Telkens het Christi Panagio, die gewilde 7de Laan-ster Karien, met sirkuspanache die applous gesteel. Deurentyd het die sirkusbaas haar guns probeer wen, en die hartseer nar het haar van ’n afstand met verlange dopgehou. En die flambojante perdetemmer? Hy het haar oor die wye vlaktes gevolg. Hoe dan anders? Hy bly tog haar man - Nico Panagio.

Dis ’n kleurryke, annerste en oordadige wêreld dié. Die wêreld van die sirkus. Waar Nico en Christi Panagio ’n dag lank die TV-kameras agterlaat en vir SARIE se kamera na ’n sprokie ontsnap.

Eers is Christi, beter bekend as Karien in 7de Laan, die “sirkusbaas”, Nico, se minnares. Sy poseer uitdagend terwyl die sirkus-artieste op die agtergrond hul toertjies doen en haar guns probeer wen! Kort daarna balanseer die akrobaat Christi, geklee in ’n bruin kantrok, haarself in ’n ring wat afhang uit die dak. Dan weer tem sy twee onrustige olifante of smeul à la Moulin Rouge met ’n pluiskeil op.

Met haar blonde skoonheid is sy die heeltyd in die hoofrol. Sy hardloop laggend in die veld, terwyl Nico met ’n ponie ’n kortkop agter is. Sy straal uitgelate op die sterkman se reuse skouers en sprankel in goud as die sirkus se showgirl, met Nico, die hartseer sirkusnar wat haar van ’n afstand bewonder.

In die regte lewe is Nico, vroeër bekend as George in 7de Laan en deesdae aanbieder van die joernaalprogram Top Billing, baie beskermend teenoor sy vrou. Dít sien jy gou by die fotosessie. Toe die fotograaf Christi op ’n groot, bruin sirkusperd wil afneem, keer Nico ferm: “Jy wil nie vir Christi op ’n perd sit nie. Sy’s bang vir perde.” Christi is sigbaar verlig en beaam sy’s skrikkerig. “Ons is mekaar se gemaksones. Van die oomblik dat ek gehoor het Nico gaan by die fotosessie wees, het ek geweet dit gaan pret wees,” vertel sy later.

“Ek was trots op haar, hoor,” sê Nico. Dan vertel hy hoekom ’n Afrikaanse meisie om meer as een rede ’n goeie trouvrou is. “Hulle is mooi. Hulle is mal oor vry. En hulle gee nie om as die man die man van die huis en die vrou die vrou van die huis is nie.”

“Ek wou ’n beroepsvrou wees toe ek jonger was,” sê Christi, wat verlede jaar 30 geword het. “Ek het nog ’n jaar gelede gedink ek wil eers later in my lewe kinders hê. Maar ek is skielik fine daarmee om by die huis te wees met ons kinders.”

 

Solank ek haar stem in my wêreld hoor, is ek oukei - Nico

 

“Ons idees is nie outyds nie,” verduidelik Nico. “Ons het albei dominerende persoonlikhede en ek het in ’n stadium gesê ons kan nie albei die leier in die verhouding wees nie. Ek en Christi het ons rolle gekies en ons aanvaar dit. Ons ken mekaar goed. Ek kan sien as sy gespanne is en ek weet hoe om haar gerus te stel. As iets mý pla, dink ek eerste aan Christi. Haar teenwoordigheid maak my kalm. Soms bel ek haar en sê net ek mis haar. Sy weet nie ek bel vir daai oomblik van verligting as ek met haar praat nie. Solank ek haar stem in my wêreld hoor, is ek oukei.”

By die huis sorg Nico vir hul twee Weimaraner-honde, Gia en Diego, en twee katte, Mexico en Cuba, en sien om na hul finansiële toekoms. “Christi maak ’n fantastiese geldelike bydrae en ons praat saam oor ons finansies, maar ek neem die finale besluite daaroor. Sy neem weer beheer oor ander aspekte. As ons iets moet beplan, soos ’n vakansie of ’n kuier saam met vriende, doen sy dit, want sy’s goed daarmee.”

Nico: “Ek is mal oor die idee dat my vrou my met ’n bord kos verwelkom as ek by die huis kom.” Christi: “Ek is weer mal daaroor om vir hom te kook.”

Nico: “Sy maak die ongelooflikste kos, maar sy kry nie altyd tyd daarvoor nie.”Christi: “Ek wil ’n homemaker wees . . .”

En so vul hulle mekaar se sinne aan.  Christi hét Nico al gevra of hy sou omgee as sy vir ’n rukkie ’n huisvrou is. Hy was mal oor die idee. “Ek wil nie hê my vrou moet werk as ons kinders het nie. ’n Ma moet daar wees vir haar kinders. Maar ek sal Christi nooit dwing om op te hou werk nie. Ek sal in elk geval nie kan nie, want sy kan nie stilsit nie.”

Christi voel jy moet doen wat jou gelukkig maak. Daar’s plek vir ’n beroepsvrou én ’n ma in die wêreld en sy’s nou reg om ma te wees. Hulle wil graag gou met ’n gesin begin. Dalk sal sy 7de Laan dan vir ’n ruk moet groet.

