’n Loom Sondagmiddag met die TV wat eenkant speel. Op die skerm is ’n Hollywood-weergawe van Aspoestertjie in moderne gewaad. Tussen die jongetjies wat energiek sing en dans, spring een gesig skielik uit. Donker bos hare, lewendige oë, die goeie fee met ’n grimeerkwassie as towerstaf. Trots Suid-Afrikaans, ons eie Nicole Fortuin. Só in haar element, asof sy elke dag ’n hoofrol in ’n internasionale fliek speel.

View this post on Instagram

Happy Spring Day everyone. Happy 2nd Birthday @injuly_fashion. Time to reflect, celebrate and refuel. Four more months of 2018, time to bloom. ?? #springfever by @jefflovesphotography.

A post shared by Nicole Fortuin (@itsnicolefortuin) on

Moenie geflous wees nie. A Cinderella Story: If the Shoe Fits was haar eerste hoofrol nog in ’n fliek en sy was heeltemal uit haar nate daaroor. Net om die Warner Bros.-embleem oor die skerm te sien flits was ’n gevoel wat sy moeilik kan beskryf. “Nadat ek my dramastudies aan die Universiteit van Kaapstad voltooi het, was ek oortuig ek gaan eers sukkel om werk te kry. Maar met my eerste oudisie kry ek ’n hoofrol in die SABC2-reeks Roer jou voete. En ek dog nog dinge kan hierna net afdraand gaan, toe kom Cinderella oor my pad.”

Watwou afdraand. Sy was sedertdien verskeie kere op die silwerdoek en kykkassie, onder meer as Lee-Anne in Alles Malan. Sy is boonop vir ’n Fleur du Cap benoem vir Oleanna in die Fugard-teater in Kaapstad. Tans is sy in Netwerk24 se aanlyn blitskomedie Op en Af*, haar eerste komedie. Binnekort begin Flatland** draai, ’n kontemporêre Wilde Weste-fliek waarvoor sy moes leer perdry. Talita (Oumie in die fliek), die perd wat amper self ’n karakter word, het haar hart gesteel. En sy Talita s’n.

Só rol die eerstes verby. As Bul (Taurus) hóú sy nie van verandering nie, maar sy het ook ’n lekker klap Boogskutter (Sagittarius) weg. En dié sterreteken wil net skuur, soek aanmekaar uitdagings. Nicole is maar alte bewus van die uiteenlopende trekke wat in haar stoei. “In matriek was ek voorsitter van die hip-hop-vereniging, maar ook biblioteekmonitor. My skoolrok was ’n kuis knielengte, maar my hare krullerig en wild. Ek was leergierig én Settlers High in Bellville se rasieleier.”

Jy eien haar dadelik in die Durbanvillese koffiekroeg aan die donker krullebol en skraal, regop lyf. Daardie regop houding is danksy die dissipline van jare se dans. Die groot bril verwar jou momenteel; haar sig is nie watwonders nie en sy het reeds korrektiewe chirurgie daarvoor gehad. Maar die oomblik wat sy begin ontspan, waai die bril ook. Soveel gesigte waarmee sy gemaklik omgaan. In mode- en kunsfoto’s smeulend met hoekige wangbene waaroor die lig streel; of Nicole hier voor jou met sproetjies en die weerloosheid van ’n jong Jennifer Beals.

Die karakters wat sy vertolk, raak ’n verweefde tapisserie met haar eie lewe. Met rolle wat haar verryk en daardie ervaring voed weer die karakters in wie se skoene sy stap. “In ’n episode van die M-Net-reeks Projek Dina was ek ’n ma wie se kind verdwyn. Dit was nogal vreesaanjaend; ek is nie self ’n ma nie en nou moes ek boonop een speel wie se kind wegraak. Jy kan navorsing daaroor doen, maar dit voel steeds soos ’n groot ding.

View this post on Instagram

Eye-ing the weekend like ?? ...

A post shared by Nicole Fortuin (@itsnicolefortuin) on

Ek het ’n ma en vriendinne wat ma’s is en wou die rol die gravitas gee wat dit toekom. Ek het baie gedink hoe dit sou voel om my ma of my broer te verloor en in daardie gevoel gedelf. Nou moet ek eerlikwaar sê die gedagte om kinders te hê, het nooit juis voorheen by my opgekom nie. Maar daardie rol het iets binne my aangeraak. Nou dink ek baie daaraan. In Op en Af speel ek Ilse teenoor Marlo Minnaar se Charlie, pasgetroud, smoorverlief. Ons wil ’n baba hê, maar dan begin die stryd. Daarvoor moes ek verder in my ontwakende moedersinstink waad.”

