Marguerite van Wyk het met haar gesels oor dié besonderse prestasie.
 
Dié toekenning is 'n ongelooflike pluimpie. Hoe laat dit jou voel?
Dis wonderlik om erkenning te kry vir jou werk. Dié liedjie het al die elemente van 'n kontemporêre treffer. Dis hoekom ek dit ingeskryf het.
 
Van waar die naam van die liedjie?
Ek het op die strand op Yzerfontein gestap en daar was die mooiste sonsondergang aan my regterkant. Links was 'n volmaan, net so bo die bultjie. Ek het my hande uitgestrek en die son en die maan daarin gebalanseer, en net weer eens besef dat ons alles in ons hande het. Ons is geseën met alles wat ons nodig het om van die lewe 'n sukses te maak. Dis in ons hande, ons moet dit net vasvat, glo en uitleef. "I Hold the Sun and the Moon in my Hands" is die eerste snit op my nuwe dubbelalbum Sand & Water en dis my gunsteling-liedjie.

Wat dink jy gaan dit vir jou sangloopbaan beteken?
Ek het al geleer om nie te veel verwagtinge te hê nie en altyd net my bes te doen. As iets daaruit voortvloei, is dit fantasties.
 
Die ander aand op die TV-program Supersterre het jy die ongelooflikste glam swart aandrok gedra. Wat beplan jy om na dié geleentheid in LA te dra?
As ek 'n borg kry en as ek die aand daar gaan optree, dan sal ek beslis een van Kobus Dippenaar se skeppings dra. Hy het ook die swart rok waarna jy verwys, gemaak. Tree ek op, sal ek my wenliedjie wat ek ingeskryf het, sing.
 
Sand & Water vaar goed, maar wanneer kan ons die volgende CD verwag, of is dit nog te gou om te vra?
Ek het reeds elf nuwe liedjies geskryf en daar is 'n paar ander projekte waaraan ek werk. Maar dis nog eers 'n geheim.
 
Wat maak van 'n mens 'n wenner?
Deursettingsvermoë.
 
Hoekom geniet jy dit so om te sing?
Want dit voel asof ek in die hemel is. Ek voel rustig en vry, sonder sorge, een met God. Besoek ook www.nianell.co.za.