Teen ’n rooi fluweel verhooggordyn in die kollig, staan Bobby van Jaarsveld en kyk in die oë van ’n blondine. Dít is die plakkaat vir die nuwe Afrikaanse musiekfilm, As jy sing. Tot dusver is die blondine net bekend as Leah. SARIE.com het haar beter leer ken.

As Jy Sing - SoundtrackDaar is iets meer aan dié 26-jarige blondine as net ’n mooi gesiggie. Dít het die musiek- en filmvervaardiger Johan Vorster vinnig agtergekom. Leah, wat naam vir haarself maak in die musiek-teaterwêreld, het verlede jaar op Rapport se voorblad gepronk toe sy as dié koerant se model van die jaar aangewys is. Johan het dit gesien en aan sy broer gesê hy soek vir sy volgende groot projek ’n meisie wat só lyk, maar wat baie talent het. Johan se broer en Leah het gemeenskaplike vriende wat weet dié blondine is ook talentvol. Drie dae later is sy opgevlieg Johannesburg toe vir ’n oudisie.

Leah as Rapport se Model van die Jaar Leah as Rapport se Model van die Jaar

Hoe kry Leah haar somerlyf? Lees hier!

Nou speel sy die hoofrol teenoor Bobby van Jaarsveld in Johan se volgende groot Afrikaanse musiekfilm, As jy sing. “Ek het baie hard gewerk en het uiteindelik my big break gekry. Ek hoop mense hou daarvan!”

Die 26-jarige blondekop sê mense onderskat haar gereeld. “Baie mense dink ek is dom en wil bo-oor my loop. Maar ek is glad nie ’n poppie nie! Ek hou van kaalvoet wees en wil vuil raak. Ek wil ook my graad uitpluk en vir hulle wys. Sodra ek begin praat, bewys ek hulle verkeerd.”

Leah het BComm Regte aan die universiteit van Stellenbosch studeer voordat sy na die Waterfront Teaterskool is om haar droom van sing, toneelspeel en dans na te streef. “Ek wou altyd Stellenbosch toe gaan, en ek is bly ek het – ek het my beste vriende en my toekomstige man daar ontmoet. Maar op ’n punt het ek besef ek is in die verkeerde rigting.”

Sy het voordat sy die rol van in As jy sing losgeslaan het, hard gewerk om haar naam tussen die groot name te vestig. Sy speel in advertensies, tree op in musiekblyspele en is ’n agtergrondsanger vir die Suid-Afrikaanse popster Toya DeLazy.

Leah oor As jy sing

“Ek was bietjie op my senuwees vir my eerste dag op stel. Ek was tussen al die groot name en ek wou die beste doen wat ek kan. Maar dit was soveel pret! Toe André Odendaal (die regisseur) ‘aksie’ skree, tóé pomp die adrenalien. Ek het dadelik geweet ek gaan heeldag glimlag.”

Leah as juf, Elize de Bruin Leah as juf. Elize de Bruin

“Ek het probeer om rustig te wees, maar as ek op my senuwees raak, begin ek baie praat. Ek moes leer om te fokus en in karakter te kom. Al die ‘sterre’ was gelukkig so normaal en ons het baie goed oor die weg gekom. Ons was een groot familie op die stel!”

Leah speel juf. Elize de Bruin, die fisioterapeut en sportonderwyser. Sy moet mnr. Conradie (Bobby) se aandag by ’n sangkamp aflei sodat sport, eerder as die kunste, meer aandag by die skool geniet. Maar dan begin sy werklik iets vir hom voel …

“Dis ’n heerlike karakter om uit te beeld, want sy is baie veelsydig. Sy is wel baie fikser as ek! Daar is baie van die karakter in my, veral die sterk ambisie, maar ons doen dinge op baie verskillende maniere.”

“Bobby is ’n fees en ’n groot talent. Dit was ongelooflik om teenoor hom te speel. Ons was baie opbouend en motiverend teenoor mekaar en kon ook lekker lag. Een van die snaaksste oomblikke op stel was toe hy my moes optel, maar my per ongeluk laat val het. Ook voordat ons ’n soen-toneel moes skiet, het ek altyd gesorg dat my asem lekker ruik en my lippe sag is. Ek dink ons was ewe nervous daaroor!”

Leah en Bobby op stel Leah en Bobby op stel

Leah het self nog nie die film gesien nie en sien dit saam met lesers vir die eerste keer môre-aand, 5 November, by die première. (Lees meer oor die première hier!)

Leah oor Leani

Leah LeaniLeah is die verhoognaam van Leani Ekermans (binnekort Van Niekerk) en sy het in Bellville grootgeword. Vroeg reeds het sy op haar ma se koffietafel gedans en klavier gespeel terwyl haar pa haar ‘konserte’ moes afneem.

Dit was toe iemand vir haar sê dat sy dit nooit in die vermaaklikheidswêreld sal maak nie, dat sy besluit het om hulle verkeerd te bewys. Sy het tydens haar studies by die teaterskool in die aande gewerk en na soveel oudisies moontlik gegaan.

“Dit is ’n moeilike bedryf en dit is nie maklik om altyd gemotiveerd te bly nie. Ek is gelukkig baie oopkop en het vroeg besef in dié bedryf moet jy jou perspektief verander. As jy nie die rol kry nie, is dit nie vir jou bedoel nie. Iemand anders gaan dit beter doen en die regte rolle gáán na jou kant toe kom. Dit help ook natuurlik dat ek ’n baie goeie ondersteunersnetwerk het en dat ek ’n groot passie daarvoor het!”

Sy gaan volgende jaar haar eerste solo-album vrystel. Johan Vorster se platemaatskappy, Johan Vorster Songs, is ook betrokke hierby. “Dit is vars, nuwe musiek en is ’n hele nuwe rigting as waaraan mense gewoond is. Ek en Johan deel gelukkig dieselfde visie, so dis baie maklik om dít saam met hom aan te pak.”

Het jy geweet?

Die een ding van jou wat mense altyd verras? Ek is baie sterker as wat ek lyk...

Gunsteling-drankie: Steri Stumpies

Wat inspireer jou? Musiek en my ma

Rolmodel in die vermaakbedryf: Anna-Mart van der Merwe en Laurika Rauch

Grootste droom: Om ons volkslied te sing by ’n  Springbok-toets en om in die Royal Albert Hall op te tree.

Gunsteling-gesegde: Hou jou voete op die grond en reik na die sterre