Sy krimp ineen. Sy kan die oë op haar voel. Sy kyk rond of ’n onderwyser of ’n skoolmaat haar nie kan help nie. Maar almal kyk weg. “Ons het mos ’n superster in die skool. Nádine, staan op en wys vir ons hoe lyk ’n superster!” gil die matriekmeisie van die verhoog af.

Nádine hoor meisies giggel. Waarskynlik dieselfde groep wat haar handtekening op foto’s gevra en dit toe op die kennisgewingbord geplak het om ’n bespotting daarvan te maak. Seker dieselfde groep wat haar netjiese boeke opgeskeur en in die meisietoilette gedruk het. Gr. 8 aan ’n gesogte meisieskool in Pretoria was nie die regte tyd vir Nádine om haar eerste CD, Krappies en Krefies, uit te reik nie, besef sy. Maar sy weet haar ma het drie werke gelyk gedoen om geld bymekaar te maak vir haar droom . . .

Vandag is die kinderster ’n selfversekerde 25-jarige, maar sy het ’n behoefte om haar hart uit te praat.

“Ek het nog nooit oor my kinderlewe gepraat nie, maar ek is nou gereed daarvoor. Min mense weet dit was nie maklik nie.” Haar ouers is geskei toe sy nege maande oud was en van toe af het haar ma, Carine, haar alleen grootgemaak, met harde werk haar enigste kind se suksespad geplavei, haar van oorlewing en deursettingsvermoë geleer en om nooit toe te laat dat ander haar boelie nie.

“Enige ouer streef na die beste vir hul kinders. Nádine het my nog net trots gemaak. Ek dank die Hemelse Vader vir die voorreg om haar te kon grootmaak,” sê sy. Nádine bewonder haar ma se sterk karakter: “Sy’s nie die soort mens wat in ’n hoek sit en huil nie. Sy was en is nog altyd my ondersteuningstelsel.” Op skool het Nádine afguns op sy lelikste beleef. “Ek was eensaam en het net twee vriendinne gehad. Daardie tyd het my amper gebreek. Net my musiek het my aan die gang gehou. As jy die aand op Noot vir Noot opgetree het, moet jy weet jou skoolmaats gaan nie dink dis ’n prestasie nie, hulle gaan jou daaroor karnuffel.” Maar die afknouery het haar net meer dryfkrag gegee. “As ’n destydse skoolmaat nou by ’n konsert na my toe kom vir ’n handtekening, wonder ek: Waar was jý toe ander my verneder en gespot het? Hoekom het jý nie vir my opgestaan nie?”

Danksy haar ma se opvoeding is sy vandag ook uitgesproke as mense haar benadeel. Soos oor die prys wat sy gewen het as mentor van Shaun Tait, die 14-jarige wenner van die vorige Supersterre-reeks. Shumba’s Rest, die wildplaas naby Nylstroom waar sy ’n luukse huis van R1 miljoen gewen het, het finansiële probleme en daar is ’n moontlikheid dat sy nie haar prys gaan kry nie. Sy neem Patricia Lewis, die vervaardiger van Supersterre, kwalik, maar Patricia sê sy doen alles in haar vermoë om die saak uit te stryk.

Nádine het ’n moeilike tyd agter die rug. Haar loopbaan was ’n jaar gelede in groot gevaar. Ná maande se verkoues en lang ure op die pad was haar gestel af. Sy weet nou nog nie hoe sy deur die vorige Supersterre-reeks gekom het nie. Sy was dodelik siek.

 

Ek het yskoud geword. My stembande kon nie ’n suiwer klank laat deurgaan nie

 

En net ná Supersterre moes sy aan haar nuwe CD, As jy wonder, begin opneem. Sy is na ’n oor-neus-en-keelspesialis en hy’t ’n sonar van haar stembande geneem. “Ek het yskoud geword. Dik eelte het op my stembande gegroei en hulle kon nie behoorlik sluit om ’n suiwer klank te laat deurgaan nie. My sangloopbaan was in die weegskaal.” En ’n operasie kon haar stem verander. Die ander opsie was dat sy vir ses weke nie praat of sing nie. Sy sou nie Supersterre kon klaarmaak of met haar nuwe CD begin nie. Konserte was buite die kwessie.

