Dit het met die laaste twee episodes gelyk of jy moedeloos was. Was dit omdat jy geweet het jy gaan moontlik uitgestem word?
Die speletjie het vir my belaglik geraak ná die merge, toe ons mekaar moes beoordeel van sterkste na swakste. Ons stam het so hard gewerk om die een uitdaging na die ander te wen, maar toe ek gekies is as die sterkste deelnemer, het ek gevoel al die harde werk was verniet omdat daar nou ’n teiken op my rug was. Ek was ook moedeloos toe Hanna uitgestem is. Dit was net geluk dat Louw haar gewen het. Ek kon daardie aand nie slaap nie omdat ek so kwaad was. My rug was skoon in ’n spasma die volgende dag.
Was jy voorheen ’n Survivor-aanhanger?
Ek het die eerste Survivor-reeks gekyk. Al wat ek geweet het, is om nie my kop te veel uit te steek nie. Maar ek moes hard speel nadat Christina Storm en Jub Jub besluit het om die eiland te verlaat, want toe het ons stam minder lede as Timbila gehad. Ek moes iets doen om die ‘mighty Timbila’ grond toe te bring. Dit het gelyk of jy Survivor soos ’n wêreldkampioenskap aangepak het.
Ons stam sou net die uitdagings wen as ons in mekaar geglo het. In sport moet jy die geloof hê dat jy gaan wen vóór jy kan wen. Ná ons die eerste uitdaging teen Timbila gewen het, kon ek die vuur in ons stam se oë sien. Hulle het gegló.

Het jy baie gewig verloor?
Ek het 12 kg verloor. Ek’t die meeste gewig van al die deelnemers verloor. Jis, ons het hard gewerk! Ek was gaar teen die tyd wat ek uitgestem is. Al wanneer ek stilgesit het, was die tye voor ’n uitdaging of voor tribal council. Die res van die tyd het ek gewerk. Ek kon nie my hande in die oggende oopmaak nie omdat dit seer was van al die stokkies wat ek vir die vuur gebreek het. Het jy vermoed jy gaan uitgestem word?
Alles was so deurmekaar. GiGi, Gys en Izak se name is genoem om moontlik uitgestem te word. Ek wou nie gaan nie. Selfs toe ek voor Nico gestaan het, het ek geglo ek gaan teruggaan eiland toe. Ek het gedink M-Net gaan ’n curve ball gooi en my terugsit in die speletjie. Ek mag my baard vir drie dae daarna nie geskeer het nie. Dít het my laat dink ek gaan teruggaan, maar toe was dit net omdat ek nog foto’s moes laat neem. Ongelukkig tel jou krag uiteindelik teen jou in ’n speletjie soos Survivor.
Ek wou nie ná die merge sterk voorkom nie. Met die uitdaging waar ons met ’n bal op ’n ring moes hardloop, het ek probeer verloor, maar toe die ander twee spanne verby gehardloop kom, het iets in my kop gekliek. Ek’t vir my span geskree: ‘Hardloop!’ en toe wen ons. As jy weer na daardie episode kyk, kan jy op my gesig sien ek is spyt ons het gewen. En die beloning was nog kos ook! Die ander mense was glad nie gelukkig nie. Toe ons ná die ete teruggaan na die kamp toe het van die mense vir my gevra: ‘So, was jou steak medium of medium rare’?Ek’t gedink ag, dis nou verby.
Toe jy die deelnemers vir die eerste keer op die eiland gesien het, wie het jy gedink gaan jou opdraande gee?
Ek was bekommerd oor Louw. Ek kon sien hy weet hoe Survivor werk. Gys is ook ’n man wat kan werk. Ek het besef ek moet versigtig wees vir hom. Ek was ook bekommerd oor Izak. Hy is superfiks en tien jaar jonger as ek. Watter vrou het jou verras?
GiGi. Toe ek hoor ’n stripper kom saam, het ek gedink sy gaan eerste waai.Ek’t gedink sy gaan soos ’n poppie rondtrippel, nie sonder haar grimering en skoentjies kan klaarkom nie en gaan dink al die boys sal van haar hou. Maar what a girl! Sy’t haar ding gedoen. Sy’t hard gewerk en haar sê gesê.

Wat was ’n groot uitdaging?
Om nie my humeur te verloor nie. Ek wou myself nie voor die kameras in die verleentheid stel nie. Sodra ek gevoel het ek raak kwaad, het ek iets gedoen om my aandag af te lei. Dis hoekom ek so hard gewerk het.

Wat dink jy van Izak?
Ek is mal oor Izak. Hy’s ’n goeie ou. Ek is net so mal oor Louw. Hy’t aan die heel begin, toe ons oor die duine moes loop, na my toe gekom en gesê: ‘Ek en jy. Kom ons vorm ’n alliansie.’ Kyk hoe het dinge verander. Ek wonder nou nog wat sou gebeur het as ons ná die merge saamgewerk het.

Het jy enige insigte op die eiland gekry?
Die wêreld waarin ons leef, maak ons swak. Kyk net hoe moeilik is dit om 'n dieet te volg omdat kos so vrylik beskikbaar is. Jy kan net yskas toe loop en iets uithaal om te eet. Dissipline is ’n tawwe ding. Dis die nommer-een-ding wat vandag kortkom.