Sy skryf laat dit bars, verklap die blouoog ster. Só tussen klasgee, te midde van ’n pandemie, in die hart van ’n deurmekaar wêreld floreer die stories steeds in Nicola Hanekom se kop.  Die opdrag? Twéé draaiboeke vir speelfilms. Albei, wat se regie sy ook behartig, gaan volgende jaar die lig sien en op TV draai.

Die eerste, genaamd Op Straat,  gaan oor armoede post-pandemie ... ’n verhouding tussen ’n pa en sy dogter. Die tweede een is ’n riller vir jongmense, Plankekoors.   

Maar dis nie al nie ... Sy het befondsing gekry vir ’n derde rolprent: Die groen dak, wat handel oor verbode liefde gedurende Apartheid in 1961.

“Ek sukkel om al die stories in my kop te hou, maar geniet dit vreeslik.”

Nés die res van die mensdom was Nicola se wêreld ook omgedompel. Haar KKNK-produksie Mirre & Alwyn, wat bloed, sweet en trane geverg het, was gekanselleer. En sy moes geleer het om stil te word en net te wees. 

“Dit was asof ek vir ’n wyle myself nie kon oriënteer nie, want ek het lanklaas die moed gehad om ’n toneelstuk aan te pak. Skielik was die wind uit my seile.”

Maar toe was sy verbasend positief.

“Vir die eerste maand was ek heeltemal onproduktief. Dis iets wat ek myself omtrent nooit toelaat nie ... om leeg te lê!  Luiheid lei, volgens my, gereeld na te veel introspeksie en depressie ... ek vermy dit soos die pes, maar nie die keer nie. Ek was lekker lui.” 

Ná ’n maand het sy weer voor haar rekenaar ingeskuif om stories te skryf. “Maar vir ’n rukkie het dit gevoel of my stories nie geld nie ... Dit was asof ons planeet netsowel Mars kon wees. My werk het totaal en al irrelevant gevoel.”

Gelukkig, het Nicola een belangrike ding geleer: Sy het met die regte man getrou. “Ons het nooit krapperig geraak met mekaar nie. Ek het die tyd in afsondering met hom [akteur Grant Swanby] waardeer. Ek het asem geskep en hoewel ek oefening buite of by die gimnasium baie gemis het, was dit net ’n plesier om in die woonkamer saam met hom te Zumba.” 

Nicola Hanekom vir SARIE se September 2018-uitgawe. FOTO Willem Lourens

Die Swanby-huis het ook ’n belangrike projek gehad: ’n Catio, spesiaal vir hul twee nuwe katkinders, wat al die pad van Pretoria gekom het. “Ons neem ons ouerskap van katte ernstig op hier in die Swanby-huis.”

Gedurende die inperking en tydens die bou van hul katvriendelike patio, het hulle vir die kat-kinders met halsbande leer loop. “Die bou van die catio het ons maklik ses weke geneem en dit was woes, want aanvanklik kon mens niks koop nie. Ek het blikkies vis met my buurman verruil vir skuurpapier! Die hout en die dak is die dag voor alles gesluit is afgelewer.”

Nicola het lank reeds opgehou om haar waarde te meet aan dinge soos sukses, hoe sy lyk of watter motor sy ry. “Hoewel sukses my altyd gelukkig maak, ek is tog ook nes almal anders met ’n ego gevul, wéét ek voor my siel dat dit niks beteken nie. Die gejaag, die kastige status weeg net mooi niks nie. Op die ou end gaan ons almal ses voet ondertoe. Hopelik, as ons gelukkig is, ná ’n lang lewe.”

Sy glo dat die punt van die lewe eenvoudig is: “Om gaaf te wees, waardering te hê vir ons seëninge en te probeer om hierdie lewe te geniet.”

Nicola fokus op klein plesiertjies. “Ek sê dankie. Ek kan sien, ek kan loop, ek het ’n yskas vol kos, ek het ’n fantastiese man, ek is lief vir my werk, ek het ’n dak oor my kop, ek het twee katte, ek is net. Ek is in die oomblik en die volgende oomblik en dis oraait.”

En as sy bang word en die stem van twyfel vul haar kop, herinner Nicola haarself net weer en weer. “Niks maak saak nie. Wees lief en leef.”

Nicola, ’n storieverteller in murg en been, was nog altyd gekenmerk aan haar bereidwilligheid om ander se stories ook te vertel ... om op ander dromers ook te waag. Juis daaroor waag sy op ’n kortfilm genaamd Plaashuis.

Die storie handel oor een vrou wat skoonmaakdienste aan haar dorp verskaf. Eendag ontvang sy ’n oproep om ’n moordtoneel op ’n plaas buite die dorp skoon te maak. Sy vra die hulp van haar vriendin ... sáám word hulle gekonfronteer met die getuienis van ’n plaasmoord én wat dit beteken om verantwoordelik te wees vir jou medemens en die mensdom. 

Die storie kom uit die pen van bekroonde regisseur, Dian Weys. Sy vorige kortfilm Versnel is in 2017 by die Silwerskermfees bekroon vir beste kortfilm en beste draaiboek.

Die aktrise Martelize Kolwer en akteur Albert Pretorius gaan ook karakters in dié kortfilm vertolk.

Die kortfilm Plaashuis hoop om die lig te sien, danksy skarebefondsing.

Nicola vertrou Dian met haar hele hart. “Ek ken nie vir Dian goed nie. Ons kontak sover is per e-pos en net professioneel, maar dis so ooglopend dat hy integriteit het, dat hy slim is en sy werk sensitief, dat hy navorsing doen, dat hy omgee. Hy wil hierdie storie ordentlik vertel. Sonder om dit te verpolitiseer. Sonder sensasie.  Ek het dadelik besef toe ek die teks lees dat ek hier met ’n besonderse mens te doen het en dat hy ’n stem het wat gehoor moet word. Hy is so passievol oor films en oor hierdie storie.” 

Só passievol is Dian oor hierdie storie dat hy besluit het om die roete van skarebefondsing te volg. Die rolprent se mikpunt (begroting) is R208 200. Daar is reeds R64 000 geskenk. Sodra Dian-hulle die mikpunt haal, kan hulle die storie verfilm.

“Die feit dat hy die skarebefondsing roete gaan, bewys vir my dat hy ernstig is. Ek het ongelooflike respek vir enigiemand wat onafhanklik steeds voortgaan met ’n projek waaroor hul passievol is, want dis ’n moeilike roete.  Jy moet hare op jou tande hê en net aanhou, al weet jy nie hoe en of jy jou doelwit gaan haal nie.”

Sy weet waarvan sy praat. “Ek het die pad gestap met my speelfilm Cut-Out Girls, nadat ek aan baie deure geklop het en net “nee” vir ’n antwoord gekry het. Ek móés daai storie vertel en niks sou my stop nie. Ek dink dis die keer dieselfde vir Dian. Dis belangrik. Dit tel. So ek staan agter hom 100%.”

Nicola reken dat Dian ’n groot filmmaker in ons land gaan wees. “Ek weet dit net. Die plaasmoordtema is een waarna gekyk moet word.  Ek is net bly dat dit Dian se blik is waaraan ek deel het. Beneweens dit, is die rolle net wonderlik en bied dit uitdagende geleentheid om weer te speel. Ek kry deesdae min geleentheid om te speel, so kan nie wag nie. Ek vertrou hom.”

Wil jy ook ’n bydra gee vir die kortfilm Plaashuis?

Besoek die kortfilm se amptelike blad.