As kind het Gerrie Pretorius gedink “die Krugerwildtuin is ’n lieg” – trouens, hy en sy maats kon nie dink daar bestaan so ’n plek nie.

Sedert sy grootworddae op Mosselbaai het Gerrie al meer as 80 lande oor die wêreld heen besoek, maar hy raak nog net so opgewonde oor ’n nuwe plek, soos die eerste keer toe hy ná skool Nelspruit (naby die Kruger Nasionale Park) binnegery en ’n Pasop vir die seekoeie-bordjie gesien het. Hy moes net stop en foto’s daarvan neem. “Niemand sou ons andersins glo nie!”

Die verrassing bly vir hom een van van die lekkertes van reis, vertel Gerrie, wat later vanjaar weer op Leef jou reis op kykNET te sien is. Dis sy negende reeks, ’n samestelling van hoogtepunte en beeldmateriaal wat nog nie uitgesaai  is nie, “om mense weer lus te maak om te toer”.

Hy pak elke land met nuuskierigheid en ’n bietjie domastrantheid, erken hy.

“Mense wat my ken, sê dis malligheid, die goed wat ek gaan soek en waarvoor ek push. Jy moet ’n passie hê. Ek het baie oorsese kontakte en pêlle met wie ek vooraf gesels, maar uiteindelik is dit net ek en een kameraman, sonder ’n vooraf uitgewerkte teks, ons skiet uit die heup uit.”

In Lissabon by ’ngeteëlde kaart van Afrika wat die Portugese seeroetes in 1488 aandui – Gerrie wys waar Bartholomeus Dias by Mosselbaai geland het. FOTO Verskaf

Dis sy benadering van “foeter in en gaan soek tot jy dit kry” wat maak dat hy al die wonderlikste goed vir kykers kon wys – dinge wat nog nooit op ’n Afrikaanse TV-kanaal gesien is nie, soos hy dit stel.

Byvoorbeeld die antieke stad Harar in Ethiopië, wat snags vol hiënas is wat daar kom eet, die gauchos (cowboys) van Argentinië saam met wie hy perd gery het, die oudste reënwoud ter wêreld in die suide van  ailand, die piranhas in die Amasonerivier, die vaart na Tristan da Cunha, die mees afgeleë bewoonde eiland ter wêreld, waar hul boot begin sink het . . .

En dan was daar die keer toe Gerrie se “nuuskierigheid en opportunistiese streep” in Ranthambore in Indië die oorhand gekry het. Hy het in ’n tou gestaan by ’n park en oorkant die straat iets gesien wat soos ’n sirkus lyk. Toe hy gaan gesels, blyk dit ’n prominente Punjabi-familie berei voor vir ’n bruilof.

Om ’n lang storie kort te maak: Gerrie het met die bruid se ma vriende gemaak, hy is uitgenooi, en die volgende dag het hy ingehaak by die ouma ingestap, deel van die optog . . . ’n produksie met 2 000 gaste, 80 kosstalletjies, vuurwerk en ’n olifant. Alles deel van “die weird en wonderful” wêreld van reis.

In 2019 was Gerrie, wat ook ’n toermaatskappy besit, net 92 dae by die huis (in Pretoria en Mosselbaai). Vanjaar is die langste wat hy nog tuis was. Net nadat hulle in Februarie in Lapland, Finland, geskiet het, het hy op ’n vlug terug die eerste coronavirus-stories gehoor. Kort daarna, op pad na Indië, moes hy by die lughawe omdraai weens inperkingsgerugte daar. En toe die VSA oor visums vasskop, “het die wiele begin afkom”.

