Sonja Herholdt mag nie verander nie. Sy mag nie groei nie.

Sy moet die Sonja bly wat in die 70’s en 80’s liedjies soos “Harlekyn” en “Ek verlang na jou” met haar fyn stem en rein dogtertjiebeeld gesing het. Dié gedagtes het soms deur Sonja se kop geflits toe sy tien jaar gelede haar CD, Reconstructing Alice, uitgereik het. Die CD – volgens haar baie soos die Amerikaanse rocksangeres Alanis Morissette se musiek – was die begin van ’n herstelproses wat ’n dekade sou duur. Ná haar egskeiding van die filmbaas FC Hamman het Sonja deur die woorde en melodieë van die liedjies begin om haar stukkende self aanmekaar te las.

Reconstructing Alice se musiek was soveel anders as die trefferliedjies waarvoor sy bekend geword het, maar Engelse radiostasies het geaarsel om dit lugtyd te gee. Sonja se beeld het net nie by die radiostasies s’n gepas nie.

Nadat ’n radio-omroeper van ’n gewilde Johannesburgse stasie na die CD geluister het, het sy gesê dis goeie musiek, maar te progressief. “Te progressief?! Vir Sonja, ja,” herroep Sonja haar frustrasie van destyds.

In haar huis in Randburg, Johannesburg, stap sy deur die seisoene van haar lewe. Dít glo sy: Jy kan nie ontwikkel en die goeie tye in jou lewe waardeer sonder die herfs- en wintertye nie. Die weerkaatsing van die son op die helder water van die swembad in die agterplaas tref jou oog elke nou en dan deur die venster agter Sonja se rug. Sy lyk jonk in ’n denimbroek en stywe, bottergeel kortmouhemp. Nes die weer daar buite, is Sonja in ’n nuwe seisoen van haar lewe: somer. “Ek moes die stukkies van my lewe ná ’n huwelik van 21 jaar optel. Dit neem tyd om deur jou emosies te werk. Vir my byna 10 jaar.”

Sy het in Mei vanjaar haar jongste CD, Pêrels, bekend gestel. Die gelyknamige liedjie is een van haar gunstelinge op die CD. Die eerste reël lees: “Ek verlang nie meer nie.” “Só gepas, want die eerste liedjie wat ek gesing het, was ‘Ek verlang na jou’. Ek het op ’n plek gekom waar ek nie meer verlang nie. Die stukkies van my lewe is nie meer so deurmekaar nie. Ek het vrede in myself gevind. Dit voel soos
’n nuwe begin. Ek tree nie af nie, ek tree op.”

Rudi Claase het die meeste van die liedjies op Pêrels geskryf. Vooraf het Sonja vir Rudi ’n paar van haar hartsgoed gegee, ook ’n Reconstructing Alice-CD en ’n DVD van haar musiek-motiveringsprogram, Hartklop van vrouwees. “Ek het vir hom gesê dis ek dié. Ek weet nie wat jy gaan skryf nie, maar my boodskap vir mense is daar’s altyd hoop. Jy kán opstaan.”

Rudi het alles uitgepak en kerse aangesteek. Die liedjie“Pêrels” het net gevloei, vertel sy. Hy’t die liedjie in tien minute geskryf. “Toe ek ‘Pêrels’ hoor, het ek hoendervleis gekry. Toe huil ek. Dis asof Rudi binne-in my siel geklim het.

“Alles gebeur op die regte tyd,” sê Sonja oor haar eerste CD in tien jaar. Sy is ook vanjaar by Huisgenoot Skouspel en by die Rapport Vonk-toekennings vereer vir haar lewenslange bydrae tot Afrikaanse musiek. En daar’s haar rol in Liefling, die movie . . .

Ons het jou 30 jaar gelede in die musiekfliek Sing vir die harlekyn gesien en nou speel jy in Liefling, die eerste Afrikaanse musiekfliek ná Harlekyn.
Toe Paul Krüger [vervaardiger] my gevra het of ek ’n liedjie in Liefling kan sing, het ek gesê dis gaaf. Maar toe Linda Korsten [medevervaardiger] my bel en sê ek gaan ’n klein rol kry as Liefling se ma, het ek gesê dis fantasies! Toe sê ek julle skryf my net nie as ’n ou ma nie. Ek wil hip wees.

Hoekom het jy tien jaar gewag met die nuwe CD?
Materiaal. Ek skryf nie self liedjies nie. Anton Goosen het in 1981 opgehou om vir my te skryf, want hy wou fokus op sy eie loopbaan. As ek vroeër die regte liedjies gekry het, was dit anders.

