Haar week is steeds gevul met onblusbare euforie. Maandagoggend tydens registerperiode het Jonadrie van Aardt, ’n matriekleerder van Hoërskool Jan van Riebeeck, uitgevind sy is die eerste wenner van Nuwe Gesig, ’n splinternuwe afdeling van SARIE se Voorbladgesig-kompetisie.

Die pragtige blondekop, wat met albei voete ferm op die grond staan, gaan die September-voorbladster wees van ons spesiale “handsak”-SARIE. Haar mede-voorbladster is die bekende aktrise en sakevrou Leandie du Randt. Albei mooi in blou!

En dis nie al nie: Die uitgawe verskyn hierdie Vrydag op Jonadrie se 18de verjaardag!

“Alles voel soos die noodlot,” het Jonadrie vanoggend in ’n onderhoud met Radio Tygerberg se Almarie du Preez, wat in 2014 ’n finalis van Voorbladgesig was, gesê. Sy knyp haarself steeds.

En ouboet, Francois, is trots op sy kleinsus. “Hy sê alles voel soos ’n movie ... dis net onwerklik.”

Jonadrie was nog nooit bang om te waag nie en juis daaroor het sy nie twee keer gedink om in te skryf vir Nuwe Gesig nie.

Soos sy aan Almarie verklap: “Die geleentheid was daar, ek het niks gehad om te verloor nie. My hele lewe lank wil ek vir mense sê om nie bang te wees om te waag nie.”

Jonadrie, wie se rolmodel Rolene Strauss is, wil ander meisie inspireer om in hul eie drome te glo.

“Ek droom om eendag ook te inspireer. In my beroep en selfs deur my leefstyl. Om my geluk en vreugde te deel met dié wat dit die meeste nodig het. Ek droom dat my harde werk en uithouvermoë eendag iemand anders se resep tot sukses sal wees. Ek droom om ’n verskil te maak en ek droom om ander te help om dieselfde te doen...”

SARIE se Voorbladgesig en Nuwe Gesig is met trots geborg deur Isa Carstens.