"Natuurlik sal ek dit mis. Sedert 1991 was dit my voltydse werk saam met Johan Stemmet en sy span. Ek het net in die nag van 27 Oktober 2011 gedink: Dalk moet ek maar sê môre is my laaste dag. Dit was toe ons die laaste twee episodes van reeks 37 opgeneem het. Geen spesifieke rede nie, behalwe dat ek 67 is en gedink het dis tyd om plek te maak vir ’n jonger geslag in die Musiekfabriek.

Dit was al die jare my en Johan se beleid om voor en agter die kameras aan te pas om die program vars te hou. Ons het geglo mense is nooit belangriker as die program nie. As ons oor ‘aftree’ gepraat het, het Johan altyd gesê: ‘Jy sal weet as die tyd daar is.’ Ek het daardie aand geweet.

Ons het nooit gedink dié program sal so lank aanhou en uiteindelik die belangrikste ding in ons daaglikse lewe wees nie. Om saam met die Musiekfabriek musiek te maak was die lekkerste. Hierdie ouens is briljante musikante en boonop nice mense. Ons het altyd baie grappies tydens oefeninge en opnames gemaak. Die kameraadskap tussen my, Johan en die span was kosbaar. Dís my grootste afskeidsgeskenk van die Musiekfabriek.

My en Rina [Hugo, sy sangeres-vrou] se nuwe huis in Midstream, suid van Centurion, is heelwat kleiner as die vorige een, maar daar is wel ’n gerieflike musiekateljee – daar is nog báie musiek wat ek wil maak en ek gaan my nuwe vryheid skeppend gebruik.

Vroeg volgende jaar as die nuwe Noot vir Noot-reeks opgeneem word, gaan ek beslis in die ateljee wees. En ek sal ’n traan wegpink vir al die lekkertes wat daar was . . .”