Trix Vivier was al ’n towenaar se assistent. Sy’t pamflette by verkeersligte uitgedeel. As ’n reuse-koek in die Silverstar-casino ballonne uitgedeel. Smiddae balletlesse gegee en daarna tot soggens drieuur as kroegmeisie gewerk. Selfs die hele “showgirl-ding met die vere bo die kop” by Sun City gedoen.

As sy sê sy het vir jare alles gedoen, bedoel sy álles, vertel dié aktrise wat van September te sien is as Petra Potgieter in M-Net se nuwe telenovelle Legacy.

Op die stel van Legacy spot hulle reeds met “Trix the onetake wonder”. Sy lag. “Ja, ek is altyd supervoorbereid. Eerstens omdat ek my craft respekteer. Maar ook omdat ek nooit enige rol op ’n skinkbord gekry het nie, ek wéét wat die waarde van ’n werksgeleentheid is. As iemand jou vir ’n produksie kies, weet jy nie of dit weer gaan gebeur nie, ek sit alles in. Selfs ná die M-Net-reeks Trackers, die grootste rol wat ek nog gehad het, was ek vir byna ’n jaar sonder werk.”

Sy en haar man het onlangs sak en pak Johannesburg toe getrek, waar sy tot einde Maart 2021 aan die eerste seisoen van die telenovelle, bestaande uit 210+ episodes, skiet. Hul twee honde, Impi en Gustav, lê juis by haar voete in die studeerkamer terwyl ons via Zoom gesels, en op die agtergrond hoor jy die stem van haar man, midde-in sy eie aanlyn vergadering.

Sy is uit en uit ’n Kapenaar, en hul ou huis in Vredehoek in die stadskom, wat nou in die mark is, was haar hart, maar  sy glo as die lewe jou iets bied, moet jy jou nie blind hou daarvoor nie.

“Mense mis soms geleenthede omdat dit wat oor hul pad kom, dalk in ’n ander gedaante opduik as wat hulle beoog het. Ek het nog altyd gesê ek wil nie ’n sepiester word of bekend wees nie, ek wil nét toneelspeel . . . But I am going to run with this.”

Dit bly vir Trix eerste prys om onherkenbaar te wees, ’n verkleurmannetjie wat uiteenlopende rolle kan vertolk. Soos onlangs, toe ’n regisseur nie kon glo dat sy in die kykNET-reeks Waterfront (2017) die jongste dogter van akteur Dawid Minnaar (ook haar pa in Legacy) gespeel het nie. “Die regisseur het my glád nie herken nie. Ek kan nie vir jou sê hoe opgewonde dit my maak nie,” sê sy en die kort blonde poniestert op haar kop wip soos sy beduie.

Sy gesels passievol oor baie dinge – rassisme, vroueregte, werksetiek . . . en val haarself dan in die rede: “Praat ek te veel?”

Dis dié oorgawe waarmee sy dinge doen wat gesorg het dat ’n “Afrikaanse meisie van Melkbos” nou op TV-kanale in 16 verskillende lande gesien word. Trix, wat die rol van die tawwe veearts Flea in Trackers speel, kry deesdae e-posse en boodskappe van reg oor die wêreld. “Mense is mal oor die reeks, selfs die Afrikaans. Ek kry baie vrae soos: ‘What language is that?’ Suid-Afrikaanse stories is so in aanvraag. Ons dink altyd ons is te klein vir die globale verhoog, maar ons is nie.”

FOTO Jenni Elizabeth Photography

Jou karakter in Legacy, Petra Potgieter, word beskryf as woke, idealisties . . . Wat maak haar ’n uitdaging?

Petra is anders as enigiemand wat ek al gespeel het – dit was vir my ’n groot aantrekkingskrag. Sy het vele vlakke. Haar pa is ’n alkoholis wat nog herstel en letsels van die army dra, haar broer het nie eens hoërskool klaargemaak nie en haar ma is aan kanker oorlede en sy moet dan op ’n jong ouderdom die matriarg word. Ekself het my skoonma einde 2018 aan leukemie verloor – ek het vir ’n groot deel van haar siekte, tot aan die einde, na haar gekyk. Petra is ’n sake-analis met ’n meestersgraad in ekonomie, sy kon weens BEE drie jaar nie werk kry nie, haar pa is ook afgedank by Eskom. Maar ten spyte daarvan bly sy positief dat sy haarself as jong wit mens in Suid-Afrika kan herdefinieer. Al was ons generasie nie deel van apartheid nie, is dit ons verantwoordelikheid om te weet wat ons kollektiewe rol daarin was. Dis ook waar die “woke” vandaan kom. Sy weet sy is bevoorreg, sy het kos en ’n dak oor haar kop, maar daar is natuurlik baie konflik wat daarmee gepaardgaan.

