"Dit voel of jy weer van vooraf kinders grootmaak. Dit is net lekker, van begin tot einde. My dogter, Anice, het Arno met ’n vaste roetine grootgemaak, so hy is maklik. Ek wys dikwels vir hom foto’s van sy ma en pa, en as Erwin op die plaas kom kuier, is hy baie opgewonde.

Hy begin nou praat en sê ‘Mamma’ en ‘Pappa’. Dit is soms byna hartseer om te sien hóé goed hy aanpas. Dikwels is hy dae lank by die hospitaal en dit kan nie vir hom maklik wees nie, maar dis asof hy verstaan dat hy maar net sy beste voetjie moet voorsit.

Ek het ’n ongelooflike man, as jy ’n span is, trek twee die wa. Die Here loop ’n pad met ons gesin. Hy hou ons sterk. As die ‘af’ oomblikke kom, dan huil ek so ’n paar trane, en besef ek kan Sy hand neem óf ek kan alleen staan.

Die mense se gebede dra ons ook. En die hospitaalpersoneel is ongelooflik – van skoonmakers, die sekerheidsmense tot die dokters.

Anice is baie sterk, maar as sý ‘af’ is, dra ek haar en andersom. Sy is nog mý ‘baba’. Ons is baie na aan mekaar. Ek het haar as kind al geleer: Maak die beste van elke dag, maak tyd vir mense, vergeet van die televisie, gee mekaar nét liefde en kyk altyd boontoe! Ons is ’n bevoorregte gesin.

Ek weet Pippie gaan heel teruggegee word. Die Here maak klaar wat Hy begin. Kyk net al die wonderwerke wat reeds elke dag met haar gebeur. Dis net liefde wat ons staande hou.”

* Pippie het daardie aand derdegraadse brandwonde oor sowat 80 persent van haar lyfie opgedoen nadat ’n bottel vuuraansteekmiddel in haar pa, Erwin, se hande ontplof het.