• Emari Gieselbach (35) van Centurion
  • SARIE Voorbladgesig 2018 & kategoriewenner 31+
  • Kunsonderwyseres by Sutherland High School, Centurion
  • Getroud met 2 dogters
  • Matrikuleer aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool, Pretoria
  • Naskools: BEd (spesialiseer in visuele kunste), Universiteit van Pretoria
Emari verskyn op 4 verskillende SARIE-voorblaaie
Emari verskyn op 4 verskillende SARIE-voorblaaie
Emari verskyn op 4 verskillende SARIE-voorblaaie
Emari verskyn op 4 verskillende SARIE-voorblaaie

Jy’s ons 10de SARIE Voorbladgesig! Wenner van die gesogte Oktober-voorblad. Deel jou emosies.

Om op SARIE se voorblad te wees is om die lewe te vier! Ek het vanjaar 35 geword en ek celebrate die lewe.

Byna 60 000 SA vroue het al oor die jare ingeskryf vir dié wedstryd. Hoekom het jý?

Dit het altyd so aanloklik gelyk, maar ek was onseker. Toe lees ek verlede jaar se wenner Yolani Abrahams* van Ceres sê: “Wie nie waag nie, wen nie.” Dít het my aangespoor. Dankie, Yolani! Ek glo elke vrou kan iets bied deur haar lewenservaring. My ervarings en “wyshede” is nie beter as ander s’n nie, maar ek is positief en verteenwoordig die alledaagse vrou. En SARIE is ’n tydskrif vir die vroue van Suid-Afrika. Dis ék!

Emari Gieselbach

Wat definieer ’n vrou vir jou?

Jy kan ’n vrou simbolies met ’n laslappiekombers vergelyk. Sy word saamgestik uit herinneringe, gebeurtenisse, daar’s fyn borduursel, groot en klein, gekleurde en monochromatiese lappies. Elke laslappiekombers is uniek. Só ’n kombers is deel van jou erfenis, dis wat jou mens maak, dis wie jy is. Vir seker moet vroue ook hul stem dik maak oor dít wat nie kan en nie reg is nie. Ons moet saamstaan en mekaar ondersteun.

Jou beste eienskappe?

Fisiek, my glimlag en my oë. My beste emosionele eienskappe is lojaliteit, toegewydheid en hardwerkendheid. Ek glo ook jy is nooit te oud om iets nuuts aan te durf nie. Ek het vanjaar selfs vioollesse begin neem. En sjoe, ek lag ook maklik.

Emari Gieselbach

Wie het jou as kind geïnspireer?

Ek was maar nog altyd ’n dromer en het gewens dat ek onder Michelangelo se leiding kon leer skilder en skets. Ek het die groot meesters se werke nageboots. Dis al hoe jy leer – deur na te boots en dan jou eie styl te ontwikkel.

Jou droomwerk?

Om Renaissance-kunswerke in Europa te restoureer.

Emari Gieselbach, Sune Potgieter en Nelichea Richardson

Moeilikste ding wat jy nog moes verwerk?

Om my pa te begrawe. Hy is in 2010 oorlede nadat hy selfdood gepleeg het. Ons het die dag voor sy dood gestry, en ek wou die laaste sê hê; te trots om die probleem uit te sorteer. Ons het baie debatte en woordewisselings oor die jare gehad; eintlik was ons ’n copy and paste van mekaar. Maar ek wens ek het geluister. Dat ek eerder vir hom gesê het dat ek hom ongelooflik liefhet; dat hy altyd my hero sal wees. Maar ek glo hy het dit geweet ... en dat hy dit nou weet. Ek moes myself vergewe, dit verwerk, en dit was moeilik. Die lewe het interessante maniere om jou heel te maak. Nou leer ek my twee dogtertjies, Andria en Leah, om altyd éérs te luister.

Jy’s al ’n ruk getroud ...

Met my sielsgenoot, Marinus Gieselbach. Hy is my anker. Vanjaar is ons 11de huweliksherdenking en ons beplan om ons huweliksbeloftes by Elvis se Graceland Wedding Chapel in Las Vegas te hernu. Hy spot my omdat ek nie heeltemal verstaan wat sy beroep behels nie. Ek weet net dit het iets met telekommunikasie en syfers te doen. En hy’s slim!

Emari Gieselbach

As jy nou ’n gesprek met jou jong self kon hê, wat sou jy sê?

Om nie dadelik te gaan swot en met die grootmenswêreld af te skop nie. Om meer te reis. Minder te jaag. Geniet die lewe meer, ontmoet nuwe mense, drink die magic van menswees in.

Dra jy altyd jou hare kort?

Ek groei elke paar jaar my hare lank uit, dan sny ek dit weer. Ek is gaande oor elke fase van die groeiproses en die voorkomste wat met elk gepaardgaan. My kort hare besorg my die meeste komplimente, maar elke dag is ook ’n bad hair day want ek verslaap dit.

Emari Gieselbach

Jy is baie lief vir SA.

Gebore Suid-Afrikaners verstaan die dinamiek van die land. Ons het die ongelooflikste samesmelting van kulture. Ek sien dit daagliks wanneer ek klasgee. Die kinders gee my soveel hoop vir ons land. Ons het ’n reënboognasie op ons stoep. Kulturele brûe word daagliks op ’n positiewe wyse oorgesteek. Ons kan leer by ons kinders. Ek kan nie help om hierdie land met deernis lief te hê nie.

Hoe maak jy SA ’n beter plek?

Ek probeer elke dag om SA ’n beter plek te maak. Ek werk met tieners, die jeug, waar ons toekoms lê. Onderwysers het ’n reuse-invloed op ons kinders en ek gebruik die platform om ’n verskil te maak, om ’n positiewe inset in hul lewe te hê.

Emari Gieselbach, Sune Potgieter en Nelichea Richardson

Hou jy van eet?

Natuurlik! Ek neig na die soet kant en het die beste fudgeresep suid van die Sahara. Dit was my pa s’n en ek maak dit wanneer ek na hom verlang. Dis helend, tog nostalgies.

Dra jy parfuum?

Ja! Ek hou van swaarder parfuum, dit pas beter by my. Jou geur sê wie jy is. Ek kan nogal loud wees en ek glo my parfuums weerspieël dit.

Jou grootste kompliment?

Ek is in 2017 deur die departement van basiese onderwys aangewys as beste kunsonderwyseres in Kring 1. En my graad 12’s het met 89% die hoogste gemiddelde behaal. Daar is níks so bevredigend soos om ’n kind te leer en te vorm nie.

SARIE Voorbladgesig 2018 word met trots geborg deur Montblanc Lady EmblemINOARIsa Carstens AcademyKalahari en kykNET.

* Yolani Abrahams van Ceres en Nadia de Wet van Standerton het laas jaar die Voorbladgesig-titel gedeel


DEUR: DIE SARIE-SPAN

AGTER-DIE-SKERMS-FOTO’S: PHYLLIS GREEN & Estee Oberholzer/Perdeblom Photography

KONSEP EN STILERING: FANIE CRONJÉ

GRIMERING: LESLEY WHITBY & TYRON SWEENEY (OOK HARE)

HARE: KAREN VAN WYNGAARD