‘Toets eers die water voor jy voltyds saam werk’

Elana Afrika en Ian Bredenkamp

Dié radio-glanspaartjie het voorheen saamgewerk as aanbieders by die Kaapse radiostasie 94.5 Kfm. Ian en Elana, wat intussen bedank het by die stasie en  deesdae aanbieder is op die SABC3-ontbytprogram Expresso, het begin verlede jaar afgehaak. Hulle het deesdae saam ’n mediamaatskappy, IBMedia, en Ian is ook haar reklamebestuurder.

Omdat ons beste vriende is en baie gemeen het, voel saam werk vir my soos ’n natuurlike verlenging van ons verhouding,” sê Ian.

Elana lag. “Eintlik dink ek dit moet baie moeilik wees om saam met my te werk, want ek’s ’n perfeksionis! Gelukkig is Ian ’n goeie leier en ek leer baie by hom. Dis eintlik eenvoudig: as daar struikelblokke is, herinner ons onsself dat dit deel van die werk is. Jy moet jou emosies daaruit hou. As ons werk, dan werk ons. Wanneer dit by liefde kom, gee ons ten volle van onsself.”

Ian trek sy wenkbroue op. “Enige man sal jou vertel die geheim is om te erken  wanneer jy verkeerd is. Somtyds erken jy jy was verkeerd al was jy nie!” skerts hy.

“Die slegste deel is dat jy terugvoer oor jou werk by jou man kry. Maar die voordeel is dat hy dit doen omdat hy jou liefhet en vir jou omgee,” sê Elana.

Volgens Ian gebeur dit soms dat hulle werk huis toe neem. “Maar ons gee mekaar genoeg ruimte. Ons is darem nie heeltyd by die werk in mekaar se persoonlike ruimte nie. Elana is soggens op die Expresso-stel terwyl ek op die lug by Kfm is. Ons is seker net so twee uur van die werkdag saam op kantoor.”

Maar in daardie twee uur praat hulle net werkdinge. En hulle maak ’n punt daarvan  om nie oor persoonlike kwessies te gesels nie. Hulle waarsku wel ander pare daarteen om sommer op die ingewing van die oomblik te besluit om saam te werk. “Toets eers die water mooi voor jy voltyds daai stap neem,” sê Ian.

“Saam werk is soos gholf speel, jy moet vertrou dat as jy jou rug draai, jou gholfmaat nie met jou puntetelling sal peuter nie. En as jy iemand wil beïndruk, maar jy mis die hou, dan moet jy weer probeer – sonder om mekaar sleg te sê,” beduie Elana. “Maak dus seker jul verhouding is standvastig. As dit is, kan dit die begin van wonderlike nuwe dinge saam beteken.”

Lees ook:

*Dit klink idillies. Julle is verlief en is ’n hegte span. En nou is julle nog boonop so gelukkig om saam te werk…

Daar is baie voordele verbonde aan saam werk, beaam Hein Brand, bedryfsielkundige aan die Universiteit van Pretoria.

Elke dag leer julle mekaar op werk- én persoonlike vlak beter ken. Elke week is ’n nuwe geleentheid om jul verhouding te versterk.

“Deur saam te werk leer jy jou maat se behoeftes, ideale, verhouding met base en

kollegas, hantering van konflik en druk, etiese werksgedrag en persoonlike integriteit beter ken,” sê hy.

Maar daar is ook slaggate as jy dag én nag in mekaar se geselskap is.

“Gewone werksomstandighede het reeds sy uitdagings. Dit kan soveel meer persoonlik raak as julle boonop in ’n verhouding is. Dis dalk vir julle moeilik om saam te werk in ’n span of onder knap spertye. Boonop het julle elkeen jul eie  loopbaanaspirasies, en as dit lei tot mededinging, pleks dat jou geliefde jou drome ondersteun, kan dit spanning en konflik in jul verhouding veroorsaak.

“Wees bewus van sulke moontlike struikelblokke en wees bereid om dit te hanteer. Leer in die proses mekaar se goeie én slegte eienskappe goed ken en aanvaar dit. Volwassenheid in ’n verhouding is belangrik en gee paartjies ’n beter kans op sukses.”