Op 15 April is sy as Jana de Wet in die vrouehoofrol in die musiekblyspel Lied van my hart saam met Steve Hofmeyr, Elzabé Zietsman, Altus Theart en Vaughan Gardiner in die Staatsteater in Pretoria te sien.

Einde Mei stel sy haar CD This Time I Know (haar negende solo-album met veertien liedjies op) in China bekend en sy keer 20 Junie terug. Plaaslik het die CD reeds goue status (20 000 verkope) bereik.

En sopas het sy teruggekeer van die Musical Classics 2012 in Rotterdam.
 
"Sang en musiek is vir my veel meer as konserte en CD-opnames. Dit verg dissipline, toewyding, lojaliteit en geduld. Musiek inspireer my en die bedryf frusteer my ook. Maar dit bly 'n uitlaatklep vir my emosies."

Sy was nog nooit in China nie en sien daarna uit om 'n nuwe mark te betree. "Ek wil graag die Tiananmen-plein, die grootste plein in die wêreld, besoek en natuurlik die Groot Muur. Ek sal báie foto’s neem!"

Hierdie "China-CD" het haar geleer dat sy as kunstenaar onder druk haar beste resultate kan lewer en dat sy haarself soms kan verras. Sy is boonop beloon vir haar harde werk met 'n Rapport/Vonk-toekenning in 2009. "Dis sekerlik die prys waarop ek dié trotsste is . . .

"Ek skryf meerendeels in Afrikaans en het op dié album die lirieke vir 'Ons leef vir ons twee' en 'So is jy' geskryf. Ek was ook mede-komponis vir 'Vlug nie meer nie'."

Sy sien báie uit na die nuwe ervarings in China, waar sy stede soos Shangai, Wuhan, Beijing en Wezhou gaan besoek.

"Onthou, álles is vreemd. Die leefwyse, kultuur, geskiedenis. Ek moet nog my stempel daar afdruk, maar dis goed om te weet my platemaatskappy glo in my album . . ."

Hoewel sy weet die kosse daar gaan nie dieselfde smaak as waaraan ons by Suid-Afrikaanse Chinese wegneemplekke gewoond is nie, sien sy uit na al die vreemde, anderste smake. "Maar kat, hond, perd of krieke sal beslis nie deel van my bestellings wees nie!”

En hoe gaan sy lyk met die groot Chinese "inval" op die verhoog?

"Oosterse flair is nie buite die kwessie nie. En my bestuur onderhandel oor 'n live band. As die senuwees begin knaag, dan raak ek maar besig met my vingernaels, maar ek probeer altyd net konsentreer op my asemhaling en 'n goeie postuur. Dít help."