In 'n destydse onderhoud met SARIE sê sy:

"Stilte is wonderlik, ek herlaai in stilte. Maar dit gee my nie woema nie. Dáárvoor het ek mense nodig. Die mensdom fassineer my. Omdat elke mens uniek is. Van hul hare tot hul siel. Hul detail betower my. Want hulle is anders as ek."

As sy eendag terugdink aan haar lewe, wil sy weet sy het ander goed laat voel.
"Mense onthou nie soseer wat jy gesê het nie, maar hoe jy hulle laat voel het."

Sy hou haar nou besig met die oorklanking van radiodramas, vryskut-fotografie en -regiewerk. "Ek glo die grootste waagstukke in die kleine is om daagliks ongefilter met ander te kommunikeer en jouself bloot te stel. Op groter skaal is dit om ten volle kreatief te wees en my beste te lewer. Of dit nou die regie van ’n studenteproduksie, die skryf van ’n toneelstuk of die neem van ’n mooi foto is."