"Die eina-oomblikke raak al minder. Maar daar is nog tye wat 'n gedagte onverwags deur my hart gaan en ek 'n "ouch!"- gevoel kry. Dan laat ek dit deur my sisteem vloei."

Natasha Sutherland se egskeiding met Steve Hofmeyr is nog nie afgehandel nie. Al het sy tot 'n jaar gelede nog 'n vriend gehad wie sy Flash Gordon genoem het, het sy gevoel sy is nog nie reg om weer hart en siel vir iemand lief te wees nie.

"Ek leef vir die nou en het geleer om die verlede te laat gaan. Dit laat my vorentoe beweeg. Ek raak meer bewus van my eie keuses. En ek onthou die liefde ... en minder van die hartseer."

Mens kan nooit ophou om iemand lief te hê nie, glo sy.

"Maar om uit 'n verhouding weg te breek en om die ander een vrede toe te wens (maar darem nie ten koste van jou eie welsyn nie - grense is belangrik ...) is 'n daad van LIEFDE. Sjoe dis moeilik, maar wonderlik as jy dit begin regkry!"

Haar verhouding met die geheimsinnige vlieënier, "Flash Gordon", het 'n doel gehad, glo sy.

"My tyd saam met hom was onmeetbaar goed. Hy was soos 'n geskenk. En ek koester die herinneringe."

 

Ja, dit gaan moeilik wees om weer vir iemand lief te wees soos ek Steve liefgehad het. 'n Deel van my hart sal altyd 'n leemte in die vorm van Steve hê. Daar is geen manier wat ek om dit sal kan beweeg nie. - Natasha Sutherland

 

Tog glo sy sommige verhoudinge is vir 'n rede of 'n seisoen deel van jou lewe.

"Ons verhouding het sy doel gedien. Ek kon insien dat dit nie 'n langtermyn-verhouding sou word nie. Ek het verkies om dit te beeïndig om alleen te wees saam met my seuns. Dit is goed vir ons."

Sy glo daar is eienskappe wat vroue sterk maak om 'n gebreekte hart na 'n man se ontrouheid te oorleef.

"Vroue het 'n instinktiewe vermoë om hoop te midde van groot pyn te hê.  Dis asof ons die eb en vloei van die lewe verstaan. Asof ons weet daar kan hoop en iets nuut uit die as van pyn opstaan. Ons weet die einde van een ding kan die begin van iets nuuts wees."

Vroue het uitmuntende vermoëns om op hul eie te herstel, glo sy. Maar iewers tussen ma, dogter, geliefde, vrou, sakevrou en vriendin wees, kan vroue hulself soms verloor.

"Ons is goed met 'n nuwe begin en het filosofiese hoop in eindes, maar iewers in die middel verloor ons onsself. Dit is waaroor my volgende boek gaan: Hoe kry jy dit reg om jouself en die wonder van jou menswees lief te hê as jy voel of jou gees jou verlaat het?"

Sy glo beslis nog aan die liefde, maar sy verstaan die konsep nou anders.

 "Ek dink dit is een van die belangrikste leermeesters in ons lewens. Ons het miskien 'n skewe beeld van liefde. Ons asossieer dit met soet en mooi dinge, maar dit is 'n kragtige emosie."

Natasha se nuwe kinderboek

Natasha Sutherland se nuwe kinderboek, Green & Blue, verskyn in Junie 2010. Dit gaan oor kinders en egskeiding en die uitdagings wat daarmee saamgaan.

 

Dit is volgens haar onrealisties om 100% vrede en geluk te probeer vind.

 "Ek dink ons verwar liefde soms met vrees. Hier is ek, 'n enkelma op pad na 40 en ek is gekonfronteer met die moontlikheid om nuwe liefde te vind. Ek moet myself gedurig vra waarna soek ek en hoekom? Het ek iemand nodig om die eensaamheid te verdryf? Is dit dan 'n keuse uit vrees? Het ek iemand nodig om my selfbeeld te poets? Is dit nie 'n keuse uit vrees nie? Of wil ek saam met iemand wees omdat ek dit mis om vir iemand lief te wees?"

Sy het geleer om haarself lief te hê en om die avontuur van groei as mens aan te pak. Sy het haarself nou so lief dat sy dit graag met iemand wil deel, sê sy.

Sy hoop uit haar hart sy sal eendag weer 'n man liefkry soos sy Steve liefgehad het. Met hart en siel.

"O ek hoop regtig so! Liefde is so 'n pragtige emosie. Ja, dit gaan moeilik wees om weer vir iemand lief te wees soos ek Steve liefgehad het. 'n Deel van my hart sal altyd 'n leemte in die vorm van Steve hê. Daar is geen manier wat ek om dit sal kan beweeg nie."

Sy beken dit was een van die moeilikste dinge wat sy in haar lewe moes doen: om iemand wie sy so baie liefgehad het, te verlaat.

"Ek moes kies om hom te verlaat want om te bly, sou my liefde vir myself skade aangedoen het."

Sy beskou haar jaar as enkellopende as 'n goeie sabbatstydperk. Sy staan nou weer voor die keuse om met mans te begin uitgaan.

"Ek het nogal die gewoonte om myself in 'n verhouding te verloor. Dit gaan dus 'n uitdaging wees. Maar om weer op iemand verlief te raak, sal weer nuwe lesse bring wat ek sal moet leer."

Sy spot dat vroue hulle seksuele toppunt glo op 40 bereik ...

"Eish! Dit is nogal skrikwekkend en opwindend! Hou vir my duim vas!"