Hoekom word mense so gefassineer deur die dood en al die grusaamhede in hierdie soort reekse?
Daar is 'n fassinasie met die manier hoe mense leef, want om die dood te ondersoek is niks anders as om die lewe te ondersoek nie – en ons almal kry 'n kans om te sien hoe mense regtig dink. Jy't seker al gehoor van die gesegde "gedagtes word dinge en geloof word biologie". Forensiese patologie en die ondersoeke na die dood is 'n intieme reis na hoe 'n mens sy lewe leef.

Wat presies doen 'n forensiese patoloog?
Hy of sy is 'n mediese dokter wat spesialiseer in patologie. Patologie het te make met die identifisering van 'n siekte, hetsy dit anatomies of klinies geskied. In anatomiese patologie kyk ons na weefsel en in kliniese patologie word die liggaamsvloeistowwe in ag geneem. Forensiese patologie kyk dan na patrone van beserings of siektes wat 'n skielike of ongewone dood veroorsaak.

Watter karaktertrekke maak van iemand 'n goeie forensiese patoloog?
'n Oop kop! Jy moet observeer, nie oordeel nie. Jy moet 'n raaisel kan oplos en genoeg lewenservaring hê. Jy moet al wyd geleef het! Want jy sien, om die dood te ondersoek gaan halfpad oor wat jy weet en die ander helfte oor wat jy voel. Jy moet jou gut kan vertrou.

Beskryf die proses van 'n ondersoek. In watter stadium tree jy in of praat jy met ander mense wat ook betrokke is?

Ons werk nou saam met wetstoepassers. Maar ons vra "wat het gebeur?", hulle vra "wie't dit gedoen?". En dis ons werk om namens die dood "te praat". Wanneer 'n liggaam gevind word, of iemand is in 'n huis of 'n hospitaal oorlede, word wetstoepassers ingelig. Wanneer hulle seker gemaak het dat die area veilig is om te betree, laat hulle die mediese ondersoeker weet. Hy of sy het gewoonlik 'n speurder by hulle.

Onder my jurisdiksie is daar 70 of 80 mense wat vir my werk. Hulle is my oë en ore op 'n misdaadtoneel. Hulle moet uitvind wie die persoon is, uitvind wat gebeur het – wie's die familie, wat gaan met die eiendom gebeur en of dit wel 'n misdaad is.

Wanneer dit 'n kriminele dood is, word die forensiese patoloog ook uitgeroep na die toneel. Ons moet die toneel ondersoek, ons moet oor agtergrond-inligting beskik en dan doen ons 'n lykskouing. Sonder een van hierdie ondersoek-faktore kan ons nie uitvind wat regtig gebeur het nie.

Ek't geleer om vir die mense naaste aan my te sê hoe lief ek hulle het. Want as jy elke dag met die dood te make het, weet jy hoe gou iemand van jou weggeruk kan word. – Janis Amatuzio

Jy het jou man op 'n misdaadtoneel ontmoet?
Ja, in Minnesota. Toe ek op die toneel aankom, het my kar in sneeu vasgeval en hy moes my uithelp. Hy was woedend. Maar ek neem aan hy het my registrasienommer afgeskryf, want later het hy my gebel en uitgevra vir 'n aand.

Was dit vir jou moeilik toe jy begin werk het, en het dit 'n effek op jou daaglikse lewe?
Ja, toe ek laat in die 1970's begin werk het, was die polisiemanne bykans almal mans, en hulle was nie gewoond daaraan om 'n vrou op die misdaadtoneel te sien nie. Ek't eenkeer op 'n toneel aangekom toe 'n polisieman vir my sê ek moet wegkom daar. Toe ek sê ek is die mediese ondersoeker was sy opmerking: "Wat word van die wêreld?"
Ek't geleer om met passie te leef, nie angs nie. En ek waardeer my geliefdes! Ek't geleer om vir die mense naaste aan my te sê hoe lief ek hulle het. Want as jy elke dag met die dood te make het, weet jy hoe gou iemand van jou weggeruk kan word.

Hoe ontspan jy?
Dis nogal moeilik. Ek probeer mediteer en ek woon in 'n gebied met baie bome. Ek gaan stap gereeld en bring tyd saam met my honde, perde en my man deur. Ek probeer om nie sinies te word nie en herinner altyd myself dat hierdie mens iemand se seun, dogter, broer, suster, vrou of man is – en dat hulle ook net mens is.

Wat dink jy van programme soos CSI? Kyk jy daarna of dink jy dis te onrealisties?
Ek's 'n aanhanger! Dit het die forensiese wêreld 'n hupstoot gegee. Voor OJ Simpson se verhoor in 1994 het ons programme soos Quincy en Murder She Wrote gehad. Nou's daar NCIS, CSI, Law and Order – noem maar op!

In NCIS praat die patoloog, Ducky, met die lyke. Praat jy soms met hulle?
Ja, ek doen dit! Ek's mal oor Ducky. Ek vra soms: "Nou wat het regtig met jou gebeur?"
Dan sê die jong dokters altyd: "Dokter Amatuzio, dis oukei as jy met hulle praat, maar as hulle begin terugpraat is ons weg!"

As jy enige moord in die geskiedenis kon ondersoek, watter een sou dit wees?
Die sluipmoorde op voormalige Amerikaanse presidente John F. Kennedy of Abraham Lincoln.

Skok enigiets jou nog?
Ja, dinge ruk my steeds. Ek't nie te lank terug nie 'n lykskouing op 'n jong mens gedoen wie se kop byna afgeruk is in 'n motorongeluk. Ek't behoorlik teruggesteier toe ek hom sien. Erge trauma bly vir my erg.