Nicole was op die verhoog vandat sy op drie ballet begin neem het. Haar ouma wou ’n danser wees en haar oom ook. Hul wens . . . dit het deur haar uiting gevind. Maar wat sy die meeste daarvan geniet het, was om ’n storie te vertel. “Ek was so elf en Belle in ’n moderne dansproduksie van Beauty and the Beast. Van die kinders was koppies, pierings, heerlik . . . Ek het besef ek is lief vir dans, maar wat ek regtig graag sou wou doen, is om karakters te vertolk.”

View this post on Instagram

#ladyliberated ?? by @sjvanzyl

A post shared by Nicole Fortuin (@itsnicolefortuin) on

Eers in matriek het sy begin dink dat drama ’n loopbaan kon word. Nietemin het sy haar opsies oopgegooi: by Ikeys se drama-, dans- en kunsskole aansoek gedoen. Sy is vir die drama- en dansskole aanvaar. (Vir kunsskool moes sy nog ’n paar hekkies oor.) “Ek het gevoel ek wil dié ding [drama] doen. Dit was ’n risiko, want ek was nog nooit in ’n toneelstuk nie. Die ander studente wás en het die en daai een geken. As ek terugkyk, was dit ’n seën want ek was honger om te leer. Ek het als opgeslurp, als was so opwindend. Mense sou sê: ‘Jy speel ’n ékstra in ’n fliek?’ En ek: ‘Dis wonderlik, ek leer!’”

Só was sy in haar finale jaar ’n ekstra in die wetenskapfiksie-fliek The Giver met onder andere Meryl Streep. Verlede jaar woon sy die première van Flatland by die Toronto Internasionale Filmfees by. Sy gaan luister na ’n praatjie van dame Meryl. Toe die ikoon later in ’n motor klim, kyk sy op, vas in Nicole – en waai! “Ek het net daar plat op die sypaadjie gaan sit. Natuurlik het sy my nie onthou nie . . .”

Die oorgang van danser na aktrise was bietjie van ’n ding. Sy kon ’n verhaal met haar lyf vertel, maar haar stem was ’n ander storie. “Vir lank was ek skrikkerig vir aksente. Dit het gevoel asof daar ’n hele taal tot my lyf se beskikking was, maar nie my stem nie. My stem was baie hoog en ek moes dikwels hoor: Verlaag jou stemregister, moenie bang wees om jou stem te gebruik, om op en af te gaan en al daai dinge nie. Ek het nooit besef watter integrale deel jou stem is van wie jy is nie. Maar nou kan ek dít doen.” (Maak haar stem laag en donker.) “En dit.” (Hoog en lig.) (Lag.)

As prinses Aurora-Adora in Janice Honeyman se pantomime Sleeping Beauty moes sy die eerste keer sing. Sy sing ook in Cinderella. Sy trek haar asem in. “Ek doen aanmekaar dinge wat my benoud maak, ek dink ek het ’n fobie om voor mense te sing. Toe ek baie klein was, was ek ’n solo in ’n koor. En ek vergeet my woorde! Daai onnie het my so ’n kyk gegee wat sê: ‘Wat dóén jy?’ Vir jare daarna kon ek nie voor mense sing nie. My ma por gedurig: ‘Ma’ jy moet sing vir die mense’ . . . nou nog as daar kuiergaste is. As sy my in die stort hoor sing: ‘Nou weet ek my dogter is tuis.’”

“Tuis” is Belhar in Kaapstad. Sy is min daar, haar loopbaan maak haar bietjie van ’n gypsy. Dan hier vir ’n rol, dan daar vir nog een. In haar motor se bagasiebak is ’n krat met jeans, plat en hoëhakskoene, T-hemde en selfs twee pruike: lank met krullerige en kort met reguit hare: Sy moet vinnig van gedaante kan verwissel as ’n oudisie opduik en ’n sekere voorkoms verg. In die daaglikse handel en wandel hou sy van gemaklik aantrek, maar altyd met iets treffends by. Vanoggend word haar bonkige, wit oorbelle, gekoop op ’n Londense markie, dadelik ’n gesprekspunt. Gee haar egter kans om op die rooi tapyt uit te hang en sy speel met uitrustings en kleure. “Ek hou van vintage-modes, klassieke lyne, sagte kleure. Maar ek skrik ook nie vir funky en modern nie.”