Nuwejaar in Hong Kong. FOTO Verskaf

Die reeks wat pas op kykNET uitgesaai is, is die resultaat van krisisbeplanning “par excellence”, met ’n plan B, plan C en D . . . Gerrie het letterlik in twee dae alles gereël, die bakkie gepak en Suid-Afrika gaan verken. In die Vrystaat het hulle op Fouriesburg die grootste versameling treine in private besit en die natuurerfenisplaas Moolmanshoek verfilm. Maar toe hulle in Visierskloof, die hoogste piek in die Witteberge, hoor dat lockdown in Suid-Afrika afgekondig is, was dit oppak en terugjaag huis toe, na Mosselbaai.

Gerrie het later met die plaaslike regering onderhandel om in die grendeltyd te mag verfilm en interessante plekke op sy tuisdorp en omgewing ontdek. 

Hulle hoop om só mense aan te moedig om plaaslike toerisme te ondersteun, sê hy.

Hy beskryf reis as sy verslawing. “Sang is my eerste liefde, maar reis is my obsessie. Verlede jaar het ek my laaste album uitgereik. Ek het ’n wonderlike sangloopbaan gehad, seker so twaalf goue en platinumalbums verwerf. Ek wil op daardie hoogtepunt eindig. Ons land het uitstekende kunstenaars, dis tyd vir die nuwe manne. Daar is nog soveel dinge op my bucket list, soos om in Mongolië saam met die nomade perd te ry en Alaska te besoek.”

Sy oupa het self op sy dag per trein deur Rusland gereis en ’n groot versameling klippe gehad, onder meer van Egipte. Hy het dikwels gaan toer in sy ou kombi, ingerig met ’n yskas en bed, en sy kleinseun se verbeelding met sy reisstories aangegryp.

In Ysland se Blue Lagoon. FOTO Verskaf

Ná skool is Gerrie eers vir ’n gap-jaar Engeland toe voordat hy bemarking studeer het. Hy het in Londen elke denkbare werk gedoen wat oor sy pad gekom het, en daar sy eerste voorsmakie gekry van toer – en besef “jy’s net ’n vlug of ’n veerboot-rit weg” van ’n ander wêreld.”

Gerrie het sedert 2000 ál meer as sanger opgetree en sy platinum-debuutalbum, Annemarie, is in 2001 uitgereik.

Teen 2011 het hy reeds ’n miljoen kilometer na konserte afgelê. Toe hy in Nederland bekend raak – dit was die dae toe hy vier, vyf keer per jaar saam met Nederlandse kunstenaars soos George Baker, Pussycat en Maywood, opgetree het, en nog later met die Belge Christoff en Dana Winner – het hy die kans aangegryp om elke moontlike land te besoek. Toe volg Afrika in sy 4x4 . . .

By Dimitri’s op Santorini. FOTO Verskaf

Elke jaar sien hy onvergeetlike plekke, maar as hy ’n oomblik móét uitlig, is dit toe hy op die eiland Reunion ’n vulkaan sien uitbars het, die lawa wat honderde meters die lug inskiet. “Ek kon die hitte in die helikopter voel en sien hoe dit see toe vloei en daar rots word . . .”

Sy besoek aan die eiland St. Helena met die laaste posboot, saam met sy skrywersvriend Johan Bakkes, sal hom ook altyd bybly. “Ons het ingestap in ’n 1980’s-tydborrel met tiekiebokse, ’n videowinkel waar jy VHS- en Betabande kan uitneem en inwoners wat ’n ouwêreldse Engels praat. In die grotte waar ek geduik het, was dit so ongerep dat ek die visse moes wegdruk om te kan sien.”

Hy het ook op dié eiland langs die bed gestaan waar Napoleon gesterf het. En hy was in Ajaccio, Korsika, die geboorteplek van dié keiser, en in Parys, waar hy regeer het. “Ek’s ’n aanhanger.”

SONY DSC
Saam met die Khoi in die Kalahari in Botswana. FOTO Verskaf

Maar die besoek wat hom die diepste geraak het, was aan Paaseiland in die Stille Oseaan, sowat 4 000 km van die kus van Chili. As jong seun is hy aangegryp deur ’n dokumentêre program oor Maria Ica, wat as jong meisie van dié “eiland met die vreemde beelde” weggevoer is en by kultuurfeeste wêreldwyd “vertoon” is om musiek te maak. Sy het nie Engels verstaan of geweet waar sy is nie.

