeer

2 eetlepels rou kakaopoeier

1 eetlepel heuning

5 ysblokkies

so ’n halwe koppie water

METODE

Gooi alles saam in ’n voedselverwerker en meng deeglik.

Tuisgemaakte tamatiesop

BESTANDDELE

1 pakkie (sowat 10) rosatamaties

5 knoffelhuisies

skeut olyfolie

1 rooi-ui, gesny

1 blik organiese tamaties (of gewone tamatie-en-uie, maar met geen preserveermiddels)

1 eetlepel xylitol of organiese esdoringstroop

500 ml groenteaftreksel

1 groot hand vol vars basilieblare

’n halwe blik klapperroom

METODE

Rooster die tamaties en 3 heel knoffelhuisies met olyolie, sout en peper vir 35 minute by 200 °C. In ’n pot, braai die ui en voeg die ander 2 knoffelhuisies in skywe by. Voeg die blik tamatie en xylitol of esdoringstroop by en kook vir so 3 minute. Voeg die aftreksel by en kook so 15 minute tot al die smake lekker “trou”. Roer die geroosterde tamaties by en haal van die plaat af. Voeg die basilieblare en klappermelk by en meng met ’n staafmenger of in ’n voedselverwerker tot glad jy verkies.