As kaalvoet-plaaskind van Worcester het Mynie Grové haar pa verloor. Sy was sewe, haar ouers reeds twee jaar geskei. Maar haar pa se beautiful briewe in dié tyd aan haar het haar gevorm, verseker sy bly op die pad wat hy vir haar gesien het.

By haar ma het sy weer die vryheid gekry om self koers te kies.

As driejarige het sy op gehoor leer klavierspeel, sing was soos popspeel. Dit het net vanself gekom. Maar sangeres, liedjieskrywer en komponis Mynie wou eerder ’n movie-ster wees wat sing en dans ook.

FOTO Facebook/ Mynie Grove

Tog is sy ná dekades in die bedryf steeds bekend vir haar goue stem. Haar “Ek verlang nog altyd” (later die temalied van die rolprent Soekie) saam met Jan Grové, haar sangmaat in die vroeë sewentigs, het haar volksbesit gemaak. En “Sweef soos ’n arend”, uit haar eie pen, is vandag nog gewild.

Hoekom juis hierdie liedjie?

“Die liedjie is binne 10 minute geskryf. Dit het oorspronklik as trou- en love song posgevat oor die melodie en woorde. En toe kry dit ook gospel-vlerke.”

Destyds het sy dit op televisie op ’n Danie Niehaus-program gesing en dis hoe dit bekend geword het, maar dis nooit formeel opgeneem en uitgereik nie. Maar die liedjie word tot vandag toe deur kunstenaars gesing en opgevoer. In 2016 het Mynie self dit op meesleurende wyse saam met Karen Zoid op die Republiek van Zoid Afrika gesing. 

Nog een van haar liedjies, “Caravan”, het ook so deur televisie-herhalings gewild geword.

FOTO KykNet

Ongelukkig sien en hoor ons maar min van Mynie. In die tyd ná die dood van die liefde van haar lewe, die voormalige kunshoof van ’n advertensiemaatskappy en eenmalige akteur Chipi van der Merwe, meer as 29 jaar gelede, het sy besluit dis tyd om uit die kollig te tree.

“Ek het as weduwee doodeenvoudig nie meer kans gesien om die glans-girl te wees nie. Daar was ander dinge wat belangriker geword het.”

Haar dae om op verhoë te sing is wel verby, maar haar liefde vir musiek sal vir altyd bly. “Dis absoluut deel van my DNS.”

Wat is die geheim van haar sukses?

“Enige sukses kom uit toewyding, passie en geleenthede wat mens aangryp.” Vir haar het sukses gekom van mediums wat wissel van televisie, film en radio tot die verhoog. Sy is ook vervaardiger en regisseur met haar eie produksiemaatskappy, Amagroove.

Televisie was en is haar voorkeur. Volgens Mynie beleef jy iemand beter deur dié medium. Dit het haar die kans gegee om nie net Afrikaanse pop te sing nie, maar sy kon ook haarself uitleef as aktrise, skrywer, vervaardiger en performer. Dit het haar bekend gemaak oor al ons landskulture heen, tot vandag toe.

Maar bowenal het sukses beteken dat sy haar twee seuns, Jean en Clem, kon grootmaak as enkelma.

FOTO Facebook/ Mynie Grove

Waar sien sy haarself oor vyf jaar?

“Ek hoop om my crazy wish list te voltooi. Daar is ook boeke om te skryf, want sowaar, daar is baie om te vertel!”

Iets wat sy sou wou verander?

“Met die blink visie van wysheid sou ek baie meer braaf wees, my minder steur aan loopbaandruk – wat my kreatiwiteit onderdruk het. Ek sou my minder kwel oor wat ‘die mense sou sê’. Maar hier is waar dit my gebring het en ek is ewig dankbaar vir elke ondervinding.”