“Ek het ’n span wat staatmaak op my inkomste en albei opsies was onmoontlik. Ek wou myself oortuig die dokter maak ’n fout. ’n Week later het ek ateljee toe gegaan om my CD op te neem.” Sy het die eerste liedjie probeer sing, maar daar het net wind uit haar keel gekom. Sy het huilend ineengestort.

“Die eerste keer in my lewe het ek geknak. My stem is my alles. Dis my veiligheidsone, ongeag wat fout gaan in my lewe,” vertel sy. Sy was kwaad vir almal om haar en ook vir haarself oor die druk waaronder sy was. “Maar ek kon nie ander mense die skuld gee nie en het selfondersoek gedoen en baie gebid: Here, U moet help, die enigste stem wat ek nog het, is die een wat ek met U deel.” Sy raak steeds emosioneel daaroor.

“Die dokter het weer rus, maar ook ’n stem-afrigter aanbeveel.” In Januarie was hy verstom - die eelte was byna weg. Die krisis het haar wakker geskud. “Ek het besef ek moet kalmer word. ’n Mens vergeet soms om te leef.” Sy bederf haarself nou gereeld met ’n nuwe horlosie, ’n koppie skuimende koffie of ’n muffin “dat die krummels oral spat”.

Sedert sy op 11 professioneel begin sing het, wou sy alles vir haar gehoor gee. Sy was haar eie grootste kritikus. Sy herken baie van haar ma se eienskappe in haar, maar ook die perfeksionisme van haar pa, Pieter, ’n ontwikkelaar van Heidelberg. Sy het as kind nie baie kontak met hom gehad nie, maar hulle het nou ’n beter band.

“Dit was nie vir my snaaks om alleen by my ma groot te word nie. Ek het gedink dit moet maar so wees. Ek het my pa min gesien weens konflik tussen my ouers.” Dit was vroeg al vir Carine duidelik haar kind droom van ’n loopbaan as sangeres. Sy wou net heeltyd sing. Van Nádine se tiende tot dertiende jaar het ma en dogter hard gewerk aan haar eerste CD. Carine het nie geld gehad om vir iemand te gee en te sê: Maak van my kind ’n ster nie. Maar met geduld en opoffering is Krappies en Krefies eindelik opgeneem. Sy het ’n maatskappy vir verspreiding genader en só het Ian Bossert Nádine se bestuurder geword. Hy is deesdae algemene bestuurder by die Afrikaanse afdeling van EMI, wat Nádine se CD’s uitgee.

Onder sy leiding het sy sowat 350 000 CD’s verkoop: ná Krappies en Krefies was daar nog Nádine, You and I, 44 Gunstelinge vir kinders, Simply Me, Nádine se grootste treffers, Mense soos jy en haar jongste, As jy wonder. Van haar CD’s het drie goue en een platinumstatus behaal.

“Ek het gesorg dat sy nie ryp gedruk word nie,” sê Ian. “Ek het nooit nodig gehad om haar as iemand anders te bemark as wat sy is nie. Die Nádine op die verhoog is dieselfde mens as die een in die gewone lewe.” Toe haar loopbaan begin momentum kry en die eise saam met die skoolwerk te veel begin raak, het Ian en Carine saam met Nádine besluit dat sy aan die einde van gr. 9, met die uitreiking van haar tweede CD, uit die skool sou gaan en haar skoolloopbaan met tuisonderrig voltooi. Dit het dinge heelwat makliker gemaak. "Ek was gelukkig akademies sterk en baie gedissiplineerd,” vertel Nádine.

Sy het nog nooit gevoel haar kinder- of tienerlewe het by haar verbygegaan nie. “Ek is steeds nie ’n meisie wat ’n naeltjiering sal dra nie. Dis net nie ek nie. Ek is konserwatief en het eers op 16 maskara begin dra.” Tog moes sy haar beeld deur die jare aanpas. Meisiekniebroeke het mettertyd plek gemaak vir jeans en Cats (Caterpillar-skoene) en dís weer weggepak toe sy volwassenheid bereik.

“Ek kies uitrustings wat my liedjies ondersteun. Ek hou van klere wat my vroulikheid beklemtoon, maar steeds baie aan die verbeelding oorlaat. Daar is ’n tikkie rebelsheid aan my styl. Soms koop ek ’n jean en sit detail by, bleik dit of kleur dit tot ek daarvan hou.”

