Nina Swart is te helder om te mis. Selfs met haar nuwe wegkruip-voorkoms: kortgesnyde pikgit hare, kabouter-punte, grote sonbril en breë, vriendelike mond. En dit is ’n reusagtige sonbril, daardie, een à la Jackie Onassis.

Die hande is egter dieselfde . . . Fladderend soos voëls voor haar gesig verby - besig om al weer die een of ander nuwe koers die lug in te vleg. En sy práát. Aanmekaar. Sin. En nie noodwendig heeltyd met my nie. Haar selfoon is ’n besige bytjie. Nina is hier reg voor my oë rats besig om die produksie van ’n video vir ’n skoolprojek aanmekaar te sit. En sy reël alles: regisseur, kameraman, beligting, teksskrywer, musiek, rekwisiete, aanbieders. Selfs, klink dit my, die verversings. Dan skakel sy beslis die foon af.

“’Skies man, party van die mense repeteer en dan is dit onmoontlik om hulle in die hande te kry. En ons moet hierdie produksie nou dringend aanmekaarslaan.” Nina val haarself in die rede. “Wil jy nie eet nie? Ek is lus vir hoender. Of eier. En ek gee nie om watter een eerste gekom het nie . . .” kekkel sy. Bestel baie eier en roosterbrood en brei uit.

“Dis mos dié soort ding wat vir my die heel, heel lekkerste is. As ek één talent het, is dit om verskillende mense wat wonderlik is en wonderlike goed doen, by mekaar uit te kry. Soos nou met hierdie bekendstellingsprogram . . . Om alles en almal so saam op te stel is vir my die kreatiefste gebeurtenis. En dit is ’n ontladingsgeleentheid. Ek het nou onlangs gaan sit en die hele reeks van die TV-drama 24 op DVD gekyk - een van die karakters het hierdie wonderlike manier om spanning te absorbeer. Hy kry dit reg om te ontlaai deur besluite te neem. En dis waar ek wil wees.”

Sy dink nie sy het talente nie? “Nee, en ek is eerlik daaroor. Ek ‘werk’ vir die soort programme  waarin hulle my gebruik, maar ’n ware, diepgewortelde talent soos wat iemand soos Helen Mirren of Gary Oldman het . . . M-m. Nee. Ek weet ek het baie energie en kan goed onthou en en en . . . maar die kanaal kort.”

Nina is nou weer te sien in 7de Laan ná ’n afwesigheid van drie jaar. En al haar bewonderaars sal nie noodwendig met bostaande stellings saamstem nie. Hoewel sy nogal wonder hoe hulle gaan reageer op die roeringe tussen haar en George (Nico Panagiotopolous). “Ek dink beslis daar gaan mense wees wat onverbiddelik gaan reageer oor Wilmien se toetrede, al het hulle nog altyd heimlik gehoop dat sy en George bymekaar uitkom. Mense het al teenoor my opgemerk dat hulle eintlik saamhoort.

“Dis die heerlike storielyn wat my na 7de Laan teruggelok het. Ek is gek na George en wou graag deel wees van ’n storie met hom. Ek glo die liefdesdriehoek is met deernis en begrip aangepak. Ek het begrip as die groot liefde jou tref - ek glo in Wilmien se groot liefde - alles is ondergeskik daaraan.

“Ek glo ’n mens moet álle kanse op geluk aangryp, maar op ’n verantwoordelike manier. ’n Mens lewe net een keer. Solank jy nie so ’n besluit op ’n whim neem nie. Ek het nog nooit in my lewe aspris ’n verhouding opgebreek nie, maar sommige verhoudings het eenvoudig ’n lewe van hul eie. Ek wil nie verantwoordelik wees vir ander se ongeluk nie,maar ook nie vir hul geluk nie.”

 

Ek is gek na George en wou graag deel wees van ’n storie met hom

Dit was lekker om terug te wees, al is dit net vir ’n kort rukkie. “Ja, 7de Laan is ’n bietjie van my comfort zone. ’n Mens moet egter self sorg dat dit ’n uitdaging bly. In dié stadium is dit nie vir my beskore om permanent terug te gaan nie, want ek is werklik tuis en gelukkig in die Kaap. Ek was baie ongelukkig in Johannesburg vir die drie en ’n half jaar wat ek daar was. Dis eenvoudig net nie my dorp nie. Ek het ’n plek met ’n berg nodig, want dis waar ek die gelukkigste voel. By ’n berg.”

Vandat lesers in Januarie verlede jaar in SARIE oor Nina gelees het, het sy ’n hele paar dinge aangepak. In die onderhoud het sy genoem dat sy baie drome het - soos om ’n restaurant te begin en dat sy ook in ’n stadium graag teologie sal wil begin studeer. Het dit alles gebeur? Sy giggel. Nee werklik, giggel.