Hy het op die eiland na Maria gaan soek, maar ná ’n week moed opgegee.

“Die aand in die kroeg kom ’n kaalvoet vrou met lang swart hare daar in, kitaar in die hand. Sy het my omtrent in trane gesing. Ek wou toe háár storie hoor, maar met die gesels besef ek Maria is haar ma!”

In hul kliphuisie op die verste punt van die eiland het hulle ’n ete ter ere van Gerrie berei. Hy was in trane toe Maria, al diep in die tagtigs, vir hom sing oor hoe sy weggevoer is na museums reg oor die wêreld, en hoe haar mense nie geweet het waar sy is nie. “Ek het nog die halssnoer wat sy vir my gemaak het nadat sy afgestap het strand toe om die skulpies op te tel. Dis een van my kosbaarste aandenkings.”

In Dublin by ’ntipiese Ierse kroeg. FOTO Verskaf

Sy aandenkings vertel elk ’n storie, van die handgemaakte pyp van die Deadwood- kamp vir Boerekrygsgevangenes op St. Helena en die tand van die uitgestorwe megalodon-haai wat hy aan die Weskus opgetel het, tot die taginepot uit Marokko wat hy in die woestyn ingespan het om skaapvleis gaar te maak.

Gerrie glo jy leer ken ’n land deur sy kos, musiek, sy mense. Hy kan nagte omsit in Portugal en bacalao (soutvis) eet en na nostalgiese fado-musiek luister.

Oor Turkye se testi kebab (vleis wat in ’n kleipot stowe) en kazandibi-nagereg (hoender in melk gekook) raak hy liries, en as hy in Marrakesj, Marokko, kom, gaan sit hy tussen die locals vir skaapkop.

As toerleier doen hy moeite om plaaslike inwoners te betrek en sy groep ’n bietjie uit hul gemaksone te druk met ’n kultuurskok of twee. “Reis is die beste antidepressant!”

Met meer as 550mense wat hy vanjaar op toer sou neem, het dit druk gegaan om almal tydens die pandemie gerus te stel oor uitgestelde toere. Dit het baie administrasie geverg. Maar Gerrie kén harde werk, van kleintyd. As sy pêlle vakansies op die strand was, het hy die kasregister in hul kafee geslaan of in hul restaurant bedien. Hy het “alewig gesmous” met beeste en hoenders. As student het hy karre gekoop en verkoop en later ook eiendomme; sy ma hanteer die verhurings van Pretorius Ontwikkelingstrust, waarvan hy die direkteur is.

In Klein-Aus Vista in Namibië waar ’n soort Bonny en Clyde-jaagtog hom afgespeel het. FOTO Verskaf

“In ’n stadium het ek meer as 23 konserte per maand gehou en dan teruggery Mosselbaai toe om nóg te werk. Ek het myself tot in ’n mantelvliesbreuk gewerk. Ek het my ‘skoolgeld’ betaal, álles ingesit sodat ek nou kan waag en speel, en dinge doen wat my plesier gee,” sê hy.

As hy wil wegbreek, is Botswana bo-aan sy lys. Die Sentraal Kalaharireservaat, waarheen hy die graagste gaan, is pure wildernis, en jy moet jou eie water saamry en selfonderhoudend wees.

Daar in die natuur, terwyl die son sak, sy vuurtjie brand en die leeus om hom brul, word hy weer mens, sê Gerrie. Soos hy al gedig het: “As ek eendag dood moet gaan, gaan gooi my as by Matoppipan, en maak ’n vuur tot die laaste uur en speel vir my Koos Doep se ‘Herman’ nog net een keer.”

Paaseiland, waar Gerrie na Maria Ica gaan soek het. FOTO Verskaf