 

Ek het besef ek moet kalmer word. ’n Mens vergeet soms om te leef

 

Ná een ernstige verhouding op 19 was daar nog nie weer ’n vaste man in haar lewe nie. Sy glo sy hoef nie getroud te wees om gelukkig te wees nie - en beken ook sy’s bang vir seerkry en daarom versigtig vir verhoudings. Oor die sanger Dozi praat sy wel. Daar is ’n ruk gelede baie oor hulle bespiegel. “Ek kon twee jaar gelede met hom in ’n verhoudig gewees het. Hy wou en hy het vir almal vertel hoe mal hy oor my is, maar daar was nooit iets nie. Hy is dierbaar en was na aan my hart, maar ek het vir myself gesê: Nádine, jy hou baie van die man, maar dink vir jouself: Hy wil trou en kinders hê en jy is loopbaan-georiënteerd. Jy wil nog so baie dinge doen, oorsee gaan, TV-werk doen. Julle gaan albei seerkry.” Sy het haar van die vriendskap onttrek toe Dozi en Muriël Lategan ernstiger begin raak het. Hulle is onlangs getroud.

“Ek voel seergemaak, want ek wou daar wees as vriendin, maar hy wou fokus op die meisie in sy lewe. Ek was daar vir hom, maar hy nie vir my nie.” Sy glo nie Muriël sou haar en Dozi se vriendskap verstaan het nie. “Ek is baie bly vir hom en ek weet hy en Muriël gaan lank saam wees. Ek sal hom steeds groet, maar ek weet hy het verander teenoor my.” Al wat Dozi by navraag wil sê, is: “Ek wens Nádine alles van die beste vir die toekoms toe.”

Toe mense onlangs begin wonder of daar iets tussen haar en Leon Schuster is, het hulle die saak bespreek en daaroor gelag. Leon maak geen geheim daarvan dat hy dink Nádine is oulik nie. “Sy’s ’n nice girl, een van die mees konstant groeiende kunstenaars wat ek ken. Dis duidelik dat sy nog hoër hoogtes gaan bereik.” Hy noem haar “’n sprankelende bondel energie wie se voete op die aarde is en haar kop op pad na die sterre”.

Ondanks alles is sy ’n groot romantikus en beslis oop vir ’n ernstige verhouding. “Maar dit moet ’n sterk, selfstandige man wees wat nie jaloers is of my probeer beheer nie.” Sy beken haar hardkoppigheid het haar al duur te staan gekom. Soos toe sy op 22 besluit het om haar lang hare af te sny. Iemand het vir haar gesê mense neem haar nie ernstig op nie omdat sy soos ’n jong meisie lyk. “Ian wou nie, maar ek het daarteen geskop. Dit was seker my rebelsheid wat laat ontwikkel het.“ Die volgende dag het sy haar oë uitgehuil van spyt.

Steve Hofmeyr, ’n jare lange vriend, som Nádine se groei as sangeres só op: “Klein snip, ek’s mal oor haar. Sy kan haar aansteeklike energie bottel en verkoop! Ek ken die meisiekind al lank en was verward toe sy my destyds vra om ’n liedjie vir haar te skryf. Ek skryf met ’n baie spesifieke, swaar en triestige Afrikaanse metafoor wat geen plek in die Krappies en Krefies-repertoire sou vind nie. ‘Kaapse Draai’ het selfs op haar volwasse CD opvallend uitgestaan, maar haar vertolking daarvan het my trots gemaak.”

Hulle het ’n paar jaar later ook saam dié liedjie op Steve se Platinum Treffers en toe weer op sy Laaities & Ladies gesing.“Sy, en in die ateljee het haar stemwerk en kreatiwiteit my al stom gehad,” sê Steve. “Sy’s besig om die toets van tyd te deurstaan deur koelkop te bly as die media jou stereotipeer of verneder. Dis een van die duurder pryse van roem en ek het al vele sien knak onder die druk.”

Nádine weet presies waarheen haar toekoms mik: “Ek reik uit na my horisonne. Ek het hard gewerk daarvoor,” sê die pragtige jong vrou wie se hare weer lank oor haar skouers hang.