“Ja, nè - en toe het ek geeneen van dié twee gedoen nie! Ek stel wel baie belang in die proses waarmee die kerke in vandag se samelewing betrokke is - naamlik om ’n plek vir hulself te vind in ’n postmoderne wêreld. Ek bly steeds op die hoogte van teologiese ontwikkelings en debatte, maar ek swot nog nie weer nie.

“Ek het wel as inhoudsregisseur werk gedoen by die Revlon Supermodel 2006-produksie op SABC2. Dit was heeltyds my werk vir die eerste helfte van die jaar. Kort ná die produksie het ek begin werk aan 7de Laan, en nou is ek terug in die Kaap, besig om korporatiewe video’s te maak.” Sy het intussen ook in Known Gods gespeel. Dit is daar waar die hare se snip-snip begin het.

Maar hoekom het sy in die eerste plek die 7de Laan-stel verlaat? “Alles het ’n bietjie oorweldigend geraak. Ek het weggegaan omdat ek ’n bietjie verder wou ontwikkel . . . Ek het besef niemand gaan vir my regiewerk gee as ek geen ervaring het nie - die bietjie regiewerk wat ek by 7de Laan gedoen het, was eenvoudig nie genoeg nie. En ek het besluit om self soveel as moontlik te doen en te leer, om te verseker dat mense nie ’n risiko neem as hulle my as regisseur aanstel nie.

“Natuurlik voel ’n mens nogal onseker oor jou eie vaardighede, veral ná ’n lang tydperk op ’n sepie-stel. Ek het op ’n punt gekom waar ek nie geweet het of ek kán toneelspeel nie. Ek het nie geweet of ek wíl toneelspeel nie. En ek het begin wonder of regie iets is wat ek sal kan doen.

“Al die werk wat ek die afgelope drie jaar ná 7de Laan gedoen het, was gemik daarop om meer van regie te leer. Wanneer ek toneelgespeel het, het ek die regisseurs dopgehou. Wanneer ek in ’n produksie was of ’n program op TV aangebied het, het ek gekyk hoe die regisseurs te werk gaan om dit te laat gebeur.Op ’n manier het ek vir myself selfopgelegde  in-house-opleiding gegee. Ek het myself ook aan die diep kant ingegooi by ’n produksie soos Supermodel, en ek het myself omring deur uiters bekwame en ervare mense. En ek het geleer en geleer en geleer oor alles van die bedryf!”

 

Die Nina-manier is om so min as moontlik van die ware self te wys, om bietjies-bietjies weg te hardloop

 

“Die dinge hierbo is wat ek uit hierdie jaar neem: Daar is ’n stadium wat als goed gaan - jy het ’n vaste werk by ’n sepie, met ’n goeie salaris. Máár die heeltyd is daar ’n stemmetjie in jou kop wat sê dat jy iets anders ook moet probeer. Wat doen jy dan? Jy los die gerieflike werk, pak die bul by die horings en gaan doen wat jy dínk jy eerder moet of wil doen.

“En, op die ou end weet jy of daai stemmetjie reg was. En as hy dalk verkeerd was, is dit net tyd wat gemors is. Maar jy het ’n great ride gehad! As die stemmetjie rég was, val jy elke aand op jou knieë van dankbaarheid dat jy uiteindelik die guts gehad het om jou instinkte te volg. En dit is waar ek nou is - ek volg my instinkte. Ek weet nog nie heeltemal of ek op die regte spoor is nie, maar dit is, soos ek sê, ’n great, great ride!”

Sy besef dat daar dalk nou weer geweldige medialigte op haar gaan skyn. Is sy voorberei daarop? “Ja en nee. Al die aandag, die media . . . Almal wat voortdurend oor jou binneste binneruimtes wil uitvis. Dit is eintlik een hele groot onwerklikheid. En eintlik is ek ’n uiters private mens. Máár, daar is myns insiens drie maniere om al dié soort aandag te verwerk of te beleef. Daar is die Nico-manier (George) - hy maak sy arms oop, stap vorentoe en sê: ‘Kom, wêreld!’ En hy omhels dit. “Dan is daar die Neil-manier (Bart), ’n mens wat aangaan en presies homself is en daardie self orals uitleef, met al sy idiosinkrasieë - selfs in die openbaar - en dan die gevolge in die oë kyk. En dan die Nina-manier . . . om so min as moontlik van die ware self te wys, om bietjies-bietjies weg te hardloop. Ek sal eintlik graag eendag net heeltemal wil verdwyn.”

Dit gaan moeilik wees vir iemand wat op dieselfde dag as Mohandas Gandhi en Sting gebore is om weg te raak. Dis asof dit in haar sterre geskryf staan dat sy gesien sal word. Dié Nina Swart-mens brand helderder as die meeste van ons.