"Die moeilikste deel was om te praat oor wat binne die intimiteit van my huwelik gebeur het, want ek het dit nie net van die wêreld weggehou nie maar veral ook my kinders daarteen beskerm,“ vertel dié sakevrou en gewese TV-aanbieder in ‘n openhartige eksklusiewe onderhoud in SARIE se November-uitgawe.

Van buite het Janie se lewe in Europa saam met die skatryk Italiaanse multimiljoenêr Massimo Beltrami soos ‘n sprokie gelyk. Deur die jare het ons hul ervaringe  in tydskrifte gevolg – die huise, die jagtogte, die vakansies vol adrenalien en opwinding, twee seuntjies wat haar en Massimo se lewe vervolmaak het.

Nou, vir die eerste keer, ontvou die verhaal van Massimo se kokaïenverslawing wat hul gesinslewe verwoes het -- en van die uiterstes waartoe Janie gegaan het om haar huwelik te probeer red. (Sy en Massimo is uiteindelik uitmekaar nie lank nie nadat sy in 1997 met borskanker gediagnoseer is. Sy het met niks nie uit die huwelik gestap en moes van voor af ‘n lewe vir haar en haar seuns in SA kom bou).

In die jare dat sy terug is in SA het sy agtergekom daar is baie vroue wat soortgelyke situasies in hul huwelik beleef, vertel Janie in die SARIE-onderhoud. ``Dis ook hoekom ek nou daaroor praat. Dis die sielkundige aftakeling wat jou op ‘n verkeerde pad kan sit. As jy boonop soos ek geïsoleerd oorsee was, is dit nie so moeilik om te verstaan dat jy in ‘n situasie kan kom waar jy byna jou persoonlikheid verloor nie.

"Gelukkig kon ek met vriende en my ouers se ondersteuning deurdruk. Ek weet hoe dit voel om heel onder in die put te wees en daaruit te kom.“

*
Lees die volledige artikel, asook ‘n boeiende uittreksel uit die biografie Janie du Plessis: ‘n Keuse vir die lewe deur Martie Retief Meiring (Human & Roussea, R160) in SARIE se November-uitgawe met Janie op die voorblad.

* Lees ook haar blogs op sarie.com oor die Journey of Hope-motorfietsrit vir borskanker-bewusmaking waaraan sy vanjaar vir die derde keer deelgeneem het.

NUUS: Janie gaan voortaan gereeld vir ons blog – gesels saam met haar hier op sarie.com

VIDEO: DIE REVLON/JOURNEY OF HOPE SE AANKOMS IN KAAPSTAD - sarie.com was daar!