Die pragtige lady Sybil Crawley, gespeel deur Jessica Brown Findlay, is die jongste maar ook die rebel van die Crawley-familie, die inwoners van Downton Abbey. Sy is vurig polities en duld nie onregverdigheid nie. Sy raak glad nie betrokke by die familietwis oor erflatings nie, want sy stel net eenvoudig nie daarin belang nie.

Maar wie is Jessica Brown Findlay wat die rol van lady Sybil vertolk?

As jong meisie was dit Jessica se droom om 'n ballerina te word. En vir 'n wyle het dit gelyk asof haar grootste droom bewaarheid sal word. Ná jare se opleiding (van 8 jaar oud af) by die National Youth Ballet en die Associates of the Royal Ballet, is sy op die ouderdom van 15 genooi om tydens die somerseisoen saam met die Russiese Kirov-balletgeselskap by the Royal Opera House in Londen te dans.

'n Operasie aan haar enkel het skeefgeloop en haar dansdroom eensklaps verpletter. "Dit was hartverskeurend en ek was vir 'n lang tyd kwaad."

Dis tóé dat die drama-gogga haar byt. Met drama-opleiding op haar kerfstok het sy begin rondsoek na die perfekte rol. Lady Sybil is haar eerste TV-rol, maar sy word reeds die "volgende Keira Knightley" genoem. Volgens die tydskrif Vanity Fair is sy ook een van die nuwe talente om dop te hou.

Sy deel die Downton Abbey-stel met groot name in die bedryf – Maggie Smith as haar ouma, Violet, Dowager Countess of Grantham, asook Elizabeth McGovern as haar ma, Cora, Countess of Grantham.

"Maggie Smith se humor is heerlik droog en vlymskerp. Sy's baie pret. As daar een les is wat ek die afgelope tyd geleer het, is dat jy jouself nie so ernstig moet opneem nie."

Jessica is ook die gesig van die Britse juweliersontwerper, Dominic Jones. "Sy's 'n regte Engelse roos," sê Jones. "Sy pas perfek by die aristokratiese gevoel van die juweliersware-reeks."

Jessica Brown Findlay vir Dominic Jones

* Só het Downton Abbey dié modehuise geïnspireer:

RALPH LAUREN

TADASHI SHOJI

Die 3 Crawley-dogters van Downton Abbey

WAAROOR GAAN DOWNTON ABBEY?

Die Titanic het gesink en Downton Abbey, die prag-Edwardiaanse landgoed, sonder 'n erfgenaam gelaat. Maar 'n betreklik onbekende familielid, Matthew Crawley, is die volgende erfgenaam in lyn. Sy aankoms by Downton Abbey is beslis nie sonder drama nie. In dié moeilike tyd vir die familie sorg die personeel ook vir 'n hele paar intriges – elkeen veg om sy/haar posisie te behou in dié vinnig veranderende situasie.

KYK SAAM!

BBC Entertainment (DStv 120), elke Sondagaand om 8:30 nm.

Volg die gesprekke op Twitter. Tik #DowntonSA in die soekveld.