Jy klink baie passievol oor die reeks.

Die reeks is geskep deur die sexyste Afrika-produksiemaatskappy wat stories vir die hele nasie skryf. Alle mense in Suid-Afrika word so eerlik verteenwoordig. Dis so cool! Daar is nou soveel gesprekke oor ras, wat dikwels vir mense ongemaklik is om te hanteer. Die storie kan gesprekke laat gebeur, of dit nou om die etenstafel is of net in jou kop.

Is jou skuif na Gauteng ’n permanente een? Mis jy die Kaap?

Ek verkies die Kaapse leefstyl, en ja, ek mis my familie. En ek is baie geheg aan my sussies, Lea [ook ’n aktrise] en Meije, wat medies swot. Maar ek is ook ambisieus en ek soek avontuur op. Ek was net 21 toe ek twee jaar vir ’n Duitse geselskap in Turkye gedans het. My ma het omtrent die horries gekry, ek was die enigste Suid-Afrikaner. Ek en my man het al in Boston, Amerika, gewoon, ons het in 2018 vir ’n maand in Tel Aviv, Israel gebly, ek het al opgetree en gereis in Afrika, ek was sewe keer in die Seychelle vir werk. Ek hou van die potensiaal om te groei as ek uit my gemaksone is. Ek het my huis in Vredehoek vinnig opgegee, maar ek het besef daar is ’n tyd en ’n plek vir alles. Soms is dit tyd om te laat gaan. “Huis” is eintlik maar hier binne jou. Die skuif is redelik permanent, maar wie weet, dalk is ons volgende jaar in Amerika. [Sy lag.]

FOTO Instagram / Trix Vivier

Daar’s opnuut belangstelling in Trackers wat oorsee begin wys het. Is jy opgewonde daaroor?

Dis tricky, want die bekendstelling in Amerika het op ’n moeilike tyd gebeur met Covid-19 en die #BlackLivesMatter-beweging. Jy wil amper uit respek vir wat in die wêreld aangaan jou daarvan weerhou om die reeks te bemark, want daar’s belangriker kwessies wat lugtyd verdien. Toe sê my man ek moenie toelaat dat dié kwessies dít waarop ek trots is, verskraal nie. Dis ’n fyn balans.

Wat staan vir jou uit van die Trackers-ervaring?

Ek moes ses of sewe oudisies doen voor die rol myne was. Ek het van die begin af besef dit is ’n eenkeer-in-’n-leeftyd-kans. Om aan ’n plaaslike storie te werk in jou eie aksent met topakteurs, ’n Finse regisseur [Jyri Kähönen] en ’n internasionale begroting, wel, dis next level. Ek was in ’n stadium twee maande aaneen van die huis weg. Ek het my foon afgeskakel, ek wou elke oomblik beleef. Sonder om te frivolous te klink, ek het ’n smakie gekry van hoe ’n Hollywood-stel voel. Woolies-happies word aangery, jy het jou eie woonwa en persoonlike bestuurder, ’n sambreel word oor jou kop gehou. Maar ernstig, die “Hollywood”-geld verseker die toerusting, stel en crew wat mens nodig het om magic te maak. Ons het op ongelooflike plekke geskiet. Ons land is só mooi. In Limpopo het dit gevoel of iemand my ingevlieg en in Jurassic Park afgelaai het.

FOTO Instagram / Trix Vivier

Jou pad as aktrise was nie maklik nie. Wat het jou laat deurdruk?

Daar’s ’n sêding, don’t act if you want to act, pursue acting if you need to act. Ek kan nie daarsonder nie. Ek het A’s op skool gekry, ek was ’n prefek, ’n regte “pliggie”, ek kon fisio word of selfs medies studeer, maar ek wou nét toneelspeel. Dis hoe ek myself uitdruk. As ek dit nie gedoen het nie, het ek dalk al ontplof, want ek dra te veel emosie in my. My pa het altyd gesê ek voel alles so stérk, soos ’n allesverterende vuur. Stories lok my. Die verbeeldingswêreld, te danke aan my ma wat ons kreatief grootgemaak het.

Julle het glo gereeld konsert gehou?

Verjaardae, Kersfees, skool-okkasies . . . alles is altyd omskep in ’n konsert met ’n opdress-tema. Liedjies, stories en toertjies was amper ’n gesinskultuur. Alles is geïnspireer deur films en hul klankbane, van Lion King tot Pocahontas. My ma het ons dikwels teater toe geneem. Ná skool is ek na die Waterfront-teaterskool waar ek geleer het om alles te doen – met dans en kinderteater kon ek tussen oudisies deur ’n lewe maak.

FOTO Instagram / Trix Vivier

Jy plaas net werkverwante goed op Instagram. Hoe voel jy oor sosiale media?

