27 November
Ek is so opgewonde oor Survivor SA. Ek het gisteraand 'n tribal council op die eiland bygewoon en ek kan nie wag om te sien wat volgende gebeur nie.
Die celebrities speel hard en dié wat nou nog op die eiland is, is hier om te bly en te wen.
Een deelnemer het almal in rep en roer. Hy is die een span se hero en 'n doring in die ander span se vlees (en hy veroorsaak blêrrie baie pyn vir daai span). Almal praat oor hom.
Die omgewing hier is idillies. Ek't vanoggend sowat 10 dolfyne langs ons boot gesien. Jy kan selfs sien hoe swem hulle onder die see se oppervlak - dít is hoe helder die water is!
Ek vlieg vanmiddag terug Johannesburg toe. Die res van Survivor sal ek op TV moet beleef.

26 November
Ek't vanoggend 'n groen mamba gesien op die eiland waar ons bly. Ek't so groot geskrik dat ek my hoed in die proses verloor het. Ek weet nie hoe nie, maar my hoed is weg.
Dis koeler hier vandag omdat dit bewolk is. Ek is op pad na die deelnemers se eiland om 'n immunity challenge te gaan kyk.

25 November
Ek was gister by 'n reward challenge. Dit het 'n baie lang bootrit geneem om op die verlate eiland te kom waar die deelnemers is. Teen 09:00 het dit gevoel of die temperatuur 35 °C is. Teen 11:00 het die sand my voete deur my skoene gebrand. Die arme deelnemers! Ek wil nie weet hoe hulle voel nie.

Tydens die challenge kon ek hulle net van 'n afstand af sien, maar dit het gelyk of almal nog sterk is. Daar's 'n paar opwindende en interessante deelnemers. Hulle is op 'n punt in die kompetisie waar die gemoedere hoog loop en hulle kort van draad is. Ek weet klaar wie's mý gunsteling tribe...

24 November
Ek's uiteindelik op die eiland waar ek gaan bly. Dis onmenslik warm hier. As alles goed gaan, gaan ek môre na die eiland toe waar die deelnemers is.