Só, beduie sy, het sy eers gesing, en sy trek los met ’n geforseerde, deur-die-neus stemmetjie. “Maar nou sing ek só,” sê sy, en laat waai weer, al sit ons in die sitkamer van ’n deftige hotel en die mense begin kyk. Dié keer klink haar stem heeltemal anders. Dis voller, meer melodieus. Sy sit agteroor en glimlag tevrede. “Ek is gesuiwer,” sê sy. “Ek is eerliker. Gestroop van fieterjasies.” Nádine (26), die sangeres wat ons al van kindsbeen af vermaak, het ’n transformasie ondergaan. Sy’s steeds die ene sprankel, hare lank oor die skouers en met ’n wilgerlatlyfie, maar dis ’n nuwe Nádine dié. Haar eerste internasionale album, This Time I Know, het pas verskyn. Agter haar is uitmergelende maande van opnames in Europa. Sy het ’n beroemde Sweedse stemafrigter gehad, gewerk saam met van die beste liedjieskrywers en musikante in die wêreld en self twee nuwe Afrikaanse liefdesliedjies geskryf. Liefdesliedjies, ja. Want Nádine is verlief. “Vir die eerste keer sing ek ernstig oor die liefde,” sê sy. Haar donker oë blink. “Ek het gevoel ek kan nou maar liefhê - en ek kan liefgehê word . . .” Nádine se “towerfee” wat haar talent tot nuwe hoogtes voer, is ’n dinamiese Belg, Hugo Foets. Hy is Dana Winner se agent/promotor en nou Nádine se bestuurder. Hugo het haar in Oktober 2007 tydens ’n besoek aan Suid-Afrika op ’n CD-samestelling hoor sing. “Haar stem het iets in my geroer,” vertel hy. “Musiek is die oordra van emosies, en as ’n sanger se stem jou raak, is dit magies. Ek het dadelik haar CD’s gaan koop.” Kort daarna wou Irving Schlosberg, uitvoerende hoof van die musiekmaatskappy EMI, Hugo aan een van hul kunstenaars voorstel. “Ek het sommer geraai dis Nádine en een van haar CD’s uitgehaal. ‘Hierdie is die grootste talent wat julle nog in dié land gehad het,’ het ek gesê. ‘Sy gaan ’n internasionale ster word.’” Hugo het Nádine in Januarie 2008 ontmoet. “Ek het dadelik geweet sy het alles wat nodig is vir ’n suksesvolle sangloopbaan: Talent, die krag en wil om te wen, ’n passie vir musiek én sy staan met albei voete stewig op die grond. Boonop is sy gaaf en sjarmant en pragtig van binne en buite. Sedert Maart 2008 het ons gefokus met ’n plan begin werk. Ons wens is dat Nádine oor twee jaar voor ’n gehoor van 10 000 bewonderaars in Sun City se Superbowl of die Cola-Cola Dome in Randburg sal optree. Ons wil ook oorsese gehore bereik. Duitsland, Nederland, Italië, Swede, Australië . . .” In April het Nádine die eerste keer op die vliegtuig geklim vir die opnames van This Time I Know.
Die aanvanklike, eksperimentele opnames is in België en Nederland gedoen, en die finales in Swede. Nádine. “Ek het agt keer soontoe gevlieg,” vertel sy. “In die begin het ek my mooi aangetrek. Pakkies, skoene, donkerbril . . . later, toe ek binne en buite die ateljee tot op die been van alles oorbodig gestroop was, net my sweetpak.” Toe sy daar begin sing, moes sy hoor wat sy gedink het is haar beste, is eintlik glad nie goed genoeg nie. “Dat dit nie die helfte is van wat ek kan gee nie, en dat ek my beste in mysélf moes soek.” Sy moes baie dinge afleer. “In die 13 jaar dat ek sing, het ek sekere gewoontes, soos die asemhaling van kunstenaars van wie ek hou, aangeleer. “Op my konserte het ek ook slegte gewoontes gehad. Ek het nie my stembande opgewarm nie, so my stem was styf. Ek het nie my keel oopgemaak as ek sing nie en kon dus nie my stem ten volle gebruik nie. Ek het ook geleer om die klanke p en b nie hard te sing nie omdat hulle in die mikrofoon raas.” ’n Stemafrigter, die Sweedse sangeres Anna Nordell, wat al agtergrondsanger vir bekendes soos Celine Dion was, het Nádine geleer om haar eie stem te gebruik en niemand na te boots nie. “Ook hoe om die emosies wat ek oor ’n liedjie voel oortuigend oor te dra. Dit was ’n sielkundige proses. Ons het op die ateljee se mat gaan sit en sy het my gevra wat ’n liedjie, of sekere woorde, vir my beteken. Ek moes selfondersoek doen, en dit was uitputtend. Skielik moes ek weggesteekte emosies na vore bring om die boodskap van die liedjies oor te dra. “Al die selle in jou liggaam het ’n geheue. As jy iets op ’n ander manier wil leer doen, moet jy dit herhaaldelik reg doen voor jou spiere dit onthou. Doen jy dit een keer verkeerd, is alles weer ongedaan. Ek het myself meer as ooit tevore gedruk. “Dit was ’n transformasie, ek het só verander.
Al die liedjies is regstreeks in die ateljee opgeneem - sommige drie keer.” Die CD was baie duurder om te maak as wat ons plaaslike albums normaalweg kos, vertel Nádine. “Hugo het ’n hele span bymekaar gebring en alles gedoen om die CD die beste moontlike kans in die Europese en Amerikaanse mark te gee. Daar is liedjies van Nick Manic en Lindy Robbins. Brian Paturalski het die album gemeng.” Dis mense wat al saam met bekende name soos Westlife, Backstreet Boys, Britney Spears en Faith Hill gewerk het.