Uit ’n bedryfsoogpunt is dit ’n wonderlike tool vir bemarking, om mense te connect, as akteur of regisseur kan jy direk toets wat werk of nie werk nie. Die teenkant is dat dit jou relevant laat voel sonder dat jy eintlik iets gedoen het om relevant te wees. Sogenaamde kits-sukses, wat so onakkuraat is. By ’n oudisie wil ek nie hê iemand moet weet wie ek is omdat ek baie volgelinge het nie, maar omdat hulle my werk ken. My uiteenlopende CV moet hulle verras. Op TV moet jy die karakter sien en nie vir Trix nie. Ek sou dit nie kon regkry as ek my ontbyt, middag- en aandete op Facebook of Instagram sit of hoe ek in die gim lyk nie. Sosiale media verander heeltyd en ek werk maar nog uit wat die plek daarvan in my lewe is.

Was dit ’n doelbewuste besluit om nie oor jou huwelik te gesels nie?

Ja. Ek is van nature ’n private mens. En dis moeilik om ’n gesonde partnership in ons bedryf te handhaaf. Jy moet besluit wat behoort aan die publiek en wat nie. Jy moet jou grense trek. Dis ’n tawwe bedryf en niemand gaan jou beskerm nie. Jy moet dit self doen. Ek is nie ’n verhoudingsghoeroe nie, maar dit werk vir my. Want wat ek doen, is mal. Ek gaan vir maande aaneen weg, ek het romantiese storielyne met ander mans, ek het naaktonele in Trackers gehad . . .

Jy en Lea werk in ’n mededingende bedryf waar rolle skaars is. Hoe hanteer julle dit?

Ons is gedwing om dit in die oë te kyk, om ingestel te wees op wat jaloesie en kompetisie aan verhoudings kan doen. Ons verhouding as susters is vir ons net te belangrik. Dit het tyd geneem, maar ons het geleer om dit te hanteer, om deur moeilike gevoelens te praat. Dit bly ’n proses, maar ek kry regtig vreugde uit haar vreugde. Ons ervaar daagliks jaloesie van ons eie portuur. Dit kan lelik raak. Vriendskappe verbrokkel, mense ignoreer jou blatant, kritiseer jou werk agteraf . . . dan besef ek net hoe spesiaal ons verhouding is en ek’s dankbaar dat ons op mekaar kan staatmaak.

FOTO Instagram / Trix Vivier

Jy is ’n uitgesproke feminis. Hoe leef jy dit uit?

Om ’n feminis te wees is iets wat ek regtig leef, deur wat ek lees, hoe ek myself in my verhouding handhaaf, watter gedrag ek van ander verwag. Ek praat daaroor in onderhoude, altyd. Daar is soveel werk om te doen. Kyk net hoeveel vroue is die afgelope drie maande in ons land verkrag en vermoor. En die werk begin by die huis, by geslagsrolle, by hoe jou man en sy vriende by die braai praat. Die boek wat die grootste invloed op my lewe gehad het, is How to Be a Woman deur die Britse skrywer Caitlin Moran. My ma het dit vir my gekoop toe ek so negentien, twintig was. Daar was soveel aspekte van vrouwees wat ek nie verstaan het nie. Wat as ek nie kinders wil hê nie, maar net ’n loopbaan? Hoekom moet jy jou liggaamshare verwyder? Dit was die eerste boek wat op ’n komiese manier dinge vir my duidelik gemaak het.

 

Dis oopkop van jou ma.

My ma was nogal so. Sy het haar lewe lank geweier om grimering te dra. Sy het nooit haar hare gekleur nie. Ek het soveel respek daarvoor. Ek dra net vir my werk grimering. Ek is so gewoond aan hoe ek lyk daarsonder, ek voel nie ek moet wegkruip agter grimering nie. Dis ’n persoonlike keuse, maar vir my vel en my selfbeeld was dit ’n groot wen.

Trix is baie geheg aan haar twee jonger suster. Hier is sy saam met haar aktrise-suster, Lea. FOTO Instagram / Trix Vivier

Julle skiet nou daagliks aan Legacy – hoe word opnames deur die pandemie geraak?

Jy bly bewus van jou fisieke beperkinge omdat jy aan sekere protokol moet voldoen. Dit sit druk op jou, want daar is altyd die onderliggende vraag: Wat as ek of iemand anders siek word? Maar terselfdertyd het ek nog nooit op ’n stel gewerk waar almal so toegewyd is om dit te laat werk nie. Almal is dankbaar om weer te kan werk. TV-maak is altyd ’n spansport, maar die energie op dié stel is regtig magical, daai gevoel: Ons gaan oorwin. Covid gaan ons nie onderkry nie!

* Lees die Praat Met met Trix se aktrise-suster, Lea, in die Oktober-uitgawe van SARIE, vanaf 18 September op die rak.