Dis die eenvoudige dinge wat haar lewe kleur. Veral in die Covid-19-tyd, sê sangeres Andriëtte Norman.

In haar dertigs is sy baie rustiger; sy weet wie sy is, reken dié ma van drie. Boonop het sy vrede met haar lyf en besef haar biokinetikus-man, Glynn Moolman, is doodtevrede om haar net vas te hou en lekker te gesels.

“Dit is nie nodig om altyd sulke wow-goed te beplan nie. My kinders geniet ’n ou tuisgebakte broodjie en soek my aandag as ek tuisonderrig gee.”

Sy glo die kuns van die lewe is om honderd persent teenwoordig te wees, in die oomblik.

Andriëtte het pas haar sesde album, Hartsland, uitgereik.

“My musiek wys hoe ek as kunstenaar gegroei het. Ek is deur ’n rowwe tyd ná my stemoperasie twee jaar gelede, maar gelukkig sê my aanhangers die musiek inspireer hulle. Ek gee nooit op nie – dís my wens vir alle vroue.”

Drie liedjies van Andriëtte Norman

“Druppel in die see”

“Met ander woorde”

“Sewe osseane”