Nádine erken sy het haar aanvanklik in diep water bevind.
“Maar ek het saam met die Swede hul lug ingeasem, hul koffie gedrink en vars broodjies geëet. Ek het soos een van hulle begin voel. Dit het my gehelp om nie meer te voel: ‘Ag, siestog, ek is net ’n onervare Suid-Afrikaner’ nie, en ‘ek is boonop moeg omdat ek so ver gevlieg het’. Ek het globaal begin dink en opgehou om vir myself verskonings te kry. Ek het geweet: Hier is my kans om my droom te leef. Ek het geen rede gehad om nie my beste te gee nie. Ek het myself te pletter gewerk, want tussen opnames het ek ook nog gereeld teruggevlieg en hier konserte gehou. Juis omdat ek so moeg was, was ek skoongewas van alle glitz en pretensie. Die rooi tapyte, die glans was weg. Ek wou net sing. Dit was ’n suiweringsproses.” Sy glo haar bewonderaars sal van haar stem se nuwe klank hou.
“By die Rittelfees op Vredendal in Oktober het ek my vertoning afgesluit met die titelsnit, ‘This Time I Know It’s For Real’. Toe ek die eerste keer daarna geluister het, was dit asof dit vir my geskryf is, en ek dink baie mense voel so. Gewoonlik dans en sing die mense terwyl ek optree, maar dié keer het hulle stil geword. Dit was ’n aardige gevoel wat ek nie kan beskryf nie. Ek is amper te bang om daaroor te praat, want ek wil die gevoel by my hou. Dit was ’n konfetti-oomblik. Op die TV-program Sweepslag het ek die lied ‘I Will Be Strong’ gesing. Toe ek sien hoe aandagtig die mense daarna sit en luister, het dit my aan die hart geruk. Dit was magies.” Nádine se voorkoms is onveranderd, maar “eerliker”.
“Hulle wou net hê ek moes die tierlantjies waaragter ek weggekruip het, uitlos. Vir die fotosessie vir die albumomslag moes ek opdaag sonder om eers te sonbruin of my hare of naels te versorg. Die stilis het alles vir my gedoen, van my wenkbroue gepluk tot my hare effens geknip. Daar is soveel eerlikheid in die foto’s wat Frank De Mulder (’n voorste Europese fotograaf) van my geneem het. Hy het só deur my gekyk dat ek amper voel ek wil die foto’s wegbêre. Ek lyk heeltemal natuurlik, gestroop van alle kamma-glimlagte vir die kamera.” Vir Nádine begin haar groot droom nou binne bereik lyk.
“As ek hardop mag droom . . . Ek wil ’n stadion met duisende bewonderaars vul. Om dit te bereik sal niks vir my te veel wees om op te offer nie. Ek sal oorsee gaan woon as daar vir my geleenthede is, of dit nou in Duitsland, België, Amerika of Brittanje is. Ek glo ek is sterk genoeg om die spanning van ’n internasionale loopbaan te hanteer. Ek het ’n moeilike pad tot hier geloop. Ek wil ook nie kinders hê voor ek in my loopbaan bereik het wat ek wou nie - ek dink nie voor ek so 35 is nie. Maar ek sê nie ek sal nie trou nie . . .” Sy wil nie oor die groot liefde in haar lewe praat nie.
“Ek het hom ontmoet terwyl ek aan die album gewerk het. Hy woon oorsee en ons het ons harte aan mekaar verloor. Dis ’n lekker gevoel dat daar iemand is wat vir my omgee, wat lief is vir my, wat die wêreld sal versit om my gelukkig te hou.” Die nuwe liefde skemer deur op die nuwe CD. “Voorheen het ek net ligsinnige liefdesliedjies gesing. Ek het vrae gevra soos: ‘Loer jy oor my skouer?’ (in ‘Kaapse draai’). Nou, vir die eerste keer, sing ek ernstig oor die liefde. Hoe ek daaroor voel, oor die kere dat ek seergekry het. Dis die eerste keer dat ek my hart in my lirieke en liedjies oopmaak.”
Nádine het die lirieke van twee van die drie Afrikaanse liedjies op die album in Swede geskryf. Die derde een, “Afrika Spore”, het sy ’n paar jaar gelede geskryf, maar vir dié album het sy nuwe lirieke daarvoor uitgewerk in ’n mengsel van Afrikaans en Engels. “Ek en drie liedjieskrywers het die melodie van ‘Vlug nie meer nie’ uitgewerk. Die volgende oggend het ek die lirieke geskryf. Ek hou daarvan omdat dit so intens en eerlik is. Dit gaan daaroor dat ek die dinge en mense wat vir my belangrik is naby my hou. Die volgende dag het ek binne ’n uur die woorde van die liefdesliedjie ‘Ons leef vir ons twee’ op die melodie van ’n Belgiese lied geskryf. “Op 26 is ek oud genoeg om te sê: Só sien ek die liefde. Ek weet nou die persepsie wat mense van my het, weeg nie swaarder as wie ek is nie. Ek is nie te jonk om lief te hê nie.” Nádine sing op 15 Desember by die Mej. SA-kroning by Sun City. “Nadat die laaste vyf finaliste aangewys is, gaan ek uitstap en ‘This Time I Know It’s For Real’ sing. Dis nogal skrikwekkend, maar ek is ook opgewonde oor die kans om voor mense van verskillende taalgroepe en kulture te sing. Ek wil wys ek is meer as net hierdie Afrikaanse popsangeressie.” Ons groet en sy stap na haar splinternuwe, pikswart BMW met leersitplekke en ’n sondak. By die huis luister ek na haar nuwe CD. Agter haar pragtige stem sien ek Nádine op ’n verhoog, tussen ligte soos skitterende sterre . . .