Toe Hanli Pretorius in 2010 die eerste Suid-Afrikaner word wat gelyktydig SA rekords in al ses vryduik-kategorieë hou, het sy besef sy het die toppunt van haar loopbaan bereik.

“Ek het die wêreld platgereis. Toe ek terugkeer na my land, was ek verstom oor hoe min Suid-Afrikaners toegang tot die see het. Soveel kinders woon binne kilometers daarvandaan, maar het die see nog nooit gesien nie of kan nie swem nie.”

Sy het die I Am Water-stigting* begin saam met haar lewensmaat, die Amerikaanse swemmer Peter Marshall, om onder meer kinders bewus te maak van oseaanbewaring.

Sedertdien het hulle al meer as 5 000 kinders leer swem en snorkel en wil teen einde vanjaar nog 3 000 kinders leer. “

As ’n kind leer swem, voel hy dadelik anders oor die see, hy wil help. Die verandering op daardie gesig gee my moed.”

Sy is geskok as sy by plekke kom waar sy jare gelede geduik het en die vernietigde koraalriwwe sien. “Dit hou my snags wakker. Ons móét iets doen.”

*Die stigting fokus op gr. 7-leerlinge in kusgemeenskappe. Hulle het al 70 volwasse afrigters uit dié gemeenskappe opgelei wat vir die stigting werk. Vir meer: www.iamwaterfoundation.org