“Nadat ek by hierdie reeks betrokke was, besef ek die bedryf het nie by my begin nie!” skerts Neil Sandilands, medevervaardiger van Impresario, kykNET se nuwe, insiggewende semi-dokumentêre reeks oor die lewenswerk van legendariese figure van die Suid-Afrikaanse teater-, televisie en filmbedryf, wat pas op Stellenbosch bekend gestel is. Die eerste uurlange episode begin Sondag 5 April. Daarna volg 18 halfuur lange episodes oor groot name soos Katinka Heyns, Jans Rautenbach, Dirk de Villiers, Trix Pienaar, Hans Strydom, Wilna Snyman, Cobus Rossouw ...

Hoe het jy betrokke geraak by die reeks?
My pad het gekruis met Albert Maritz (medevervaardiger) wie se droom dit was om die reeks te maak. Alle eer aan hom. Hy het al 12 jaar terug onderhoude begin versamel met mense soos Pip Freedman en Limpie Basson. Toe ek die kans kry, het ek eenvoudig ook op die kar gespring! Ek kon nie nee sê nie.


Wat het dit vir jou persoonlik beteken?

Ek is stom. Dit was ongelooflik om toegang te hê tot hierdie skat van kennis, hierdie groot geeste wat bereid was om hul huise vir ons oop te maak en hulself dieper oop te stel. Dis ’n intens persoonlike program, maar ook ’n stuk geskiedenis. Die oordra van lewenswysheid tussen generasies is so belangrik – die upward gaze, daai ding dat jy opkyk na iets groters as jy, soos Deon Opperman dit stel ... dit het in ons moderne samelewing ’n bietjie verval. Deesdae definieer laaities hulself teen mekaar – maar daar is soveel te leer uit die verlede, jy kan daardie dinge inkorporeer in die toekoms.

Tevrede met die eindproduk?
Ons het nie probeer om die definiërende produk oor Afrikaanse teater te wees nie, daar is soveel weglatings ... Maar ek glo, ek hoop ons het reggekry om tog by die kern van mense uit te kom, om ikone te vereer, maar ook om krities te wees oor die bedryf. Jy kan dalk dink: Is Pip Freedman of Limpie Basson se uitinge belangrik, ek weet nie ... Nee, dis sielsbelangrik!

Wat lê nou vir jou voor?
Ek het ’n paar lyne in die water, dis nog te vroeg om te sê.