Die nuwe Afrikaanse trefferfliek Klein Karoo vaar op die oomblik beter by die loket as dié jaar se Oscar-benoemde films. Klein Karoo het in sy openingsnaweek (1-3 Februarie) beter gedoen as Steven Spielberg se Lincoln wat ook toe begin draai het. Meer mense het ook in dié naweek na Klein Karoo gaan kyk as na Life of Pi, Les Misérables, Argo of Django Unchained.

En die akteur Tim Theron is die aantreklike held van dié moet-sien film.

Alhoewel Tim ’n draai in die korporatiewe wêreld na sy studies by Pukke gemaak het, het hy altyd geweet: in die kreatiewe wêreld wil hy wees en storie-vertel is wat hy wil doen.

“Ek is ’n storieverteller. Maak nie saak waar ek betrokke is nie. Dit is hoe ek myself sien, ek wil mense intrek met stories,” sê dié entoesiastiese akteur, vervaardiger, komediant en leraar.

Tim speel die rol van Frans Coetzee, die manlike hoofrol in die film Klein Karoo wat op die oomblik in teaters draai.

Tim was van die begin af by dié film betrokke. Hy het nog altyd daarvan gedroom om ’n film te gebruik om ’n storie te vertel. Hy het saam met die ander vervaardigers, Cobus van den Berg en Jorrie van der Walt, begin idees uitruil om die regte storie vir ’n film te kry.

“Ons wou ’n romantiese komedie maak omdat dit ’n lekker genre is. Ons wou ook ’n goed-voel-storie vertel en iets maak waarna die hele familie kan gaan kyk.”

Só het die idee van Klein Karoo begin – in die kreatiewe spasie tussen 3 vriende.

Klein Karoo vertel die storie van ’n onderwyseres (Donnalee Roberts) wat met alle mag en mening ’n sentrum by ’n  plaasskooltjie wil oprig om ’n veilige hawe vir kinders te bied. Maar dié stukkie grond is te koop en nie een van die moontlike kopers, nie eens haar eie verloofde (Hykie Berg), stel belang in dié projek nie. 

Maar wanneer Frans Coetzee opdaag, is daar 'n onmiddellik aantrekking tussen hom en dié mooi onderwyseres.

Klein Karoo

Etiene Fourie, ’n jong skrywer het vir hulle die draaiboek geskryf nadat die ervare regisseur Regardt van den Berg (Hanna Hoekom, Hansie) hom aanbeveel het.  

“Ek is bly ons kon ander ook ’n kans gee om ’n eerste te hê. Dit was ook my eerste groot rol in ’n film en ook my eerste groot vervaardigingswerk,” sê die 32-jarige Tim.

Tim is nie heeltemal onbekend aan Afrikaanse gehore nie. Hy is deel van die improvisasie-komedie-groep, Lagnes wat ook hul eie program op kykNET gehad het en by talle feeste optree. Hy het ook in die Afrikaanse reeks Vloeksteen gespeel.

Ons vra vir Tim

Hoe was dit om saam met Donnalee te werk?

“Fantasties! Sy het so baie entoesiasme en opgewondenheid na die stel gebring. Sy was ernstig oor haar woorde leer en wou eers saam repeteer voordat ons 'n toneel verfilm. Dit het my gehelp om my aandag op die toneelspel te vestig, omdat ek ook my vervaardigershoed aangehad het. Sy het die beste uit my gebring.”

Wat was ’n snaakse oomblik tydens die verfilming?

“Die dam waarin ek moes duik vir een van die tonele was ysig! En dan moet ek vir Donnalee saam met my invat. Dit was so koud ons kon nie asem kry om die dialoog te sê nie! Maar ons moes maar in die water bly totdat ons gewoond was daaraan. Daarna moes ons met ons koue lywe buite gaan lê vir die volgende toneel. Dit was vir die ander mense baie snaaks, maar op daardie stadium het ons net koud gekry!”

Hoe voel jy oor die goeie reaksie op Klein Karoo?

“Ons is stomgeslaan en baie dankbaar! Klein Karoo is soos ons eerste groot liefde wat ons altyd sal onthou. Sy is nie ons laaste nie, dalk ook nie ons beste nie – want ons het so baie geleer – maar sal beslis altyd spesiaal wees. Ons is so bly dat ander ook op haar verlief geraak het.”