Só het Chad net voor sy vertrek aan SARIE vertel:

Hoe lank droom jy al oor die spele?
Vandat ek begin swem het toe ek agt jaar oud was. Ek het eers vir my skool geswem totdat ’n onderwyseres vir my ouers gesê het hulle moet my na ’n swemklub vat, want ek het potensiaal. Ek was mal daaroor om aan swemkompetisies deel te neem. En ek was mal daaroor om te wen!

Wat is jou verwagtinge?
Ek dink almal wil ’n medalje hê. Ek gaan alles uithaal en die Spele geniet. Ek dink ek het die beste kans om goed te vaar in die 400 m-individuele wisselslag en die 200 m-vlinderslag.

Jou sterkste eienskap as swemmer?

Ek is ontsettend hard op myself, veral as ek voel ek presteer nie goed genoeg nie. Ek gee altyd alles in elke resies, en selfs al is ek besig om te verloor gee ek nie op nie.

Watter struikelblokke moes jy al oorkom?
My ma is in April 2010 met borskanker gediagnoseer. Sy het net aangegaan met haar lewe asof niks verander het nie. Dit was swaar vir my, maar ek het aangehou om te oefen. Vandag gaan dit baie goed met haar.

Hoe hanteer jy die spanning?
Ek luister na musiek. Die spanning kan soms so erg raak dat jy ’n aaklige resies het. Dit gebeur met die beste atlete.

* Moenie ons spesiale Olimpiese Spele-artikel in die Augustus-uitgawe van SARIE (met Erica Wessels op die voorblad) misloop nie!