Vertel van Hartklop van vrouwees.
Ek bied dit aan sodat vroue kan hoor hulle is oukei en dat die manier waarop hulle cope met hul omstandighede goed is. Dis altyd iemand met ’n “naam” wat vereer word.Wat van die vrou wat haar kinders aan die lewe moet hou? Of wat kanker kry? Niemand sê vir haar hoe uitsonderlik sy is nie. Ek gee altyd aan die einde van my program erkenning aan ’n vrou in die gehoor vir wat sy vermag het.

Jy glo in narratiewe terapie – jy moet met ander oor jou lewe praat om heel te kan word?
Ons word in ’n samelewing groot waar geglo word niemand moet weet van jou probleme nie. Jy gaan mos nie groei as jy nie jou hart oopmaak en jou ervarings deel nie. Hoe hanteer jy die lewe as die mat onder jou uitgeruk word? Jy leer dit net deur iemand wat ook in so ’n situasie was, se storie te hoor. Ons hanteer dinge deur met mekaar te praat.

Watter waardes het jy jou kinders geleer?
Jy hou jou woord. As jy vir iemand gesê het jy gaan iets doen, moet jy omtrent by die dood omdraai om dit nie na te kom nie. Elkeen van hulle het ’n verhouding met die Here. Ek het hulle geleer dis waar dit begin. Wanneer jy swak is, is jy sterk omdat Hy vir jou die krag gee. My lewe was nie perfek nie, maar as ek aan my kinders dink, voel ek ek’t ’n bydrae gelewer, want ek het hulle grootgemaak om ’n aanwins vir die samelewing te wees. Dit laat my voel my lewe was die moeite werd.

Aard enige van jou kinders na jou?
Elkeen van hulle is verskillend. Claudia (28), my oudste, is ’n sonnige kind, spontaan. Ek is eerder ’n introvert. Sy is eerlik en konfronteer probleme dadelik. As grimeerkunstenaar het sy op die stel van die TV-reekse Dit wat stom is en Erfsondes gewerk. Sy gaan nou vir ’n jaar in Singapoer as grimeerkunstenaar vir die musiekblyspel Lion King werk.

Simeon (25) sing. Dis sy passie. Hy is ernstig en baie verantwoordelik, meer van ’n introvert. Hy skryf mooi liedjies, diep songs.

Jessé (23) is ’n karakter. Sy studeer binnehuise argitektuur. Sy’t ’n moenie-met-my-mors-nie-houding, maar aan die binnekant is sy sag. Jessé het al baie gedigte geskryf. Sy sing beautiful, maar sy wil nie. Sy haat die musiekbedryf.

Omdat Timmy (19) gehoorgestremd is, is hy visueel sterk. Hy’s goed in kuns en wil graag eendag animasie-werk doen. Hy was nooit in ’n skool vir dowes nie en is ook onder die tien akademiese top-presteerders in gr. 12. Dan doen hy ook akrobatiese toertjies met radiobeheerde vliegtuie. Hy’t binne drie jaar tot Springbok-vlak gevorder.

Wat is jou Kersplanne?
Gewoonlik gaan ek nie oor die Kerstyd weg nie. Dis maar altyd weens geld. Ook, as ek weggaan, moet dit iewers wees waar niemand my herken nie. Dan bly ek eerder by die huis.

Hoe lyk jou en FC se verhouding deesdae?
Goed. Tyd laat wonde heel. Jy groei deur jou seer, jy vergewe en jy gaan aan. Ons respekteer mekaar ter wille van die kinders. Ons het ook saam aan ’n musiekvideo vir my liedjie “Ons vlieg saam” op Pêrels gewerk. Ek sing dit saam met Simeon. Simeon het die video geredigeer en Claudia het die grimering gedoen. Dit was ’n gesinsding. Dit was spesiaal.

Alwyn Swart , wat saam met jou in Liefling speel, wil weet of jy teenstand gekry het van mense na aan jou oor jou biografie, Sonja, meisie van Nigel?
Daar was mense wat vies was oor wat ek geskryf het, want elkeen van ons het ons eie waarheid. Ek het dit ook pertinent gesê: Dis mý waarheid. Jurie Els was byvoorbeeld geaffronteer omdat ek geskryf het ek wou nie meer saam met hom werk nie, want ek het gevoel hy’t sy beuel te veel geblaas. Maar ek het eerlik vertel wat mý belewenis was. En dan het ek myself ook nie in die proses gespaar nie.

