Nadia Valvekens het “Pippa”, die karakter wat sy die afgelope 13 jaar in die kykNET-sepie Binnelanders vertolk het, gegroet, haar hare bruin gekleur (“want ek kón!”), en is gereed vir vele nuwe dinge – eersdaags speel sy en die Fynskrif-aktrise Cintaine Schutte in die toneelstuk Huishou, wat landwyd gaan toer.

“Ek vertolk ’n ouer vrou wat op ’n jonger een, gespeel deur Cintaine, verlief raak. Dit gaan oor hoe mense hulself leer ken deur verhoudings – die uitdagings en hoe mense hulself daardeur skaaf,” vertel sy. Dit is die eerste keer dat die twee aktrises saamwerk. “Ek is bevoorreg en effe geïntimideer om saam met al die talentvolle mense te werk,” lag sy.

Die plakkaat vir die toneelstuk 'Huishou' waarin Nadia Valvekens en Cintaine Schutte die hoofrolle vertolk.

Haar grootste uidaging is om haar karakter in Huishou “real”, nie stereotipies nie, te vertolk. “Die teks deur Philip Rademeyer is pragtig, en die talentvolle Nico Scheepers doen die regie. Ek is eintlik oorweldig dat hulle my genader het om saam te werk.”

Sy het ook onlangs aan ’n telenovela, ’n verwerking van Deon Meyer-stories, geskiet saam met Deon Opperman. “Ek maak binnekort ’n draai in die kykNET-komedie Hotel … daar is heelwat projekte in die pyplyn waaroor ek nie nou veel kan sê nie.”

Nadia was vanjaar een van SARIE se voorbladsterre. Sy het op die voorblad van SARIE se Mei-uitgawe verskyn. FOTO Marijke Willems

En tussendeur doen sy ook korporatiewe stemopleiding.

“Maar toneelspeel bly maar vir my wonderlik. Daar is niks so magical soos die interaksie tussen die gehoor en die akteurs op die verhoog nie. Jy kry ’n energie wat jou voed.”

Die pragtige Nadia geniet haar lewe in die Kaap. FOTO Instagram/ Nadia Valvekens

Sy het die eerste keer geweet dit is haar ding toe sy op twaalf die toneelstuk Uit die bloute met die akteurs Anna-Mart van der Merwe (een van haar grootste ikone) en Gys de Villiers in die Staatsteater in Pretoria gesien het. “Iets het net gekliek en ek het geweet dit is wat ek ook wil doen.”

Maar sy glo Suid-Afrika het hópe talent: Sandra Prinsloo, Marius Weyers, Dawid Minnaar, Tinarie van Wyk Loots, Rolanda Marais, Jenna Dunster, Jacques Bessenger, Cintaine, regisseurs soos Nico, “ag te veel om op te noem”.

Afrikaans is haar ook na aan die hart. “Ek sê nogal baie ‘gits’ as iets my onkant betrap. En fopspeen is so ’n mooi woord vir dummy.”

FOTO Instagram/ Cylva Comb by Michelene

Hoe ontspan sy? “Ek draf op die trapmeul of buite, hier in die Kaap. Dit is net nou bietjie koud. En ek hou van joga. Of ek lees en kyk TV-reekse.”

Sy leef in die oomblik, geniet en is dankbaar oor alles. “My projekte is so uiteenlopend – ek leer uit elkeen iets anders. Van ’n sitkom tot teater, flieks – dit is altyd ’n spesiale ervaring om aan iets nuuts te werk.”