Die twee het by ’n dramaskool in Pretoria ontmoet. Die liefde het vlam gevat toe hulle in ’n teaterproduksie moes soen. Christi het geluister as mense praat van die “Groot Liefde”. “Maar ek het altyd gedink: ‘Whatever! Dit klink na movie love.’ En nou weet ek dit bestaan. Ek kyk partykeer vir Nico en dit voel of ek na myself kyk. Ons vul mekaar aan. Jy word regtig een met jou maat.” Nico: “Behalwe as ek haar in ’n bikini sien, dan is ons twee!”

Daar is tog klein goedjies in die verhouding wat pla. Nico vervang nie die leë toiletrol nie. Christi kan knaend oor detail raak. “Ek hou van ’n huis wat in geleef lyk, sê Nico. Dit moenie te proper wees nie. Ek het ’n manier om my sakke op die kombuistafel neer te sit as ons van ’n trip af kom en nie in die kamer nie. Ek sal my tasse twee of drie dae later uitpak, want ander dinge is vir my belangriker. Maar as Christi by die huis kom, word daai tas van haar dádelik uitgepak. Sy pak álles weg, enige tyd. Ek sê altyd vir my pêlle sy gaan hulle ook wegpak as hulle lank genoeg stilsit.”

 

Ek het deel van hul wêreld gevoel - Christi oor die sirkus-mense

Tussen Christi se vaardighede as organiseerder en Nico se sorgvrye ingesteldheid, vind hulle balans. Nico kan impulsief wees, maar gee toe partykeer moet jy vooruit beplan. Christi, daarenteen, leer by Nico om meer waaghalsig te wees.“Ons het een naweek by die Vaaldam geleer om te waterski. Ek sou dit nooit gedoen - én geniet - het as Nico my nie oortuig het om te probeer nie.” Sy kan ure in ’n tou staan om iets te betaal, hy nie. Hy redeneer en gesels maklik met mense, sy nie. Dis hoekom Christi die vliegtuigkaartjies op die internet sal bespreek en hul administrasie doen, en Nico mense bel as iets fout is met die rekenaar of Christi se selfoon. Wanneer hulle vassit, los hulle dit kalm op. “Ons glo nie daaraan om mekaar te verneder of te verskree nie,” sê Nico.  “Ons koel af vóór ons daaroor praat.  Partykeer moet jy kwaad gaan slaap en jou woede ‘afslaap’. Tree op as jou woede oorgewaai het en jy net die feite voor jou het.”

Hulle word beskou as een van Suid-Afrika se voorste glanspaartjies, maar Christi voel soms die kollig verblind haar. “Nico is ’n great celebrity. As aanhangers sy handtekening vra, is hy vriendelik. Ek kan partykeer daarsonder klaarkom. Ek geniet meer die waardering binne die bedryf as die aandag van die publiek. Ek is privaat. Dis hoekom ek maklik uit die kollig sal kan verdwyn. Ek kan maklik op ’n plaas bly en kinders grootmaak.”

En ’n plaas ís deel van hul toekomsplanne. Hulle wil graag eerste ’n dogtertjie hê. Die klein Panagios sal aan verskillende ervarings blootgestel word - sport, literatuur, musiek, Trompie én The Wizard of Oz.

Nico en Christi glo daaraan om speels in ’n verhouding te wees en skeer gereeld die gek of praat sommer met mekaar in verskillende aksente. Hulle besef elke oomblik saam is kosbaar, veral omdat Nico se ma, Loorita, twee jaar gelede aan pankreaskanker gesterf het.

“Om iemand so na aan jou skielik te verloor het ons laat besef ons gaan nie vir altyd saam wees nie,” sê Nico. “Ons doen klein dingetjies vir mekaar. Ek is soms lui en het nie energie nie, maar net omdat Christi langs my sit, sal ek haar hare streel. Want wanneer sy nie daar is nie, gaan ek wens ek kon dit doen.”

Hulle besef kinders leer uit die voorbeeld wat hul ouers stel en is dankbaar vir hul onderskeie gelukkige grootwordjare. Christi se ouers, Babsie en Chris, het twee jaar gelede ná 30 jaar se getroude lewe hul huweliksbeloftes hernu. Nico het by sy pa, Nick, wat in Pretoria bly, geleer om ’n vrou te respekteer. Sy ma is die een wat hom uitgedaag het om kaal op Sandy Bay in die son te bak - vandaar sy waaghalsige streep. “Sy’t gesê as ek die kans kry om enigiets te doen, dóén dit! As ek rekspring of bergklim, dink ek aan haar.”

Hulle beskou die tye wanneer Nico weg van die huis is vir Top Billing of as akteur werk, as nodige tyd weg van mekaar, solank dit nie te lank is nie. As Christi Saterdae laat slaap, gaan ry Nico fiets of stap met die honde. Later die aand, wanneer hy vroeg gaan slaap, het sy weer háár alleentyd. In die toekoms sal hulle saam TV-programme wil vervaardig en ook die verhoog wil deel.

Hul verhouding werk al agt jaar omdat hulle bereid is om bymekaar te leer en aan te pas. “As jy dít kan doen, is ’n fantastiese verhouding of huwelik moontlik,” sê Nico. Daar’s sonder twyfel ’n element van magic in hul verhouding, of eerder seëning. “Ons is Christene en ons het gevoel ons moet voor God belowe om ons lewens saam deur te bring. Dit beteken ons het Sy seën. Hy gooi emmers vol daarvan op ons,” sê Christi.

“Dis nie iets wat jy kan koop of skep nie. Dis net daar. Ons het movie love.