Jy’t ook in jou biografie vertel van die aborsie wat jy om persoonlike redes vroeg in jou huwelik ondergaan het. Wat was mense se reaksie daarop?
Negentig persent was positief. Sommige mense het ná die tyd vir my gevra of ek nie ’n standpunt vir of teen aborsie wil inneem nie.Toe sê ek nee. Ek gaan nie betrokke raak nie, want dis iets wat baie persoonlik is. Ek glo ek het in daardie stadium – of dit nou reg of verkeerd is – die beste besluit geneem. Ek gaan dit vir ewig met my saamdra, maar ek weet ek gaan my kind eendag sien.

Hoe voel jy oor die dinge wat Jurie in sy biografie, Ver van vrede, van jou sê? (Hy skryf onder meer oor Sonja wat gereeld laat was vir optredes en hoe ongemaklik hy daarmee was dat sy haar CD’s by kerke verkoop het.)
Ek het nie die boek gelees nie. Ek gaan ook nie. Dis nie vir my belangrik om te hoor wat hy dink nie. Dis sy waarheid. Ek het my eie waarheid ten opsigte van Jurie.

Alwyn wil weet wat jou raad oor verhoudings is.
Jy moet jou eie waarde besef. As jy nie selfrespek het en in jouself glo nie, gaan jy nie selfstandig in ’n verhouding wees nie. Ek glo first independence before meaningful interdependence. Dán kan ’n verhouding werk.

Ervaar jy dit in jou verhouding met Michael? (Sonja hou sy van geheim.)
Ja. Hy’s ’n ongelooflike mens. Ek vertrou hom met my lewe. Hy’t my vroueprogram saam met my ontwikkel en doen die finansies, klank en die beligting. Ons verhouding het oor ’n tydperk van 13 jaar gegroei. Ek wonder soms hoekom ek so laat in my lewe by hierdie verhouding uitgekom het, maar miskien moes ek eers tot op hierdie punt groei.

Ek het nooit geweet of dit kan werk nie, want daar is ’n groot ouderdomsverskil tussen ons. Ek is 58 en hy 40. Ons het redelik onlangs besef ons kan die pad saam stap. Voorheen was ons verhouding aan en af, tog was daar altyd ’n verstaan tussen ons. Claudia het vir my gesê: “Mamma, hy’s die beste ding wat nog met jou gebeur het.” Dit was kosbaar.

CarelF.Cronjé , wat jou biografie geskryf het, sê jy’t jou geloofsbeskouing oor die jare aangepas. Wat is die boodskap wat jy deesdae uitdra?Toe ek aan Reconstructing Alice begin werk het – Carel het die album geskryf – het ek uit my konformasieboksie begin klim. Toe ek tevore deel was van die charismatiese omgewing [Sonja was lid van die Rhema-kerk] het ek probeer om alles reg te doen.

Ek het aan my huwelik gewerk, kerk toe gegaan. My huwelik het nie gewerk nie, maar ek het aanhou probeer, want ek het geglo dit móét werk. Ek was so besig om in ontkenning te leef. Ek het ’n motorongeluk nodig gehad om my daaruit te skok. [Dit was in 1996. Van haar ribbe was gekraak en haar borsbeen, linkerenkel en linkerknieskyf was gebreek.] Toe skei ek. Jy moet eerlik wees met jouself. Ons word in boksies groot, maar jy moet op ’n punt kom waar jy jouself herkonstrueer, vir jouself in die spieël kan kyk en die waarheid leef.

Hoe voel jy oor ouer word?
Dis iets in jou kop, dis hoe jy dink. As jy jouself aanvaar en weet jy’s kosbaar, sal jy jou uiterlike mooi wil hou omdat jy jou waarde raaksien. Moenie jouself “laat gaan” nie. As dit nodig is vir Botox, doen dit. Ek het ’n vreeslike frons op my voorkop tussen my oë, so ek gebruik Botox. Ek dink net nie jy moet laf wees en jouself soos ’n pop laat lyk met niks emosie op jou gesig nie.

Jy praat baie oor die seisoene van jou lewe. Wat het jy uit die moeilike tye geleer?
Ek moes swaar tye beleef om nou empatie met mense te hê. Iemand se oë wys as hy ’n lang pad gestap het. Jy kan dit verstaan sonder dat iets gesê word. Ek het The Road Less Traveled van M. Scott Peck gelees. Hy sê die sin van die lewe is dat dit moeilik is – dis nie geld en sukses en alles wat lekker is nie – dis ’n reeks probleme wat jy moet konfronteer. Dit vat guts. Maar as jy dit regkry, groei jy geestelik. Dis
naïef om te dink die lewe moet maklik wees.