Armand vra: As Pa van ’n sekere ouderdom af weer kon leef, watter ouderdom sal dit wees? En as Pa in ’n sekere era kon leef, watter een sou dit wees?
Ek sal moontlik my 20’s weer wou waag, maar ai, die domheid. Ek dink Europa in die negentiende eeu was opwindend en 1938 tot 1960 in Suid-Afrika. Ek sou so graag ’n ou Austin wou ry. Of ’n DKW. Amelia van Buren- Vanderbijlpark vra: As jy oomblikke in jou lewe moet uitlig, watter het aan jou hartsnare gepluk?
Vakansies by my twee oumas aan albei kante van die familie, die een Engels (Pretoria) en die ander Boers (Brandfort), die Laerskool Hennenman, Grey-Kollege en ons huis in Bayswater (met ’n teer-tennisbaan), die weermag en vroeë dramaskooljare, my eerste band, oorsese reise,my kinders en my trane voor Matisse se La Danse in New York. Yolande Edelnsky - Vereeniging vra: As niemand naby is nie, wie is Steve regtig?
Ek woeker nie met personas nie; dis uitputtend. Ek is eintlik presies dieselfde ou op die verhoog as op die sypaadjie. Tuis is ek nogal stil. Ek is nie heeltemal seker hoe die publiek my ervaar nie, maar ek maak onderskeid tussen dié wat my ken en dié wat spekuleer oor my intensies. Erna Maree - Pretoria-Oos vra: As jy nie bekend was nie, wat sou jy gewees het?
My oorspronklike idee was omroeperswerk, omdat ek altyd van musiek en kommunikasie in albei tale gehou het. Maar ek sou seker die regte aangedurf het. Dis etiek wat my deesdae meer besig hou as liedjies. Mariska Leibbrandt - Centurion vra:
Wat was jou moeilikste vak op skool? Hoekom?
Wiskunde (32%). Ek het dit net nie met syfers nie. Anci du Toit - Johannesburg vra: Watter oorsese stad of land waar jy al opgetree het, was vir jou die interessantste of mooiste?
Calgary [Kanada], Rotorua [Nieu- Seeland] en Amsterdam [Holland]. Kombinasies van pragskoon, kultuur, geskiedenis en vars lug.