Kreatiwiteit, eens ’n manier om te ontsnap, het ’n steunpilaar geword. Op sosiale media gebruik sy kuns en fotografie as invalshoek. Sy is visueel ingestel, lief vir fotografie, om foto’s te redigeer. En haarself te transformeer vir rolle of foto’s. Aanvanklik was dit net vir die pret. Verlede jaar het sy egter by ’n modelagentskap aangesluit en doen nou advertensiewerk vir TV en die gedrukte media. (Sy was ’n bakker in ’n onlangse Absa-TV-advertensie.)

Sosiale media gee haar ook die geleentheid om ’n bewustheid te help kweek van kwessies soos geweld teenoor vroue en geestesgesondheid. Sy was in die tydskrif Marie Claire se “naak”-uitgawe, kunstig gedrapeer sodat als aan jou verbeelding oorgelaat word. Met die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep (SADAG) as haar gekose liefdadigheidsorganisasie.

Voorsitter van die hip-hop-vereniging, rasieleier op skool . . . Dis dus ’n verrassing dat sy as kind dikwels soos ’n buitestander, so ’n bietjie verwyderd van haar skoolmaats gevoel het. Haar dansery het haar dikwels oorsee geneem, van dié na daai danskompetisie toe: Los Angeles, Griekeland, Rusland . . . en dit als voor sy in graad tien was. Plekke waarvan haar maters maar net kon droom. Dalk was sy ook meer volwasse omdat sy altyd maar geweet het die verwagtinge van haar is so groot.

FOTO SJ van Zyl
FOTO SJ van Zyl

“My ouers was die eerste (en tot vandag toe enigste) van hul familie met tersiêre opleiding. En om hul eie kar te bestuur. Daar is ’n geskiedenis van alkoholisme en mishandeling in die breër familie. Ek was altyd bewus daarvan, hoewel my ouers my en my jongste broer, Paul, daarteen probeer verskans het. Hulle het ons Engelssprekend en middelklas grootgemaak. Ek het die eerste keer alkohol, ’n glas sjampanje, gedrink toe ek so 19 was. Want daai vrees is in jou vasgelê, dat die geskiedenis homself kan herhaal.”

View this post on Instagram

Whatever you're not changing, you're choosing.

A post shared by Nicole Fortuin (@itsnicolefortuin) on

Haar ouers, Diane en Leonard, het hulself deur harde werk, vasbyt uit hul omstandighede opgehef. (Sy is tans verplegingbestuurder by ’n spesiale kliniek-eenheid by die Tygerberg-hospitaal en hy direkteur van biblioteekdienste in Kaapstad.) Dít en die toestemming om te droom. “Mense sonder baie materiële goed voel dikwels hulle kan nie groot droom nie, maar jy kán en móét. Ekself het ’n gemaklike kindertyd gehad vanweë my ouers se vasberadenheid en ywer. Ek het hulle dopgehou en was nooit bang om die een te wees wat die hardste werk nie.”

View this post on Instagram

Be often in the process of positive change(s). ??

A post shared by Nicole Fortuin (@itsnicolefortuin) on

Verlede jaar was daar die kans op ’n hoofrol in ’n Hollywood-film met Angelina Jolie en ander groot name. Die keuse was tussen haar en ’n Britse aktrise, twee maande lank is daar gewik, geweeg – en toe kry die ander vrou die rol. Sy gooi haar hande in die lug. “As ek dit gekry het, sou dit alles verander het. My loopbaan laat vlamvat het op ’n manier wat ek my nie eens kan verbeel nie.” Maar sy het haar dadelik weer in haar werk gewerp. Sy het immers altyd geweet harde werk is die belangrikste deel van ’n droom verwesenlik.

View this post on Instagram

#BACKBONE ??

A post shared by Nicole Fortuin (@itsnicolefortuin) on

Ja, daar is iemand spesiaals. “Ons het op stel ontmoet, maar hang dit nie aan die groot klok nie. Ek sê niks meer nie!” Wenk: Hulle het verliefdes gespeel. 

*Al die episodes is vir ’n onbeperkte tyd op Netwerk24 beskikbaar aan intekenare.

** Flatland begin op 10 April in Ster-Kinekor-teaters draai.