Daar is ’n nuwe dokter in die gange van Binneland: Dr. Maya Gosslin. Reeds met haar eerste verskyning in ongevalle stamp Maya en dr. Quinton Meyer (Ramey Short) koppe. Sy wil met alle mag bewys dat sy op meriete aangestel is. Maar dít kan dalk juis haar toekoms by die hospitaal in die gedrang bring.

Kara op die stel van Binnelanders, saam het haar is aktrises Lindsey Abrahams, Simoné Pretorius en Je-ani Swiegelaar. FOTO Instagram / Kara du Toit

Maar wie is dié aktrise as sy nie in Binnelanders speel nie? Kara du Toit, ’n boorling van Barberton in Mpumalanga. 

Die rooikop met die melkwit vel was al in die sepie 7de Laan en die komediereeks Hotel te sien. In einste programme waarin haar aktrise-vriendin Simoné Pretorius ook al was. 

Die twee ken mekaar al sedert 2009 en nou is hulle weer saam in Binnelanders – Simoné die afgelope jaar al as suster Rene Spies.

Kara en die aktrise Simoné Pretorius is al sedert 2009 vriende. FOTO Instagram / Kara du Toit

“Dis ’n groot geskenk,” vertel Kara aan SARIE.com. “Dink jou in: Een van jou gunsteling-mense op hierdie planeet is daar wanneer jy weer jou voete in die water moet steek. Sy bemoedig en stel jou gerus dat jy goeie werk lewer. En natuurlik die koppie koffie van Seattle wat sy dikwels as verrassing by die werk aanbring is alles van onskatbare waarde.”

Vir Simoné is dit ’n droom wat waar geword het. “Ek is so lief vir haar, ons ken mekaar al van 2009 af en sy was ’n strooimeisie op my troue. Dis vir my ’n droom dat ek my beste vriendin saam met my op stel kan hê. Ons is baie opgewonde.”

Kara en Simoné op stel van “Binnelanders”. FOTO Instagram / Kara du Toit

Kara, wat drama aan die Universiteit Stellenbosch studeer het, beskryf haar karakter as sterk en onafhanklik. “Sy is nie bang om hard te werk nie, juis oor sy haar aanstelling op meriete wil bewys. Sy is ook passievol oor haar pasiënte. Sy kan op haar voete dink.”

Voor Binnelanders het Kara omtrent ’n leeftyd se ondervinding buite die bedryf opgedoen. Haar honneurs in bemarking het haar toegelaat om met ’n fyn oog na die wêreld te kyk. “Ek het skoolgehou, vir ’n organisasie gewerk waar ons werkwinkels vir kinders aangebied het en  uitvoerende werwing in die korporatiewe wêreld leer ken.”

As kreatiewe siel het sy ook ’n voltydste grimeerkursus aangepak. “Ek is besonder dankbaar vir elke liewe geleentheid en vir die mense wat ek langs die pad ontmoet het wat anderste as ek dink en doen. Dit het my toegerus op ’n unieke manier.”  

FOTO Instagram / Kara du Toit

En nee, sy is nie spyt dat sy nie al vroeër in die bedryf begin werk het nie.

“Oor ek vir so lank nie betrokke was nie en ’n geruime tyd gehad het om te dink oor die bedryf, kon ek ’n klomp dinge rondom my onsekerhede uitklaar. Ek het toe met dapperheid en selfvertroue, wat ook vir my nuut was, hierdie seisoen betree. Dít en hope genade het gesorg vir ’n sagte landing waaroor ek baie dankbaar is. Dan ook is die span by Binnelanders uiters bemoedigend en ondersteunend.”

Vir Kara gebeur als met ’n rede.

In Junie 2019 het sy ’n oudisie vir ’n ander rol by Binnelanders afgelê. “Ek was baie opgewonde om te hoor dat hulle dalk ’n rol vir my sou skep, sodat ek langer in die gange van Binneland kon kuier. Ek het diep in my hart gewens en gebid vir die rol van ’n dokter. Drie maande later is ek in kennis gestel dat Maya Gosslin haar opwagting gaan maak. Ek was ekstaties!”

Kara en haar man, Jan-Louis. FOTO Instagram / Kara du Toit

Wanneer sy nie op stel is, geniet Kara dit om vriende en familie by haar en manlief Jan-Louis se huis te onthaal.

“Daar is min dinge wat my so gelukkig maak as om mense vir wie ek lief is om ’n tafel bymekaar te bring of om op die bank met ’n heerlike bord pasta neer te plons terwyl ons kuier. Ek kyk ook graag stories saam met my man en hou daarvan om saam oor die intriges te bespiegel. My broer, ’n kinematograaf, het my ook beïnvloed om dieper te kyk na die tegniese afronding van ’n produksie.”

Kara se skoonheidswenke

Die aktrise deel ’n paar wenke met die SARIE-skoonheidspan.

Jy het pragtige rooi hare. Kleur jy jou hare of is dit jou natuurlike kleur?

Ek is met aarbeiblonde hare gebore en moes aanvanklik die krullebol leer tem. Ek kleur my hare by Mélin Hair, ’n uiters talentvolle haarkapper wat koper skakerings verstaan, om die intensiteit en rykheid van my rooi kleur te lig.

Hoe versorg jy jou hare?

Ek gebruik graag ’n Marokkaanse oliemasker elke nou en dan en vermy haartange as ek nie op stel is nie.

FOTO Instagram / Kara du Toit

Hoe hou jy jou vel so mooi?

Ek is van kleins af geleer om my vel te beskerm en kom altyd ligter van die see af terug. Ek gebruik liters en liters sonskerm, maak my tuis in die skaduwee en gryp graag na ’n mooi breërandhoed.

Wat is jou skoonheidsfilosofie?

As ek eerlik moet wees, het ek ’n baie gemaklike en vergewensgesinde uitkyk ten opsigte van skoonheid. Om baie te lag, genoeg te slaap en tyd saam met my man en geliefdes deur te bring hou my gegrond en optimisties.

Kara in aksie as dr. Maya Gosslin in Binnelanders

FOTO Verskaf
FOTO Verskaf
FOTO Verskaf