Toe gee SARIE vir ons, twee studente besig met internskappe, die geleentheid om deel van die sokkerervaring te word deur ons na die International Football Village by die Birchwood Hotel in Boksburg te stuur om die belangrike Wêreldbeker-wedstryd tussen Bafana Bafana en Frankryk te kyk. Dié ervaring het ons albei tot bekering gebring. Ons is nou skaamtelose, entoesiastiese sokkerliefhebbers!

Ons is onmiddellik gegroet deur die klanke van al die Wêreldbekerliedjies. Die atmosfeer by die village was aansteeklik. Die hele arena het gelyk soos 'n sonneblomveld met trotse Bafana Bafana-ondersteuners getooi in groen en geel. Die paar bywoners wat opgedaag het in ander lande se ondersteuningsdrag was soos onkruid tussen die patriotte. Ons was verstom hoe groot die fan park is met al die verskillende kyk-areas, van The Dutch House, Brazilian Beach Bar, Bavarian Beerhouse, Fanmile tot die Arena. Die hordes uit alle vlakke van die gemeenskap het skouer teen skouer gestaan en al die plekke was vol.

Toe die wedstryd eers begin, was daar geen einde aan die geblêr van die vuvuzelas nie. Dit het gevoel of ons by die stadion in Bloemfontein self was.

Woorde kan nie die ekstase van die ondersteuners beskryf met die aanteken van die eerste doel deur Bongani Khumalo binne die eerste 20 minute van die wedstryd nie. Almal het opgespring en gejuig vir die prestasie en óns het behoorlik hoendervleis gekry van die ander fans se opgewondenheid. Ons het nie gedink die gejuig kon nog groter wees nie, maar toe die tweede doel deur Katlego Mphela die doelhok veilig tref, was die reaksie nóg groter geesdrif as toe die eerste doel aangeteken is.

En selfs al het Bafana nié deurgegaan na die volgende ronde van die toernooi nie, het elkeen wat daar was, opgestaan en hande geklap vir die bewonderenswaardige spel deur dié span van ons. Veral teen 'n land wat in die finaal van die vorige Wêreldbeker in 2006 gespeel het.

Ons kon net nie anders as om trots te wees nie. Om te sien hoe mense uit alle groepe van Suid-Afrika saamstaan om ons land en span trots te ondersteun het ons werklik geraak. En ons gaan nou self vuvuzela blaas en ons sokkerhempies met groter trots dra!